South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 84

| Noteup | LawCite

S v Machasa and Others (334/90) [1991] ZASCA 84 (4 July 1991)

Download original files

RTF format


334/90 /mb

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

Insake die appèl van:

ISRAEL MACHASA Eerste Appellant
JERRY MOLOBENG Tweede Appellant
JOHANNES MONO Derde Appellant
JOHANNES MPSHE Vierde Appellant
CHARLES RHAMAKHOASE Vyfde Appellant

teen

DIE STAAT Respondent

CORAM : VAN HEERDEN, HEFER et STEYN, ARR
VERHOORDATUM : 20 JUNIE 1991 LEWERINGSDATUM : 4 JULIE 1991

U I T S P R A A K

VAN HEERDEN, AR/...

1.

VAN HEERDEN, AR:

Wyle Joseph Mokoena ("die oorledene") was 'n

sogenaamde munisipale polisieman in diens van die Oranje-Vaal Ontwikkelingsraad waaronder die plaaslike bestuur van Tumahole geressorteer het. Tumahole is 'n
Swart woonbuurt buite Parys in die Vrystaat. Die oorledene en sy vrou was woonagtig in 'n huis op perseel 900 in Tumahole. Die perseel het gegrens aan Matsiestraat en daarop was nog twee huise, een waarvan deur mev Phalatsi bewoon was. Laasgenoemde huis en dié van die oorledene was aan mekaar verbind.

Op 29 Mei 1986 is die oorledene op 'n wrede

wyse naby sy huis vermoor. Hy het die oggend

omstreeks 6.25 tuis gekom nadat hy nagdiens verrig

het. Kort daarna het 'n skare van etlike honderde

mense in die onmiddellike nabyheid van perseel 900

vergader. Heelwat klippe is na die oorledene se huis

gegooi en het onder andere op die dakke van dié huis

2/...

2.
en die aangrensende huis beland. Die oorledene het na
buite gegaan en 'n skoot met sy haelgeweer in die lug
afgevuur. Die skare, of die grootste gedeelte
daarvan, het gevlug waarna die oorledene weer sy huis
binnegegaan het. Kort daarna het die skare weer
saamgedrom en het die klipaanvalle hervat. Die
oorledene en sy vrou is toe die huis van mev Phalatsi
binne. Vanuit daardie huis het hy verdere skote
gevuur, ten minste een waarvan in die rigting van die
aanvallers. Die klipgooiery het egter
voortgeduur.

Terwyl die ooledene geskiet het, is drie

petrolbomme na mev Phalatsi se huis gegooi. Twee
daarvan het brande veroorsaak. Kort daarna is teen
die huis se kombuisdeur geskop. Die oorledene het dit
oopgemaak. Hy het nog 'n skoot probeer skiet maar die

geweer het nie gevuur nie. Twee mans het hom toe
beetgepak en na buite getrek. Hy het losgeruk en na

3/...

3.
die grensdraad tussen persele 900 en 901 gevlug waar
hy geval het. òf in perseel 900 òf in perseel 901 is
hy van sy geweer ontneem, daarmee oor die kop geslaan
en ook andersins aangerand. Op 'n stadium is blykbaar
vermoed dat die polisie aan die kom was en het die
oorledene se aanvallers hulle verskuil. Die oorledene,
wat toe op erf 901 gelê het, het tevergeefs probeer
opstaan. Die aanvallers ('n vyftal) het teruggekeer,
die oorledene vasgegryp en hom op sy bors en kop
gesteek. Hy is toe na Matsiestraat getrek en op die
grond neergegooi. Daar het twee van sy aanvallers
groot klippe teen sy kop gegooi. Hierna is o.a 'n
buiteband en stukke papier op die oorledene se lyf
geplaas en vloeistof oor hom gesprinkel. Dit is met 'n
vuurhoutjie aan die brand gesteek. Nadat die vlamme 'n

rukkie gewoed het, het iemand geskreeu dat die polisie

op pad was. Dit het die aanvallers laat wegvlug. Die
polisie was inderdaad kort daarna op die toneel.

