South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1991 >>
[1991] ZASCA 158
| Noteup
| LawCite
S v Saban en 'n Ander (438/90, 7/91) [1991] ZASCA 158 (25 November 1991)
Download original files |
438/90
7/91
/mb
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
MOGAMAT SABAN 1ste APPELLANT
MARK ATTWOOD 2de APPELLANT
en
DIE STAAT RESPONDENT
CORAM :NESTADT, GOLDSTONE ARR et KRIEGLER WndAR
VERHOORDATUM :15 NOVEMBER 1991 LEWERINGSDATUM: 25 NOVEMBER 1991
UITSPRAAK
KRIEGLER WndAR
1.
KRIEGLER WndAR:
Die twee appellante het in die Kaapse Provinsiale
Afdeling as beskuldigdes nrs 1 en 2 onderskeidelik tereggestaan op verskeie
aanklagte.
Ene Ryan Solomons was beskuldigde nr 3. Die eerste aanklag was een
van moord, die tweede en derde was aanklagte van roof met verswarende
omstandighede en die vierde 'n aanklag van poging tot verkragting. Twee
addisionele aanklagte (die onwettige besit van 'n vuurwapen
en van ammunisie) is
1ste appellant alleen ten laste gelê. Hy is aan al ses aanklagte skuldig
bevind en sy twee medebeskuldigdes
slegs aan die twee aanklagte van roof, in die
geval van tweede appellant met verswarende omstandighede. Weens die
skuldigbevinding
aan moord is 1ste appellant die doodvonnis opgelê.
Terselfdertyd is hy gevonnis tot 'n effektiewe 14 jaar gevangenisstraf weens
sy
skuldigbevinding aan die ander vyf aanklagte. Tweede
2/...
2.
appellant se vonnis op die twee roofaanklagte, saamgeneem, was 12 jaar
gevangenisstraf. Die eerste appellant wil sy skuldigbevinding
aan moord en die
gepaardgaande doodvonnis in hoër beroep bring terwyl 2de appellant slegs
teen sy vonnis wil appelleer.
In beide gevalle gaan die voortsetting van die
appèl mank aan tekortkominge wat ter aanvang oorweeg moet word met die
oog op
moontlike kondonasie. Eerste appellant was uit hoofde van die bepalings
van art 316A(1) van die Strafproseswet nr 51 van 1977 (soos
ingevoeg by art 11
van die Strafregwysigingswet nr 107 van 1990) geregtig om sonder verlof na
hierdie hof te appelleer teen die betrokke
skuldigbevinding of vonnis; kennis
van appèl moes egter binne 21 dae na oplegging van die vonnis aan die
griffiers van beide
hierdie afdeling en die Kaapse Provinsiale Afdeling gegee
gewees het. Betydse kennis is wel aan die Provinsiale Afdeling gegee maar
daar
is versuim om die nodige
3/...
3. kennis ook aan die griffier van hierdie afdeling te gee. Toe die
fout kort daarna agtergekom is, is 'n aansoek om kondonasie van
die versuim,
gerugsteun deur 'n beëdigde verklaring, en 'n afskrif van' die kennisgewing
van appèl aan die griffier van
hierdie hof laat toekom. Luidens art
316A(1) kan 'n tydsverlenging vir indiening van die kennisgewing van
appèl om "gegronde
redes" toegelaat word en die pertinente vraag is of
dié in 1ste appellant se geval bestaan.
Ofskoon die beskikbare
gegewens bra karig is, is kondonasie by die aanvang van beredenering van die
appèl (en met instemming
van die staatsadvokaat) verleen. Daar is met
bekwame spoed gepoog om die aanvanklike fout reg te stel terwyl daar geen
benadeling
of ongerief vir die teenparty of die hof was nie. Daar was wel betyds
'n kennisgewing van appèl geliasseer en die tekortkoming
slaan op slegs
een van die twee aangewese griffiers. Bowendien sou weiering
4/...
4. van kondonasie net meebring dat die juistheid van die
skuldigbevinding en die gepastheid van die doodvonnis tog ooreenkomstig die
bepalings van sub-artikels (4J tot(8) van art 31 6A oorweeg moet word. Laastens
is 'n doodvonnis te ene male so 'n onoortreflike
uiterste dat onagsaamheid aan
die kant van 'n regsverteenwoordiger nie ligtelik in die weg van herbesinning
daaroor sal staan nie.
Die wetgewer het immers op verskeie wyses deur Wet 107
van 1990 'n nuwe benadering tot die oplegging van die doodstraf ingelui.
Enersyds
is 'n realistiese alternatief daarvoor geskep, naamlik werklik
lewenslange gevangenisstraf (kyk arts 3 en 18 en die bespreking in
S v
Mdau [1990] ZASCA 126; 1991 (1) SA 169(A) op 176 D - 177 C); terselfdertyd beperk die
vervanging van art 277 van die hoofwet by art 4 van die Wysigingswet die
oplegging van
die doodstraf tot uitsonderlik ernstige gevalle (kyk S v
Senonohi [1990] ZASCA 93; 1990 (4) SA 727(A) op 734 E -H; S v Nkwanyana and Others
[1990] ZASCA 95; 1990 (4) SA 735( A) op
5/...
