South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 59

| Noteup | LawCite

S v Potgieter (684/1989) [1991] ZASCA 59 (23 May 1991)

Download original files

PDF format

RTF format


LL Saak No 684/1989

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

In die saak tussen:

JOHAN HENDRIK POTGIETER Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: HEFER, F H GROSSKOPF ARR et

KRIEGLER WN AR
VERHOORDATUM: 14 MEI 1991
LEWERINGSDATUM: 23 MEI 1991

UITSPRAAK KRIEGLER WN AR:

2.

Hierdie appèl gaan om vonnis. Appellant is in die landdroshof te Sasolburg gevonnis tot ses maande gevangenisstraf weens 'n oortreding van die bepalings van art 138(1) van Ordonnansie 21 van 1966 (0) te wete die roekelose bestuur van 'n motorvoertuig. Sy bestuurderslisensie is ook vir twaalf maande opgeskort. 'n Beroep op die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling om inmenging met die vonnis het misluk maar verlof tot verdere appèl na hierdie hof is deur die hof a quo toegestaan.
Die aanklag het voortgespruit uit 'n wilde jaagtog in en buite Sasolburg toe appellant in druk-verkeer 'n agtervolgehde verkeersmotor ontvlug. Dit was nagenoeg 13h00 op Saterdag 3 Desember 1988, appellant se 21ste verjaardag; Appellant, met drie passasiers by hom, bestuur sy vader se Toyota Cressida op so 'n wyse dat 'n verkeerskonstabel; genaamd Coertzen, hom gelas om af te trek. Hy ignoreer die opdrag, gooi die kar in trurat in die aangesig van aankomende verkeer en jaag
3. weg. Coertzen sit hom in sy ampsmotor agterna. Appellant jaag in 'n voorstad genaamd Vaalpark in, waar hy in sy dolle vaart oor verskeie randstene ry en by geleentheid vir Coertzen ontglip deur 'n private erf te deurkruis. Toe kies hy koers snelweg toe waar hy in die rigting van Vanderbijlpark jaag met Coertzen agterna. By drie agtereenvolgende kruisings ignoreer hy die rooi verkeerslig en ontwyk ter nouer nood die ander verkeer. By 'n daaropvolgende kruising, beheer deur vierrigting stoptekens, jaag hy ook deur. Hy slaag daarin om teen 'n snelheid van 160 km per uur plus onder Coertzen uit te ry. Etlike ure later let dié hom in Sasolburg op, steeds agter die wiel van die Cressida, en hy word aangekeer.
Die daaropvolgende Maandag verskyn hy sonder regsbystand in die Sasolburgse landdroshof en pleit skuldig aan voormelde oortreding. Sy antwoorde op die ondervraging ingevolge art 112(1)(b) van die Straf-proseswet no 51 van 1977 lei daartoe dat 'n pleit van

4.

onskuldig aangeteken word en die verhoor word uitgestel
tot die daaropvolgende Maandag, d w s 12 Desember 1988.
Op laasgenoemde datum verskyn appellant weer sonder
regsbystand. Die Staat bied toe die getuienis aan van
verkeersbeampte Coertzen asook van 'n kollega van hom
genaamd Steenkamp. Ondanks voorligting oor sy regte
dienaangaande stel appellant geen vrae aan die Staats-
getuies nie. By die afsluiting van die Staatsaak word
sy regte aan hom verduidelik. Hy motiveer sy keuse om
te swyg met die volgende stelling:

"Nee, die verklaring wat mnr Coertzen en mnr Steenkamp gegee het is die waarheid. Dit is ... (onhoorbaar) die waarheid wat gebeur het, is korrek."