4/...

4.
Die oorledene was 'n skraalgeboude, vier-en-twintigjarige man. By 'n na-doodse ondersoek is bevind dat sy liggaam vier steekwonde gehad het; dat daar vergruising van sy skedel met breinlaserasies was, en dat daar veelvuldige brandwonde op onder andere sy gesig, kop, ledemate en bors was. Die oorsake van sy dood was die skedelvergruising en brandwonde.

Voortspruitende uit bostaande gebeure is die

vyf appellante en 'n aantal ander persone in die
Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling aangekla van
moord en openbare geweld. Die appellante is op beide
aanklagte skuldig bevind. Op die moordklag is die
eerste drie appellante die doodstraf opgelê" nadat
bevind is dat daar geen versagtende omstandighede was
nie. Die vierde en vyfde appellante, wat ten tyde van
die moord nog nie 18 jaar oud was nie, is elk tot 20
jaar gevangenisstraf gevonnis. Met die nodige
verlof appelleer die appellante nou slegs teen

5/...
5.
bedoelde vonnisse.

Die bevindings van die verhoorhof ten

aansien van die rol wat elke appellant gespeel het, en
wat tereg nie op appél aangeveg is nie, kan soos volg

saamgevat word. Al vyf het klippe na die twee huise
gegooi. Ten minste die derde appellant het ook 'n
petrolbom gegooi. Hoewel klippe, en miskien ook
petrolbomme, deur 'n groot aantal ander lede van die

skare gegooi is, het slegs die appellante aan die
aanvalle op die oorledene deelgeneem. Die eerste

appellant was een van die twee persone wat die
oorledene by die agterdeur van mev Phalatsi se huis

beetgepak het. Dit was ook hy wat die oorledene met

sy geweer oor die kop geslaan het. Al vyf appellante

het die oorledene later na die straat getrek of

gesleep. Daar het die eerste appellant 'n buiteband

onder, en die derde appellant een bo-op, die oorledene

se lyf geplaas. Die vierde en vyfde appellante was

6/...
6.
die persone wat groot klippe teen die oorledene se kop
gegooi het. Al vyf het stukke papier uit 'n asblik
geneem en op die oorledene se lyf geplaas. Die derde
appellant het die vloeistof oor die oorledene gegiet
en die eerste appellant het dit met 'n vuurhoutjie laat
ontvlam. Al vyf was vlakby die inferno in die kleine

totdat alarm gemaak is. Vroeër het ten minste die
eerste en vierde appellante die oorledene steekwonde
toegedien.

Die verhoorhof het tereg bevind dat al vyf

appellante die oorledene se dood begeer en veroorsaak
het. Hulle het 'n gemeenskaplike doel gehad om die
oorledene om die lewe te bring en aktief deelgeneem
aan gesamentlike optrede wat op verwesentliking
daarvan gerig was. Aldus het al vyf bygedra tot die
bereiking van' die gewenste gevolg. Vandaar die

skuldigbevindings op die moordklagte.

Die eerste drie appellante het nie ter

7/...

7.
versagting getuig nie. (Trouens, die ander twee
appellante het ook nie weer na hul skuldigbevindings
getuig nie). Mnr Dawes, 'n lektor in sielkunde aan die
Universiteit van Kaapstad, het egter wel getuienis
gegee.

Voordat by Dawes se getuienis stilgestaan

word, moet ietwat uitgewei word oor die waarskynlike
oorsaak van die samedromming van die skare en die
klipgooiery na die huise op perseel 900. Dit het
tydens die eerste fase van die verhoor geblyk dat die
naweek voor die oorledene se dood onder andere UDF
slagspreuke in 'n parkie in Tumahole aangebring was.

In opdrag van die plaaslike bestuur is die slagspreuke
verwyder en die parkie as't ware gesloop. Dit het

gebeur 'n dag of wat voor die moord. Die slopingswerk

is verrig deur munisipale polisiemanne. Alhoewel die

oorledene nie deel daaraan gehad het nie, dui die
waarskynlikhede daarop dat hy deur die skare - of

8/...