5. 745 E - G); boonop is daar by arts 11, 13, 14, 15 en
19 van die
Wysigingswet ruimskoots voorsiening gemaak vir herbesinning oor 'n
opgelëgde doodstraf. 'n Doodvonnis word nou alleen
voltrek waar die
uitsonderlike erns van die geval selfs lewenslange gevangesetting onvanpas maak
- en dan slegs ná uitputtende
heroorweging deur beide die uitvoerende en
die regsprekende gesag. Afwysing van 1ste appellant se aanspraak op hoër
beroep vanweë
prosessuele tekortkominge was gevolglik nie aangewese
nie.
Met 2de appellant is dit egter heel anders gesteld. In sy geval is daar
geen formele aansoek om kondonasie nie. Met verlof van die
verhoorhof is
appèl teen die vonnis van 12 jaar gevangenisstraf aangeteken. Die
griffier van hierdie hof het tydige kennis
aan 2de appellant se
regsverteenwoordigers gegee dat die nodige betooghoofde laatstens 26 Junie 1991
ingedien moes word. Bykans vier
maande later en skaars 'n week voor
6/...
6. die verhoordatum, naamlik op 5 November 1991, word" die
betooghoofde ingedien. Vanselfsprekend was daar toe geen tyd vir die Staat
om
submissies by wyse van betooghoofde te kenne te gee nie. Gevolglik moes die hof
sodanige voorafbystand ontbeer. Nietemin het adv
Theron by die aanhoor van die
appèl namens die Staat geen beswaar teen kondonasleverlening geopper nie
en die hof van nuttige
betoog met betrekking tot 2de appellant se vonnis
bedien.
Daar is in die oorkonde geen gefundeerde grond van bevraagtekening
van die verhoorhof se uitoefening van sy straftoemetingsfunksie
te bespeur nie.
Tweede appellant was op ouderdom 28 jaar reeds 'n geharde misdadiger met tien
vorige veroordelings waaronder twee
vir roof met wapenbedreiging en agt met 'n
oneerlikheidselement. Ondanks die feit dat hy op borg verhoorafwagtend was op
die onderhawige
ernstige aanklagte het hy heengegaan en huisbraak en
diefstal
7/...
7. gepleeg. Daarvoor is hy tot 3 1/2 jaar
gevangenisstraf
gevonnis. Die geleerde verhoorregter het kennis geneem
van
sodanige vonnis en dit uitdruklik in gedagte gehou
by die besinning oor 'n
gepaste vonnis in die
onderhawige saak. Die huidige misdade was dan
ook
besonder ernstig - 'n rowerbende oorval met 'n vuurwapen
'n weerlose
paartjie en stroop hulle van hul besittings.
Daarby het 2de appellant 'n
aktiewe rol gespeel as
volwaardige mededader. Die stewige vonnis waarop
die
verhoorregter besluit het, kan dus nie as inherent
oordadig beskou
word nie. Ook is daar in die
vonnismotivering geen mistasting aan te meld
nie.
Bygevolg sal tweede appellant se aansoek om kondonasie
afgewys
word.
Die feiteraamwerk waarbinne 1ste appellant se appèl oorweeg moet word, is soos volg. Vrydagaand 13 Maart 1989 gaan parkeer mnr Samiegh Davids ("die oorledene") en sy jong vriendin, mej Mymona Davids
8/...
8. ("die klaagster"), in 'n geleende Ford Sierra motorkar in 'n
donker en afgeleë plek op 'n gruispad langs 'n sportterein in
die Kaapse
Skiereiland. 'n Rukkie later word hulle daar aangeval deur drie booswigte,
naamlik 1ste appellant, 2de appellant en beskuldigde
nr 3. Eerste appellant gooi
'n baksteen deur die bestuurdersruit van die kar, klim in en hou oorledene en
klaagster aan met 'n 7,65
mm pistool terwyl 2de appellant en beskuldigde nr 3
hulle beroof. Na 2de appellant en beskuldigde nr 3 reeds die misdaadtoneel
verlaat
het en terwyl oorledene en klaagster in die kar sit, skiet 1ste
appellant die oorledene 'n doodskoot deur die kop. Eerste appellant
en die
klaagster verlaat daarna die voertuig, stap 'n ent met die gruispad, draai in 'n
oorkruisende teerpad en 'n rukkie daarna
beveel appellant die klaagster om haar
uit die voete te maak. Sy hardloop na 'n nabygeleë woonhuis waar sy alarm
maak. (Op 'n
stadium het 1ste
9/...
9.
appellant ook gepoog om die klaagster te verkrag maar sien af van sy
voorneme. Presies wanneer dit sou plaasgevind het, was in geskil.)