Na skuldigbevindihg en appellant se keuse om ten
aansien van vonnis te swyg, word hy deur dié landdros
deeglik aangaande sy persoonlike omstandighede
ondervra. Dit blyk dat hy na skoolverlating in 1985 en
voltooiing van sy militêre diensplig twee betreklik

nederige betrekkings as operateur beklee het met

5.

tussenposes van werkloosheid. Ten tyde van die verhoor
was hy weer sowat twee maande lank werkloos maar sou
kort daarna vir 'n werksonderhoud in Meyerton gaan. Hy
was ongetroud en het as afhanklike by sy wewenaar vader
op Sasolburg ingewoon. Na besinning oor die etensuur

lewer die landdros soos volg uitspraak ten aansien van
vonnis:

"Die hof hou in gedagte dat u jonk is, geen vorige veroordelings het nie en ook dat u skuldig gepleit het, dat u houding in die hof deurentyd een was van dat u 'n berou toon van wat u gedoen het. Maar wanneer al hierdie omstandighede saam oorweeg word en daar gekyk word na die erns van die oortreding die graad van roekeloosheid wat u aan die dag gelê het en die gevaar waarin u ander padgebruikers se lewens gestel het, dan kom ek tot die slotsom dat dit net nie moontlik is om u uit die gevangenis te hou nie.
Ek het oorweeg om u bestuurderslisensie in te trek. U is egter nog jonk en nadat u u straf ondergaan het wanneer miskien sal die jare rypheid meebring en dan sal u u lisensie in die toekoms meer waardeer. Gevolglik gaan ek dit net vir 'n tydperk wegneem en hopelik sal u dit tot ander insigte bring.
Met inagneming van al die omstandighede van hierdie saak, word u dan gevonnis tot SES (6) MAANDE GEVANGENISSTRAF en u bestuurders-

6.

lisensie word opgeskort vir 'n tydperk van twaalf maande met ingang van vandag."

Die daaropvolgende dag word kennisgewing van appèl teen die vonnis gegee en appellant word op borg vrygelaat. Die landdros verstrek uitvoerige redes vir vonnis in die loop waarvan hy na etlike beslissings in dergelike en ander sake verwys. Die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling wys die appèl af maar verleen
verlof tot verdere appèl na hierdie afdeling.
Voor die provinsiale afdeling en ook in hierdie hof is daar namens appellant aangevoer dat die verhoorhof, blykens sy redes vir vonnis, in verskeie opsigte misgetas het. Dit is nog nodig nog dienlik om die desbetreffende betoog in besonderheid te ontleed. Al sou aanvaar word dat hierdie hof vanweë sodanige beweerde mistastings geroepe is om opnuut oor vonnis te besin, sou daar nie met die opgelegde vonnis ingemeng kon word nie. Ondanks appellant se betreklike jeugdigheid, sy eerste oortrederskap, sy oënskynlike
7. berou en die geykte traagheid om so 'n persoon vir 'n

verkeersmisdaad deur gevangesetting aan die geselskap van deurtrapte misdadigers bloot te stel, noop die enormiteit vah appellant se optrede die betrokke middag regstreekse gevangenisstraf. In die hande van 'n
onverskillige is 'n motorvoertuig alreeds gevaarlik. Waar daar bowendien voortdurende en herhaalde roekeloosheid teenwoordig is, soos kennelik hier die geval was, is die gemeenskapsrisikos so groot dat die strakheid van tronkstraf aangewese is. Appellant het immers in sy ontvlugting van die gereg die lewens en eiendom van talle padgebruikers aan groot gevaar blootgestel. Daar is wel in hierdie hof namens appellant aangevoef dat verkeersbeampte Coertzen sy getuienis aangedik het omdat die afwesigheid van 'n
botsing andersins onverklaarbaar is. Die submissie gaan om twee redes nie op nie. Ten eerste blyk dit uit die hierbo aangeháalde mededeling van die kant van die appellant dat hy uitdruklik die korrektheid van

8.

Coertzen se weergawe beaam het. Ten tweede kom die submissie eintlik op bespiegeling neer. Vanweë die houding wat appellant by die verhoor ingeneem het, is daar nie ingegaan op moontlike ontwykingsaksies deur ander motoristé waardeur die noodlot afgeweer is nie.
Dit sou ook geen nuttige doel dien om stapsgewys aanknopingspunte by regterlike uitsprake in ánder (min of meer vergelykbare) sake te soek nie.
Hierdie hof het by monde van Nicholas Wn AR in S v
Fraser 1987 (2) SA 859 (A) 863A-D herbeklemtoon (a) hoe futiel dit is om nïe beginsels nie maar feitevergelykings in besliste sake te probeer vind, en (b), dat by vonnisoplegging ander beslissings bloot dien as riglyne by díe besondere uitoefening van die strafdiskresie. En in beginsel staan dit lank reeds vas dat direkte gevangenisstraf in gepaste omstandig-hede vir die roekelose bestuur van 'n motorvoertuig aangewese is. in Rex v Mahametsa 1941 AD 83 stel Centlivres AR dit soos volg op p 86, onderaan:

9.
"We do not disagree with the view that imprisonment is an appropriate punishment in cases of recklessness, if by 'recklessness' is meant gross negligence or a wilful disregard of the rights of other road users, as for example in the case of numbers of accidents which are caused by the dangerous practice of 'cutting in' or driving round a . blind corner on the wrong side of the road, or passing another car on the crest of a hill."
Alhoewel die beginselstelling ondubbelsinnig

is, noop 'n submissie wat namens appellant in hierdie
saak geopper is 'n verduideliking. Daar is naamlik
aangevoer dat die geleerde appèlregter se opmerkings
alleen betrekking het op roekeloosheid wat inderdaad
ongelukke tot gevolg het. Dit was duidelik nie die
geleerde regter se bedoeling nie en die aangehaalde
passasie is nouliks vir sodanige uitleg vatbaar. Die
beginselstelling was dát gevangenisstraf vir roekeloos-
heid - in die strenge sin van die woord - toepaslik is.
Vervolgens is 'n aantal voorbeelde by wyse van
verduideliking genoem sonder om hoegenaamd te kenne te
gee dat gevangenisstraf slegs in sodanige gevalle

10.

toepaslik sou wees. Volledigheidshalwe kan ook genoem
word dat daar geen aanduiding in die omskrywing van die
woord "roekeloos" in art 138(2) van Ordonnansie 21 van

1966 te vinde is dat bepaalde gevolge 'n wesenselement
uitmaak nie. Dit lui so:

"Sonder om die gewone betekenis van die woord roekeloos' te beperk, word daar geag dat iedereen wat 'n voertuig met opsetlike of moedswillige verontagsaming van die veilig-heid van persone of eiendom bestuur, genoemde voertuig roekeloos bestuur het."

(Kyk ook S v Van Zyl 1969 (1) SA 553 (A).)

Een laaste punt dien vermeld te word. Dit is

of die toepaslike vorm van gevangenisstraf ononderbroke
dan wel periodiek is. In S v Jacobs 1986 (3) SA 781

(A) benadruk Trengove AR op 784E "dat die howe in die
verlede reeds by herhaling aangemoedig is om in gepaste
gevalle van periodieke gevangenisstraf gebruik te
maak." Daar is dan ook in hierdie saak namens
appellant aangevóer dat periodieke gevangenisstraf
eerder dan ononderbfoke gevangenisstraf aangewese was

11.

en dat die verhoorlanddros, blykens sy vonnismotive-ring, dienaangaande misgetas het. Weliswaar is daar enkele sinsnedes in die motivering wat ietwat onvanpas voorkom. Dit doen egter weinig afbreuk aan die prinsipiële suiwerheid van die landdros se benadering. Hy het wel periodieke gevangenisstraf oorweeg maar daarteen besluit (soos ook teen 'n stewige boete en 'n
geheel opgeskorte termyn van gevangenisstraf) vanweë die erns van die misdaad en die appellant se persoonlike omstandighede. Ten tydevan vonnisoplegging het appellant geen vaste betrekking gehad wat hy vanweë ononderbroke gevangenisstraf sou verloor nie; hy het geen inkomste gehad wat hy daardeur sou verbeur nie; daar was geen afhanklikes om in aanmerking te neem nie; appellant se vooruitsigte op vaste werk was bra onseker en die mate waartoe hy daarin deur naweekstraf benadeel sou word, was onbekend. Bygevolg en al sou dit as 'n mistasting aan die kant van die landdros aangemerk word dat hy gemeen het dat gevangenisstraf die "angel" uit

12.

die straf sou neem en al het hy appellant se nederige werkstatus ten onregte in berekening geneem, was die slotsom korrek.

Die appèl word afgewys.

J.C. KRIEGLER WN AR

HEFER AR
STEM SAAM F H GROSSKOPF AR