8.
altans die grootste deel daarvan - met die verwydering
van die slagspreuke verbind was. Dit was dan die rede
waarom die samedromming in Matsiestraat plaasgevind
het en die huise met klippe bestook is.

Die appellante het ontken dat hulle 'n

aandeel in die dood van die oorledene gehad het. Die
eerste twee appellante het beweer dat hulle uit blote
nuuskierigheid deel van die skare was maar
weggehardloop het nadat die oorledene skote gevuur
het. Die ander drie appellante het wel erken dat
hulle klippe na die huise gegooi het, òf omdat hulle
aangesê was om sulks te doen, òf omdat hulle bang was

om as "impimpis" bestempel te word as hulle passief

sou bly. Wat huidiglik egter van belang is, is dat

nie een van die vyf sy teenwoordigheid in
Matsiestraat of sy deelname aan die klipgooiery met

die sloping van die parkie in verband gebring het nie.

Nie een het getuig dat hy daaroor veronreg gevoel het

9/...

9.
of selfs dat hy enigsins polities gemotiveerd was nie. Die eerste appellant het trouens in soveel woorde ontken dat die sloping hom gegrief het.
Ek keer nou terug na Dawes se getuienis. Wat betref toestande wat voor die gebeure in die woonbuurt geheers het, het Dawes hom hoofsaaklik op 'n verslag van ene Seekings verlaat. Die juistheid van die kern daarvan is blykbaar nie deur die respondent in geskil gestel nie. Dawes se steun daarop, en trouens ook die algemene strekking van sy getuienis, is dan ook deur die verhoorhof aanvaar, soos blyk uit die volgende uittreksels uit die uitspraak aangaande versagtende omstandighede:

"Daar het al vir etlike jare wyd-verspreide armoede onder die bewoners van Tumahole geheers asook grootskaalse werkloosheid. Daar was en is onvoldoende behuising aldaar, en die behuising wat daar is word dikwels oorbewoon. Heel waarskynlik verdien die meeste werknemers wat wel 'n inkomste verdien, 'n geringe inkomste sodat dit gesê kan word dat die gemiddelde inkomste in

10/...

10.

Tumahole gering van aard is. Huurgelde ten opsigte van die behuising het in 1982 met 21% gestyg en in 1983 met 50%. Daar was reeds onrusvoorvalle in Tumahole voor 1984, en op 15 Julie 1984 het daar, ná 'n winkelboikot, 'n
protesoptog plaasgevind wat tot onluste gelei het. Vanaf 4 Augustus 1984 het skoolboikotte toegeneem en het die skole vir die res van daardie jaar gesluit. Onluste en skoolboikotte het ook in 1985 plaasgevind. Aanvalle was geloods op raadslede en hul eiendom. Beriggewers of sogenaamde 'sell-outs', of sodanige persone wat as sulks beskou was, was met groot agterdog bejeën. Teen die einde van 1985 en ook in 1986 het georganiseerde proteste toegeneem."

En:

"Ons aanvaar eenparig dat die deur Dawes genoemde
toestande en omstandighede op 'n oorwig van
waarskynklkhede gedurende die tydperk waaroor die
Seekings-verslag gaan, geheers het en dat daardie
omstandighede ook aanwesig was voor en op 29 Mei
1986. Sodanige toestande en omstandighede is
naamlik faktore wat wel betrekking mag hê
aangaande die vraag of daar versagtende
omstandighede aanwesig is of nie
Ons aanvaar verder eenparig dat hierdie toestande en omstandighede waarskynlik aanleiding gegee het by groot getalle inwoners van Tumahole tot frustrasie en dat sodanige frustrasie in alle waarskynklikheid by sommige, en moontlik heelwat van, sodanig gefrustreerde inwoners regstreeks of onregstreeks gelei het tot boikotte van winkels

11/...