Eerste
appellant haas hom na 2de appellant se huis waar hulle twee en beskuldigde nr 3
die buit deel. Eerste appellant gaan toe huistoe
waar hy die pistool, gelaai met
ses patrone, en 'n bykomende magasyn met 7 patrone in plastiek toedraai en in
die tuin begrawe. Intussen
het die polisie met klaagster na die misdaadtoneel
gegaan waar hulle die oorledene se lyk op die agtersitplek van die motor
aantref.
'n Patroondoppie (later ballisties verbind met die vuurwapen wat
appellant begrawe het) en die baksteen word binne die kar aangetref.
Sowat vyf
weke later word die drie boosdoeners aangekeer op aanklagte van moord en roof.
Iedereen maak kort daarna 'n verklaring
voor 'n landdros. Eerste appellant s'n
lui so:
10/...
10.
"Ons drie wat in die saak betrokke is, was oppad Gatesville toe. Ons het daar gekom. Die plekke was toe daarso. Ons het teruggekom - En so het ons die vehicle gekry met die persone in. Ons het besluit om hulle te roof. Ek het by die drivers side gegaan. Ek het 'n pistool in my hand gehad en 'n klip. Ek het die venster ingegooi. Die deur oopgemaak. Die agterdeur oopgemaak. My vriend het ingeklim. My ander vriend het anderkant omgegaan na die passenger side. Die deur was oop. Ons het hulle geroof van hulle ringe en horlosies. My een vriend het die handsak gevat en hulle twee is weg. Ek was nog altyd in die kar. Ek het my een vriend se naam geskree. Hulle het weggehardloop. Toe ek skree op sy naam toe gryp die man die hand waarin ek die pistool het. Ek en hy het gestoei. Die pistool het afgegaan. Ek het die meisie gevat wat in die kar gewees het. Sy het saam met my geloop tot by die teerpad. Net daar het ek haar gelos en ek is toe terug na my vriende toe. Daar het ons die geld, die ringe en die horlosies gehad. Daar het ons besluit hoe gaan ons maak. Daai is die verklaring."
Later gaan grawe hy die vuurwapen en ammunisie vir die polisie op. By 'n uitkenningsparade word slegs 1ste appellant deur klaagster uitgeken.
By die aanvang van die verhoor op 20 Augustus 1990 pleit appellant onskuldig aan moord maar wel
11/...
11.
skuldig aan strafbare manslag. Hy pleit ook skuldig aan roof en poging tot
verkragting op die klaagster maar ontken die roofaanklag
met betrekking tot die
oorledene; hy pleit ook skuldig aan die onwettige besit van die pistool en 14
patrone. Appellant nr 2 en beskuldigde
nr 3 pleit onskuldig aan al die
aanklagte. Sonder teenstand van hulle kant handig die Staat egter hul
buitegeregtelike verklarings
in waardeur elkeen hom aan die rooftog
verbind.
Afgesien van perifere getuienis, berus die Staatsaak op die
getuienis van die klaagster. Sy is 'n intelligente en opgevoede jong dame
wat
grafies en betreklik welsprekend die noodlottige aand se gebeure beskryf. Eerste
appellant, die enigste beskuldigde wat dit goed
gevind het om die getuiebank te
betree, is deur die verhoorhof getipeer as 'n "powere getuie". (Te oordeel na
die oorkonde is dit
geen onbillike tipering nie.) Waar sy weergawe dan bots met
dié van die
12/...
12.
klaagster is laasgenoemde aanvaar.
Die kardinale opslg waarin klaagster en 1ste
appellant se onderskeie weergawes bots, slaan
op die
afvuur van die noodlottige skoot. Volgens die klaagster het al drie
die rowers op 'n stadium die kar se kattebak probeer oopmaak;
1ste appellant
soek toe na die kar se sleutels, vind dit in die aansluitslot en gelas die
oorledene om uit te klim en die kattebak
oop te maak. Kort ná die
oorledene onverrigtersake weer op die agtersitplek plaasgeneem het, steek 1ste
appellant sy bolyf
deur die stukkende bestuurdersruit. Hy rig toe die vuurwapen
op haar waar sy in die linkervoorsitplek sit en vra wie hy eerste moet
skiet.
Die oorledene, wat vooroor sit op die sitplek agter haar met sy linkerarm op
haar rugleuning, smeek 1ste appellant om hulle
te laat aangesien hulle reeds van
al hul besittings beroof is. Eerste appellant rig daarop die vuurwapen op die
oorledene en trek
koelbloedig die
13/...
13. skoot af.
Eerste appellant se weergawe is" dat nog hy
nog die oorledene op enige stadium die voertuig verlaat het. Hy het aanvanklik op die voorsitplek gaan sit en het steeds daar gesit toe die skoot afgaan. Sy rug was teen die stuurwiel en sy voete buite die oop deur. Die vuurwapen in sy regterhand het gesteun op die rugleuning en was gerig op die oorledene. Hy hoor sy makkers weghardloop, wend sy aandag af van die oorledene en roep dat hulle vir hom moet wag. Skielik voel hy die oorledene se twee hande om sy regterhand klem; hy ruk terug met sy vinger op die sneller en die skoot gaan onwillekeurig af.
