South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 161

| Noteup | LawCite

S v Dodovu (298/91) [1991] ZASCA 161 (25 November 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


298/91

N v H

WILLIAM DODOVU / DIE STAAT SMALBERGER, AR -

1

298/91 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

APPeLAFDELING
In die saak tussen:
WILLIAM DODOVU APPELLANT
en
DIE STAAT RESPONDENT
CORAM: SMALBERGER AR et KRIEGLER, HARMS

Wnd ARR
DATUM VERHOOR: 19 NOVEMBER 1991
DATUM GELEWER: 25 NOVEMBER 1991

UITSPRAAK SMALBERGER, AR:

Die appellant is in die Transvaalse Provinsiale Afdeling deur J J STRYDOM R en assessore skuldig bevind aan 'n aantal aanklagte waaronder moord,

/2

2

aanranding met die opset om ernstig te beseer en roof
met verswarende omstandighede. By ontstentenis van
versagtende omstandighede is hy, ingevolge die destydse
geldende reg, op die moordaanklag die verpligte
doodvonnis opgelê. Op die ander aanklagte is hy 'n
effektiewe vonnis van 22 jaar en 6 maande
gevangenisstraf opgelê. Verlof om te appelleer is
deur beide die Hof a quo en hierdie Hof geweier. Die
appellant se saak is ingevolge art 19 van Wet 107 van

1990 ("die Wet") aan die paneel (wat kragtens daardie
artikel saamgestel is), voorgelê vir heroorweging van
die doodvonnis. Die paneel het bevind dat die

doodvonnis waarskynlik opgelê sou gewees het en die

aangeleentheid dien nou voor hierdie Hof kragtens art

19(12) van die Wet. Ons is nou geroepe, ingevolge die

tans geldende reg, om te besluit of die doodvonnis op

die moordaanklag die enigste gepaste vonnis is.

/3

3 Die omstandighede rondom die pleging van die moord deur die appellant was die volgende. Ongeveer tienuur die aand van 25 Oktober 1987 was Carel Petrus Du Rand ("die oorledene") en 'n vriendin, Johanna Dorothea Tissen ("die klaagster"), saam in 'n motorvoertuig wat langs die Klerksdorp/Ventersdorp-pad geparkeer was. Die oorledene was agter die stuurwiel; die klaagster het langs hom gesit. Die venster aan die bestuurder se kant was oop. Die appellant het ongesien die motor genader, na die bestuurder se venster gegaan en sonder om 'n woord te uiter die oorledene vanaf 'n kort afstand deur die kop geskiet. Die oorledene is op die plek as gevolg van die skietwond dood. Volgens die mediese getuienis is die oorledene vanaf 'n afstand van minder as 1 meter geskiet. Daarna het die appellant die klaagster ernstig aangerand en haar van verskeie artikels beroof.

/4

4 Hy het ook van die oorledene se besittings geneem.
Die omstandighede van die moord, en die wyse waarop dit gepleeg is, is erg strafverswarend. Die appellant se optrede was berekend en gevoelloos en sy opsetvorm dolus directus. Sy motief was klaarblyklik roof, een van die gemeenste motiewe denkbaar. Hy het sy slagoffer geen geleentheid gegun om sy besittings te oorhandig of homself te verdedig nie. Hy het hom eenvoudig sonder waarskuwing koelbloedig doodgeskiet. Daarna het hy doodluiters voortgegaan om die klaagstef aan te rand en te beroof. Die feit dat sy nie ook doodgeskiet is nie, is waarskynlik daaraan te danke dat die patrone in die appellant se vuurwapen opgeskiet was.

Wat ook strafverswarend is, is die appellant se lang lys vorige veroordelings. Die appellant was bykans 40 jaar oud toe die moord gepleeg is. Sy

/5

5 vorige veroordelings strek oor 'n tydperk van 20 jaar en sluit in, onder meer, een vorige veroordeling vir roof, drie vir ontsnapping, een vir onwettige besit van 'n vuurwapen en talle gevalle van huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Hy is reeds voorheen tot 'n gewoontemisdadiger verklaar. Die moord, en die ander misdade waaraan die appellant deur die hof a quo skuldig bevind is, is gepleeg toe hy op parool was. By 'n vorige geleentheid het hy ook verskeie misdade gepleeg terwyl hy op parool was. Die aanduidings is dus baie sterk dat die appellant nie vir rehabilitasie vatbaar is nie. Daarbenewens is die toenemende voorkoms van optrede van die aard waaraan die appellant hom skuldig gemaak het ook 'n verswarende faktor.
Na my mening is daar in die onderhawige geval geen strafversagtende faktore aanwesig nie. Al word aanvaar dat die appellant ongeletterd en betreklik

/6

6

ongekunsteld is, en 'n minderbevoorregte opvoeding gehad het, moes die appellant, gesien sy misdaadsrekord, ten volle bewus gewees het van die onregmatigheid en morele laakbaarheid van sy optrede. Sy ongelukkige agtergrond, wat hy gemeen het met baie mense wat hulle nie tot misdaad wend nie, kan nie in die omstandighede van die onderhawige geval as strafversagtend beskou word nie.
In sy bekentenis wat hy na sy inhegtenisname gemaak het, probeer die appellant voorgee dat sy optrede deur die inname van sterk drank beïnvloed was. Die getuienis is egter tot die teendeel. Die klaagster maak geen melding daarvan nie, en toe die appellant ongeveer drie uur na die voorval in hegtenis geneem is, was daar geen sprake daarvan dat hy onder die invloed van drank was nie. Sy optrede op die toneel voor en na die moord spreek ook nie van 'n drankbenewelde verstand nie.

..../7

7 Die omstandighede van die onderhawige geval is sodanig dat wanneer die oogmerke van straf in oorweging geneem word, vergelding en afskrikking voorrang moet geniet. Die gemeenskapsbelang moet ook deeglik in aanmerking geneem word. Soos reeds gemeld, kan daar in die appellant se geval nie realisties sprake van rehabilitasie wees nie. Alle relevante faktore in ag geneem, is hierdie myns insiens klaarblyklik 'n geval waar die doodvonnis die enigste gepaste vonnis is.
Die appèl word afgewys en die doodvonnis word bekragtig.

J W SMALBERGER, AR

KRIEGLER, Wnd AR )
) Stem saam HARMS, Wnd AR )