11.

en skole, wegbly-aksies van hul werk, onluste en optogte en soortgelyke massa-optredes gedurende die sowat twee jaar wat die onderhawige moord en openbare geweld voorafgegaan het. Ons aanvaar voorts eenparig dat sodanige frustrasies nog steeds geheers het ten tye van die onderhawige misdade by, in alle waarskynlikheid,groot getalle van die inwoners van Tumahole. Dit is nie nodig om in te gaan op die vraag of sodanige frustrasies en die feite wat daartoe aanleiding gegee het, objektief geregverdig was of nie want, soos reeds genoem, is dit tans ons taak om 'n
bevinding te maak aangaande watter omstandighede die geestesvermoëns of gemoedstoestand van die betrokke beskuldigdes subjektief beïnvloed het. Na ons eenparige mening volg dit uit ons bogenoemde aanvaardings dat die genoemde optredes deur inwoners van Tumahole derhalwe ook 'n politieke grondslag gehad het in die sin dat die inwoners, veral die minder gesofistikeerdes van hulle, wat aldus onder die genoemde frustrasies gebukkend gegaan het, subjektief beoordeel, geglo het dat die owerheidsgesag, insluitende dan ook, onder andere, sogenaamde munisipale polisie-amptenare, tot 'n mate medeverantwoordelik was vir sommige of selfs 'n groot aantal van die omstandighede waaroor hulle hul lot bekla het tydens sodanige optredes of waarom hulle aan sodanige optredes deelgeneem het. Dit moet ook aanvaar word dat die sogenaamde 'impimpis' of 'sell-outs' (beriggewers of 'informers') deur waarskynlik baie mense met agterdog bejeën word."

Dawes het ook vermeld dat ene James Majola

12/...
12. in Julie 1985 in die woonbuurt deur 'n swart polisieman doodgeskiet is en dat by sy begrafnis drie roudraers gedood is. Nadat die verhoorhof daarop gewys het dat betroubare getuienis aangaande hierdie voorvalle ontbreek het, het dit soos volg voortgegaan.

"... ons [kan] egter nie van ons oorwegings uitsluit dat daar tydens vroeëre onluste 'n
persoon of persone gedood mag wees nie want die waarskynlikheid bestaan wel dat sommige van die inwoners in Tumahole inderdaad subjektief geglo het dat daar 'n mens of mense gedurende onluste gedood was, en wel deur die polisie."

Met verwysing na bostaande uittreksels het

die verhoorhof die volgende ten aansien van die
appellante gesê:

"Met betrekking tot die beslissing van die kwessie van versagtende omstandighede aanvaar ons dus op 'n oorwig van waarskynlikhede dat al die beskuldigdes van hierdie toestande en omstandighede subjektief bewus was ten alle tersaaklike tye en dat sodanige subjektiewe bewustheid by hulle, insluitende hul frustrasies en ontevredenheid met die genoemde toestande en omstandighede, by elkeen van hulle bestaan het

13/...

13.

voor en tydens die gebeure op 29 Mei 1986 en dat die beskuldigdes gekant was teen die bestaande orde omdat hulle subjektief gemeen het dat die bestaande bestel vir daardie toestande en omstandighede verantwoordelik is."

Die verhoorhof het ook nog ander faktore

waarop Dawes gesteun het - en spesifiek die opwelling
van gevoelens meegebring deur die sloping van die
parkie - in ag geneem, en was bereid om te aanvaar dat
Dawes se getuienis 'n verklaring vir die samedromming
van die skare en die klipgooiery gebied het. Dit het
egter nie - aldus die verhoorhof - 'n blik gewerp op
die rede of redes waarom uit die geledere van die
groot skare slegs die vyf beskuldigdes daartoe
oorgegaan het om die oorledene aan te rand en te
vermoor nie. Die hof het veral gewig geheg aan die

feit dat selfs met inagneming van die persoonlike

agtergronde van die appellante Dawes nie 'n verklaring

vir die weersinwekkende aanvalle op die oorledene kon

bied nie. By ontstentenis van enige verduideliking

14/...