Die verhoorhof aanvaar die klaagster se weergawe, verwerp diê van die 1ste appellant en beslis dat die doodstraf die gepaste vonnis is vir die aldus bevonde berekende en koelbloedige moord.
Uiteraard staan die verhoorhof se bevinding
14/...
14. aangaande die omstandighede
waarin die skoot afgevuur is sentraal wat betref die skuldigbevinding aan moord
en die toepaslikheid
van die doodvonnis wat dientengevolge opgelê is. Met
betrekking daartoe was die verhoorhof se algemene benadering dat die klaagster
óf die waarheid praat óf lieg. Daarby aansluitend word bevind dat
die gebeurtenisse onvergeetlik in die klaagster se
geheue ingeprent is.
Aangesien die klaagster geheel geloofwaardig en 1ste appellant geheel leuenagtig
bevind word, volg die konklusie
dan dat haar weergawe van die fatale insident
die korrekte is. Daar is eers gelet op die benadering tot 'n enkelgetuie soos
uitgestip
in die bekende opmerkings van Diemont AR in S v Sauls and
Others 1981(3) S A 172(A) op 180 C - G. Vervolgens is geboekstaaf dat
klaagster "h baie goeie indruk as 'n getuie op die Hof gemaak" het
en dat haar
getuienis aanvaar kon word: "Sy praat óf die waarheid 6f sy lieg oor
heelwat van die gebeure ... As haar
15/...
15. getuienis nie aanvaar word nie, kan ons ook nie glo dat daar
geen poging aan die kant van die oorledene was om die vuurwapen te
gryp nie. Ons
kan egter nie bevind dat sy oor hierdie aspekte leuens vertel nie." Daarna volg
verdere gunstige bevindings oor klaagster
se eerlikheid, h bespreking van die
waarskynlikhede wat betref perifere geskilpunte en dan die slotsom dat 1ste
appellant die noodlottige
skoot doelbewus afgevuur het "dat hy die direkte
bedoeling gehad het om die oorledene te vermoor." Daarby aansluitend word tydens
vonnismotivering onder andere die volgende bevindings ten aansien van
verswarende faktore gemaak:
"(k) Hy het teruggekom om hulle verder te terroriseer, soos ek gesê het, deur die vuurwapen eers op mej Davids te rig.
(1) Hy het toe gesê, en dit is die mees verswarende faktor van alles, wie moet hy eerste skiet, mej Davids of die oorledene.
(m) Alhoewel die oorledene hom toe gesoebat het om hulle te los, want in daardie stadium het
16/...
16.
die beskuldigdes alles geneem wat die oorledene en mej Davids by hulle gehad het, het beskuldigde 1 nogtans die oorledene doelbewus en koelbloediglik doodgeskiet."
Die kennisgewing van appèl gee in die aanhef te kenne dat "die basis van die skuldigbevinding en die doodvonnis" bevraagteken word terwyl aangedui word dat die verhoorhof gefouteer het deur te bevind:
"1. Dat Appellant se weergawe omtrent die volgorde van en die wyse waarop die moord en verkragting plaasgevind het, bo redelike twyfel vals is op grond van die enkelgetuienis van MEMONA DAVIDS.
2. Dat die verswarende faktore tydens die
pleging van die misdade swaarder weeg as die
versagtende faktore en die doodvonnis
gevolglik 'n gepaste vonnis is."
Nietemin is daar in die betoogshoofde namens 1ste appellant geen submissies gemaak ter ondersteuning van sodanige bevraagtekening nie. Vanselfsprekend was
17/...
17.
daar van die kant van die Staat geen oorwoë teenbetoog nie. Adv
Theron het egter op staande voet insette gelewer waardeur dié
suiwere
regspleging bevorder is. Daarvoor asook vir die ewewigtigheid van sy submissies
moet dank betuig word.
Die kernvraag is natuurlik of daar bo redelike tywfel
bewys is dat die klaagster se relaas dat 1ste appellant koelbloedig die fatale
skoot afgevuur het wel die objektiewe waarheid is. Ondanks die verhoorhof se
gunstiger posisie wat betref beide geloofwaardigheid
van getuies en die opweging
van waarskynlikhede (Rex v Dhlumayo and Another 1948 (2) SA 677 (A)), kan
sy benadering tot die kernvraag nie ondersteun word nie. Weliswaar is die
relatiewe eerlikheid van die twee teenoorgestelde
weergawes van groot belang;'
ook kan geen fout gevind word met die verhoorhof se evaluering van die twee
getuies se eerlikheid nie.
Voordat daar egter 'n bevinding
18/...
18. aangaande die objektiewe waarheid van die een relaas en die
valsheid van die ander bereik word, moet nie net eerlikheid oorweeg
word nie
maar ook - en meer besonderlik - betroubaarheid. Die welbekende opmerkings van
Wessels A.R. in National Employers Mutual General Insurance Association v
Gany 1931 A.D. 187 op 199 moet nie misverstaan word nie. Dit lui so:
"Where there are two stories mutually destructive, before the onus is discharged, the Court must be satisfied upon adequate grounds that the story of the litigant upon whom the onus rests is true and the other false. It is not enough to say that the story told by Clark is not satisfactory in every respect. It must be clear to the Court of first instance that the version of the litigant upon whom the onus rests is the true version, ..."
Wat bewys moet word, is die waarheid van die bewyslasdraer se weergawe en nie bloot die eerlikheid van die getuie(s) wat dit voorgedra het nie. Eerlikheid en objektiewe betroubaarheid is immers nie sinoniem nie. 'n Eerlike ooggetuie se geleentheid tot
19/...
19. waarneming speel 'n belangrike rol; so ook die
waarskynlikhede.
Geeneen van dié twee, oorwegings is egter pertinent
deur die verhoorhof in oorweging geneem nie. Inteendeel, blykens die uitspraak
is ten aansien van die geskilpunt tans onder bespreking, in teenstelling met die
evaluering van sekondêre geskilpunte, op die
eerlikheid van die twee
botsende weergawes gekonsentreer.
As daar egter breër gekyk word, as
klaagster se relaas in sy kontekstuele verband betrag word, is aanvaarding
daarvan as die
waarheid, geensins so klinkklaar nie. Ten eerste moet haar
geleentheid tot betroubare waarneming sorgvuldig ondersoek word. Die motor
staan
laataand op 'n afgeleë en onverligte plek; die ruite daarvan is so
toegewasem dat sy nie kan sien wat buite gebeur nie;
die weer is bewolk; van
ligte in die kar is daar geen woord nie. In dié verband is
20/...
20. dit opvallend dat klaagster agterna by- die parade slegs vir
1ste appellant kon uitken. Vir hom het sy natuurlik kon waarneem
toe hulle twee
later in die teerpad naby 'n straatlamp gestap het. Haar onvermoë om die
ander twee rowers uit te ken - terwyl
sy 'n geruime tyd in hul onmiddellike
omgewing was en na hulle gekyk het - is waarskynlik aan swak sigbaarheid in die
binneruim van
die kar te wyte. Sodanige afleiding word onderskraag deur haar
onvermoë om hul kleredrag te beskryf anders dan in huiwerige
en algemene
terme. Gevolglik moet aanvaar word dat die binneruim van die kar in donkerte
gehul was.
Wat sigbaarheid in die kar betref, is die verhoorhof se bevindings
aangaande beskuldigde nr 3 ook van belang. Hy het uiteindelik nie
sy deelname
aan die rooftog betwis nie maar volgehou dat hy onbewus was van die pistool in
1ste appellant se hand. Ofskoon die verhoorhof
daarteenoor skepties gestaan het,
word
21/...
21. nietemin bevind dat daar redelike twyfel bestaan of beskuldigde
nr 3 inderdaad geweet het van die vuurwapen. Bygevolg word in
sy geval dan geen
verswarende omstandighede by die twee roofaanklagte bevind nie. As dit so donker
was dat beskuldigde nr 3 redelikerwys
moontlik nie die vuurwapen gesien het nie,
moet insgelyks aanvaar word dat daar 'n redelike moontlikheid bestaan dat
klaagster se
waarnemingsvermoë merkbaar ingekort was.
Voorts moet in
gedagte gehou word dat klaagster se (aanvaarde) weergawe was dat die oorledene
ten tyde van die skootknal vooroor gesit
het met sy linkerarm op die rugleuning
van die linkervoorsitplek. Terselfdertyd sou 1ste appellant, volgens klaagster,
met sy bolyf
deur die regtervoorvenster ingeleun het met die pistool in sy
regterhand. In die beknopte binneruim van 'n middelslagmotor soos 'n
Ford Sierra
was 1ste appellant en oorledene dus baie naby aan mekaar.
22/...
22.
Dit volg dat ten minste oorledene se een hand - en bes moontlik albei - baie
naby was aan die vuurwapen in 1ste appellant se regterhand.
Bygevolg - en
ondanks die klaagster se oortuiging dat die skoot sondermeer en koelbloedig
afgevuur is - ontstaan die vraag of sy
noodwendig in die donker die oorledene se
hand(e) die kort afstand sou gesien beweeg het. Dit sou immers h geringe,
skielike en vlietende
beweging gewees het, gevolg deur die dawerende knal.
In
die gegewe omstandighede moet die klaagster se vaste geloof in die juistheid van
haar weergawe van die verloop van die noodlottige
gebeure versigtig benader
word. Sy is immers 'n enkelgetuie wat nouliks as onbevange bejeën kan word.
Die skrikwekkende gebeure
van daardie aand se emosionele nasleep was by die
verhoor 17 maande "later nog teenwoordig - soos sy self getuig. Sy is beroof,
geterroriseer,
seksueel getreiter en moes die brutale
23/...