14.

vir hul optrede deur die appellante was die hof se
slotsom dat nie een van die eerste drie appellante op
'n oorwig van waarskynlikhede aangetoon het dat sy
geestestoestand sodanig beïnvloed was dat dit as
versagting aangemerk kon word nie.

Spesifiek wat die eerste appellant betref,

het die hof ook twee verdere faktore in aanmerking
geneem, nl., dat hy nie lank voor die gebeure in
aanhouding was - blykbaar omdat hy as getuie in 'n
ander strafsaak benodig was - en dat hy getref was
deur 'n haelkorrel of -korrels toe die oorledene h
skoot afgevuur het. Wat eersgenoemde betref, het
Dawes aanvaar dat die eerste appellant gemeen het dat
die inwoners van Tumahole hom as 'n informant of
medewerker van die polisie kon beskou. Na die mening
van die verhoorhof het die eerste appellant egter nie
geslaag om te toon dat sy vrees in kousale verband met

sy moorddadige optrede gestaan het nie. Net so min het

15/...
15. hy bewys dat die wond wat hy opgedoen het - wat blykbaar geensins ernstig was nie - 'n woedebui tot gevolg gehad het of andersins op sy geestesgesteldheid ingewerk het nie. Maar, het die hof besluit, selfs al word aanvaar dat hy in uiterste woede opgetree het, sou hierdie omstandigheid nie as 'n versagtende een beskou kon word nie.
Sedert die uitspraak betreffende versagtende omstandighede gelewer is, het die Strafregwysigingswet 107 van 1990 in werking getree. Die draagwydte en effek van die tans tersaaklike wysigings is sedertdien in 'n hele aantal beslissings van hierdie hof onder die loep geneem. Die kern van daardie gewysdes is onlangs soos volg saamgevat in 'n tot dusver ongerapporteerde uitspraak van hierdie hof (Khumalo en Andere v Die Staat, 655/89):

"Die slotvraag is of die hof, alles in ag genome - strafverswarende en -versagtende faktore, die

16/...

16.

persoonlike omstandighede van die betrokke beskuldigde, die jurisprudensiële oogmerke van straf, die gemeenskapsbelang - van oordeel is dat die doodvonnis in werklikheid die enigste gepaste vonnis is; en by die beoordeling van daardie vraag op appèl geniet hierdie hof 'n selfstandige diskresie om die vonnis van die verhoorhof tersyde te stel en sy eie vonnis te substitueer indien hy van oordeel is dat hy nie self die doodvonnis sou opgelê het nie."

Ek hoef slegs by te voeg dat die bewyslas om buite redelike twyfel die bestaan van verswarende en die afwesigheid van versagtende faktore aan te toon op die Staat rus. Wat laasgenoemde betref, kom die bewyslas egter slegs ter sprake indien 'n redelike moontlikheid van die bestaan van 'n versagtende faktor uit die getuienis blyk: S v Nhwanyana and Others, 1990(4) SA 735(A) 744.
Die eerste drie appellante was ten tyde van die moord onderskeidelik 23, 23 en 21 jaar oud. Dat daar, wat hulle betref, verswarende faktore was, behoef geen betoog nie en is namens hulle toegegee.

17/...

17.

Die aanvalle op en moord van die oorledene was wreed
en weersinwekkend. 'n Mens kan jou trouens nouliks
meer barbaarse optrede voorstel. Veral verswarend is
die feit dat hier nie 'n aaneenlopende en ononderbroke
opvolging van gebeure was nie. Onthou sal word dat
na die aanvanklike aanranding op die oorledene die
appellante van hom weggevlug en hulle verskuil het.
Dit het gebeur omdat iemand geskreeu het dat 'N
polisievoertuig aan die kom was. Dat die oorledene op
daardie stadium magteloos was om hom te verset, blyk
uit 'n navrante stukkie getuienis van sy vrou. Sy sê
dat die oorledene se gesig vol bloed was en dat hy
probeer het om orent te kom maar te swak was om dit te
doen. Die verposing waartydens die appellante hul
verskuil het, het voldoende geleentheid vir 'N
afwelling van gevoelens en besinning gebied. Maar toe
dit blyk dat 'n valse alarm gemaak was, kom die

appellante uit hul skuilplekke te voorskyn met die

18/...