23.
moord op haar vriend beleef. Die beoordeling van haar getuienis moet
rekening hou met die gebillikte verontregting en verontwaardiging
in haar
gemoed, veral by die oprakeling daarvan in die hof ten aanskoue van die
rampokkers wat haar so diep gekwets het. Juis daarom
was dit dan ook nodig dat 1
ste appellant se weergawe van die gebeure rondom die afvuur van die skoot met
groot omsigtigheid met
klaagster in behandeling geneem word. Dit het egter nie
gebeur nie. Na voltooiing van haar hoofgetuienis lui die oorkonde so:
"COURT: Just before you start, Mr Badenhorst, I
just want to ask one thing here. You said that
the deceased had told the accused number 1 to
leave you alone when accused number 1 asked the
deceased who he should shoot first. Yes.
And then you said the next, your words were: 'The
next moment he just turned towards the deceased
and shot him'. Yes.
Did you actually
see the man pull the trigger and
fire the shot? Yes.
24/...
24.
You did. At that time how far would you say he
was from the deceased when he actually fired the
shots? He was leaning
into the car.
He was leaning into the car. -- Into the car.
And the deceased was in the back seat. Yes. I
can't say how far.
m
Did you see whether or not the deceased tried to
grab the hand out of his
hand at that stage' or
not? No, he did not.
There wasn't a struggle between them? No,
there was no struggle.
The firing of the shot was not provoked by a
struggle or anything like that. No.
The gun didn't go off accidentally in the course
of the struggle No.
It was a deliberate shooting. Yes."
Die gevolg was dat die getuie versterk is in haar oortuiging dat sy al die gebeure akkuraat waargeneem het, dit korrek onthou en foutloos kan weergee. Die kruisondervraer se vooruitsig om met oorleg moontlike ieemtes te peil en, belangriker nog, om te onderskei tussen herinnerde waarneming en bona
25/...
25.
fide rekonstruksie, is uit die staanspoor
bemoeilik.
Kruisondervraging van die klaagster het dan ook weinig bygedra tot
die moontlikheid van 'n bona fide vergissing met betrekking tot die
skietinsident. Die eerste vraag was wel gemik op die ligtoestande op die toneel,
naamlik:
"Miss Davies, I suppose there weren't any lights shining nearby in the vicinity or inside the car, it was quite dark inside?"
Vanweë die vaagheid van die vraag was die getuie se bevestigende antwoord egter nie besonder insiggewend nie. Toe sy later deur 2de appellant se advokaat gevra word of daar "no lights whatsoever in the area" was, antwoord sy: "I don't remember". Enkele vrae verder bevestig sy dat dit wel donker was. In antwoord op 'n vraag deur beskuldigde nr 3 se advokaat, ontken sy dat dit "very dark" was en beskryf dit as "fairly dark". Dis egter hoofsaaklik futiele vrae aangesien dit
26/...
26.
slaan op klaagster se subjektieWe mening ten tyde van
getuienisaflewering eerder as op werklikhede tydens die gewraakte gebeure.
Bowendien
is "quite dark", "very dark" of "fairly dark" relatiewe begrippe wat
in sigself betreklik niksseggend is. Wat vir 'n
proefleser of krieketkolwer
stikdonker is, is vir 'n
inbreker helder oordag. Klaagster is nie eers gevra
om die vuurwapen te beskryf of die gelaatstrekke van haar aanvallers te skets
nie. Daardeur sou objektief vasgestel kon gewees het wat klaagster gesien
het. Die futlose vrae waarmee volstaan is, het daarenteen weinig, indien
enigsins, bygedra tot die soeke na die waarheid.
Tydens kruisondervraging
namens 1ste appellant oor die skietinsident word sy gevra om aan te dui hoe ver
die pistool van oorledene
se gesig was. Sy antwoord:
"I don't know, I know it was, I mean, he was like
27/...
27.
very close-up, I mean, I was sitting in front, the deceased was sitting at the back and this guy was leaning through the window with the gun."
Die getuie se kennelike ongemak met en ontwyking van
die
vraag was aanduidend van 'n onvermoe om die
gevraagde inligting te verstrek -
'n onvermoë wat
besmoontlik daaraan te wyte is dat sy óf die
vuurwapen
6f oorledene se gesig (of albei) nie duidelik kon sien
nie.
Nietemin word van die onderwerp afgestap. Enkele
vrae later word aan haar
gestel dat 1ste appellant
weggekyk het van die oorledene en uitgeroep het na
sy
twee makkers, waarop sy antwoord: "No, I don't recall
any of that." Die ope vraag of sy die stelling ontken,
dan wel toegee dat
sy die gestelde gebeure dalk vergeet
het, word in die lug gelaat. Die volgende vraag was:
"And as he looked away, as he shouted, the deceased
tried to grab the gun." Die antwoord - haas
onvermydelik gesien die donshaelvraag - is skrams:
"That's not true. There was no struggle." Die hof
28/...
28.
herbewoord haar antwoord: "You say that's not true that
the deceased tried
to grab the gun", waarop die getuie
bevestigend antwoord. Die onderskeid
tussen 'n poging
om die pistool te gryp en 'n worsteling word nie
opgevolg
nie. Ook nie of 1ste appellant sy kop
weggedraai het of na sy makkers geroep
het nie. Die
eindresultaat van die benadering tot klaagster se
weergawe
van die skietvoorval, naamlik dat sy die
waarheid praat of lieg, was dat haar
geleentheid tot
akkurate waarneming onvoldoende en losstaande van
die
waarskynlikhede getoets is.
Dan moet gekyk word na die relaas van die
afvuur van die skoot wat 1ste appellant in sy
bekentenis aan die landdros verstrek het. Uiteraard
moet enige buitegeregtelike verklaring deur 'n
beskuldigde versigtig benader word, veral wat betref
verontskuldigende gedeeltes daarvan. Ervaring en
gesonde verstand leer immers dat iemand in die
verknorsing probeer om sake so gunstig moontlik vir hom
29/...
29.
te plooi. Die verklaring getuig egter origens van openhartigheid
sonder 'n waarneembare poging tot verberging of verdoeseling van
die waarheid.
Eerste appellant het dan ook destyds 'n gees van samewerking met die polisie
geopenbaar. Hy het selfs die moordwapen
en ammunisie uit die bergplek by sy huis
gaan opgrawe. Die verhoorhof het trouens die bekentenis getipeer as 'n
konsekwente verklaring
van die aand se gebeure en dit gekontrasteer met 1ste
appellant se powere prestasie in die getuiebank. Die tersaaklike passasie in
die
bekentenis lui soos volg:
"Ek het my een vriend se naam geskree. Hulle het weggehardloop. Toe ek skree op sy naam toe gryp die man die hand waarin ek die pistool het. Ek en hy het gestoei. Die pistool het afgegaan."
Ten spyte daarvan dat 1ste appellant in die getuiebank leuenagtig ander gedeeltes van die bekentenis gerepudieer het (kennelik in 'n vrugtelose poging om 2de
30/...
30
appellant en beskuldigde nr 3 te probeer beskerm) was hy konsekwent wat
betref die omstandighede waarin die fatale skoot gevuur is:
Sy makkers het
weggehardloop; hy wend sy aandag van oorledene af en roep na hulle; toe voel hy
oorledene gryp na die pistool, ruk
terug en die skoot gaan af. 'n Werklike
gestoei, waarin hy en oorledene handgemeen raak, probeer hy nie voorhou
nie.
Bloot op geloofwaardigheid beoordeel, is daar dan twee relase wat by
ontleding nie só hemelsbreed verskil nie en, wat belangriker,
nie
noodwendig wedersyds onbestaanbaar is as die swak beligting, beknopte ruimte en
snelle opeenvolging van gebeure in gedagte gehou
word nie.
Vervolgens moet
die waarskynlikhede onder die loep kom. Voorop staan dat 'n koelbloedige
doodskoot sinneloos en motiefloos was: Die
roof was voltooi, die slagoffers met
welslae gestroop van hul besittings en die twee ander booswigte het reeds met
die buit die wyk
31/...
31 . geneem. Tot op daardie stadium was daar geen daadwerklike
geweld teenoor die klaagster en die oorledene gebruik nie; daar is
volstaan met
die bedreiging met die vuurwapen. Dit val dan vreemd op dat 1ste appellant eers
by die afsluiting van die gebeure tot
dodelike geweld sou oorgaan. Ewe vreemd,
as hy dan daarop uit was om sy slagoffers om die lewe te bring, is dat hy vir
klaagster
ongedeerd laat gaan. As die suggestie tydens betoog van die kant van
adv Theron steek hou, naamlik dat moontlike uitkenning verhoed
moes word, is dit
te meer onverklaarbaar dat 1ste appellant nie alleen vir klaagster spaar nie
maar bowendien met haar saamstap in
die nabyheid van 'n straatlig. Bowendien, as
1ste appellant daarop uit was om oorledene te dood, is dit eienaardig dat hy
geen poging
aangewend het nie om vas te stel of die enkele skoot in die donker
inderdaad sodanige doel bereik het. Word egter aangeneem dat klaagster
breedweg
32/...
32.
gelyk het maar die laaste moment van die gebeure
moontlik nie haarfyn in
die donker waargeneem het nie,
is dit vrywel moontlik dat die tragedie soos volg
verloop het: In 'n gees
van bravade, deels aangevuur
deur 'n paar pype mandrax en dagga, oorval die
drie
boosdoeners ondeurdag die prooi wat hul toevallig
teëkom. Hulle dring die kar binne en beroof die
insittendes; die voorbok met die vuurwapen onderwerp
die klaagster aan
onsedelike treitering. Hulle
probeer, skynbaar vrugteloos, om die kattebak
oop te
kry en neem verlief met wat hulle het. Een van die
drie besluit om
hom uit die voete te maak; 'n tweede
volg; die derde wil vir oulaas sy
wapenonderskraagde
meerderwaardigheid ten toon stel deur die twee
slagoffers te terroriseer. Die oorledene, blykens die
geregtelike nadoodse
ondersoek 'n fris jong man, voel
hom en sy meisie nou ééns
bedreig. Hy troos haar,
pleit by 1ste appellant en toe dié se aandag by die
voortvlugtende twee rowers is, gryp hy na
33/...