18.

ontwyfelbare doel om die magtelose oorledene nie slegs
te dood nie maar verder te martel. Van een of ander
vorm van volgehoue, impulsiewe optrede was daar dus
net nie sprake nie.

Wat versagtende faktore betref, het die

appellante se advokaat in hoofsaak gesteun op die
getuienis van Dawes. Ek stem egter saam met die
verhoorhof dat daardie getuienis slegs betrekking het
op die optrede van die skare, in teenstelling tot die
appellante se aanvalle op die persoon van die
oorledene. Dawes het getrag om aan te toon waarom die

skare vergader en klippe na die huise gegooi het. Hy
het 'n verduideliking verstrek waarom individue wat
hulle andersins nie aan geweld skuldig sou gemaak het
nie, by die optrede van die skare betrokke kon geraak
het; bv, weens vrees om as "impimpis" beskou te word
of weens sogenaamde "peer pressure". Dawes het egter

ruiterlik toegegee dat hy geen verklaring vir die

19/...
19. moorddadige optrede van die appellante - en meer spesifiek die eerste drie appellante - kon bied nie. Ten aansien van die eerste appellant het hy gesê:

"None of these factors offer a clear explanation for his role in the death of the deceased."

Bykans identiese getuienis is betreffende die tweede en derde appellante gegee. Trouens, en dit is belangrik, Dawes het dit duidelik gemaak dat motiverings vir en verklarings van die aanvalle op die oorledene nie binne sy deskundigheidsveld geval het nie. Hy het gesê:

... my explanation so far has discussed taking part in the crowd and beginning to conform to what is expected in that crowd. What I want to say is that there is another stage as the sort of thing that you are talking about, the vicious behaviour, the assaults and things like that, which is a second stage of the process. And that particular part of the process, the crowd behaviour and so on, is not an area of expertise of mine."

20/...

20.
In hierdie verband moet steeds in gedagte gehou word dat 'n groot skare in Matsiestraat saamgedrom het, dat heelwat van hulle waarskynlik aan die klipgooiery deelgeneem het maar dat slegs die vyf appellante die oorledene fisies enige leed aangedoen het. Trouens, vanaf kort nadat die oorledene by die agterdeur van mev Phalatsi se huis beetgepak is, was die skare in essensie passief. Niemand anders as die appellante het hom op erf 901 begeef nie - altans nie in die nabyheid van die oorledene nie - en niemand anders het deelgeneem aan die afgryslike verwonding en verbranding van die oorledene in die straat nie.

Namens die appellante is ook aangevoer dat

hul onmenslike gedraginge, en veral die verbranding
nadat die oorledene reeds dodelik beseer was, daarop
dui dat hulle beheer oor hulself verloor het. In die
veronderstelling dat dit ooit gebeur het, het ek egter
reeds daarop gewys dat hulle 'n genoegsame geleentheid

21/...
21. gehad het om beheer te herwin en tot hulle sinne te kom terwyl hulle hul verskuil het.

Ook is betoog dat die onderhawige nie 'n

vooraf beplande moord was nie. In die lig van wat reeds gesê is, is dit egter 'n neutrale faktor. Ten koste van herhaling moet weer eens beklemtoon word dat daar nie sprake van ononderbroke, impulsiewe optrede was nie.
Ek let vervolgens op die rol wat elk van die eerste drie appellante gespeel het en op faktore wat daarmee verband hou.