33. die vuurwapen hier vlak voor hom. Eerste appellant skrik, ruk
die wapen los en trek 'n skoot af.
Dat die uitgangspunt van 'n vergissing ter
goeder trou deur die klaagster oor die presipiterende oorsaak van die skoot nie
bo redelike
twyfel verwerp kan word nie, staan vas. Die omringende omstandighede
die noodlottige aand, klaagster se ingesteldheid jeens haar
aanvallers en die
ondeurtastende wyse waarop die objektiewe betroubaarheid van haar weergawe
ondersoek is, laat ruimte vir redelike
twyfel.
Die noodwendige slotsom is dat
daar 'n redelike moontlikheid bestaan dat die oorledene wel na 1ste appellant se
hand en/of die pistool
gegryp het en dat die noodlottige skoot toe deur 1ste
appellant afgevuur is. Per ongeluk of onwillekeurig kon dit beslis nie gewees
het nie. Daar was geen suggestie dat daar iets met die vuurmeganisme van die
pistool geskort het nie. Die ondersoekbeampte kon weliswaar
geen
34/...
34.
kommentaar lewer op die snellerdruk daarvan nie maar sy getuienis dat
die pistool in werkende orde was, is nóg bevraagteken
nóg
teengespreek. Die sneller is ongetwyfeld doelbewus getrek. Eerste appellant het
die skoot in die rigting van die oorledene
en op so 'n kort afstand afgevuur dat
hy moet geweet het dat dodelike verwonding kon volg. Die risiko van doodsintrede
was trouens
hoog. Desondanks en onverskillig oor die gevolge, is die skoot
afgetrek. Die omstandighede is inherent strafverswarend - 'n onskuldige
roofslagoffer wat hom en sy meisie wou verweer, is die ewigheid ingestuur deur
'n brutale bullebak.
Maar die afkeer van regdenkendes bly steeds rasioneel. Daar is nie gevuur om die roof te kan pleeg nie. Ook is dit nié gedoen om te kan ontvlug of om agtervolging of uitkenning te fnuik nie. Dit was 'n sinnelose en spontane handeling in die beklemming van die oomblik. Bygevolg meen ek dat 1ste appellant se
35/...
35. opset by moontlikheidsbewussyn wesentlik minder blaamwaardig is
as die konstruksie wat die verhoorhof op sy optrede geplaas het.
Dit is tewens
so merkbaar minder laakbaar dat daar gevra moet word of die doodvonnis steeds
die enigste gepaste straf is. Selfs onder
die bedeling wat gegeld het voor die
inwerkingtreding van die Strafregwysigingswet nr 107 van 1990 sou daar ernstige
bedenking gewees
het of daar nie versagtende omstandighede teenwoordig is nie
(kyk bv S v Sigwahla 1967(4) SA 566(A) te 571H). Onder die nuwe bedeling
wat deur gemelde Wet ingelui is, meen ek nie dat die doodvonnis, en dit alleen,
vanpas is nie. Ofskoon moord altyd 'n ernstige misdaad is en ofskoon die
onderhawige 'n besonder ernstige geval is, meen ek nie dit
val in die kader van
buitengewoon ernstige misdade waar die doodvonnis gebiedend aangewese is nie
(kyk S v Nkwanyana and Others supra op 745 F. Eerste appellant was ten
tyde van die pleging van die moord 22
36/...
36.
jaar oud met 'n misdaadloopbaan wat getuig van 'n verdorwe jeug. Op ouderdom 17 jaar het hy reeds by 'n fabriek ingebreek; daarna volg twee skuldigbevindings aan diefstal en drie aan roof met 'n mes. Knap nege maande voor die huidige misdade gepleeg is, het hy na 27 maande in die gevangenis op vrye voet gekom. Nietemin kan nie gesê word dat daar geen vooruitsig op rehabilitasie is nie. Eerste appellant is nog jonk - 'n lang termyn gevangenisstraf mag hom tot inkeer bring. Die verhoorhof se bevinding dat eerste appellant die betrokke aand in 'n geringe mate deur dagga en mandrax aangetas was, moet ook in berekening gebring word. Gesien sy teneerdrukkende lys vorige veroordelings, inaggenome die veertien jaar gevangenisstraf wat hom opgelê is vir die ander vyf misdade wat hy die noodlottige aand gepleeg het en gedagtig aan die kumulatiewe uitwerking daarvan, sal die bevel wat volg reg laat geskied.
37/...
37.
Daar word soos volg gelas:
1. Eerste appellant se appèl teen die vonnis op
aanklag 1 slaag. Die doodvonnis word tersyde gestel en vervang deur 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf waarvan 14 jaar tegelyk met die vonnis op aanklagte 2 en 3 uitgedien word.
2. Tweede appellant se aansoek om kondonasie
word afgewys.
J C KRIEGLER Wnde APPeLREGTER
NESTADT AR) GOLDSTONE AR) Stem saam