Wat die eerste appellant betref, is tereg

toegegee dat geen peil getrek kon word op sy hoorsê
bewerings teenoor Dawes dat hy op 'n stadium in
aanhouding verkeer het nie. Ewe-eens is tereg
toegegee dat by ontstentenis van getuienis deur die
eerste appellant nie gesteun kon word op die feit dat
hy deur 'n haelkorrel of twee getref is nie. In

22/...

22.
eerste instansie weet 'n mens nie of dit hom - soos
Dawes gespekuleer het - woedend gemaak het nie. In
tweede instansie toon die getuienis aan dat hy slegs
lig verwond was en dat 'n nie onaansienlike tydperk
verloop het voordat hy by die agterdeur van mev
Phalatsi se huis opgedaag het. Indien die eerste
appellant in 'n woedebui verval het, was daar dus
voldoende geleentheid vir ontlonting alvorens hy die
oorledene beetgepak het. Dit is derhalwe onnodig om

in te gaan op die vraag of woede veroorsaak deur die
verwonding die eerste appellant se optrede minder
verwytbaar sou maak.

Dit ly geen twyfel nie dat die eerste

appellant op 29 Mei 1986 een van die voorbokke -

indien nie diê voorbok nie - was. Toe die skare
oorspronklik saamgedrom het, het ene Shlangatse vir
Patrick Lesito nader geroep. Shlangatse het vir hom

gesê dat hy moes help om klippe te gooi omdat die

23/...

23.
munisipale polisie die parkie gesloop het. Die eerste
en tweede appellante was by en eersgenoemde het vir
Lesito gesê dat as hy nie gehoor sou gee nie hy 'n

"impimpi" sou wees - wat duidelik 'n bedekte dreigement

ingehou het. Dit was die eerste appellant wat saam
met 'n ongeëiende persoon - moontlik een van die ander
appellante - die voorbereidingswerk vir die latere
aanvalle gedoen het deur die oorledene by die
reedsgenoemde agterdeur beet te pak. Dit was hy wat
die oorledene die eerste - en klaarblyklik 'n ernstige

- besering toegedien het deur hom met laasgenoemde se
geweer oor die kop te slaan. Behalwe toe hy soos
voormeld geskuil het, was hy deurgaans in die
onmiddellike teenwoordigheid van die oorledene. Dit
was hy wat nadat die appellante die aanvalle hervat
het die oorledene met 'n mes gesteek het. Dit was hy
wat 'n buiteband onder die oorledene se lyf geplaas
het. En dit was hy wat, nadat almal stukke papier oor

24/...
24. die oorledene se lyf gestrooi het, die finale hoofstuk van die barbaarse' tragedie voltooi het deur die oorledene aan die brand te steek.
Dat gewelddadige optrede nie iets vreemds vir die eerste appellant was nie, blyk uit sy vorige veroordelings. Hy is naamlik in 1980 en 1983 skuldig bevind op twee roofklagte waarby dreigemente met 'n mes betrokke was, asook op twee aanrandingsklagte waarby van 'n mes gebruik gemaak is.
In die geval van die eerste appellant kan ek geen versagtende faktore bevind nie. Daarteenoor roep die verswarende faktore so luidkeels om vergelding dat selfs lewenslange gevangenisstraf onvoldoende is en die doodstraf na my mening die enigste gepaste straf is.

Elk van die tweede en derde appellante -

veral laasgenoemde - het 'n mindere rol as die eerste

appellant gespeel. Hulle het niks aan die oorledene

25/...

25.
gedoen nie alvorens die eerste appellant hom met die
geweer oor die kop geslaan het, en selfs daarna toon
die getuienis nie aan dat hulle hom aangerand het
behalwe dat hulle die ander gehelp het om hom te sleep
en te trek nie. Dit is egter so dat die derde
appellant die buiteband op die oorledene se lyf
geplaas het en die vloeistof oor hom uitgegooi het, en
dat hy en die tweede appellant die ander drie
behulpsaam was om stukke papier uit 'n asblik te haal
en oor die oorledene te strooi, klaarblyklik wetende
wat die oogmerk daarmee was. Dit is vir my egter 'n
redelike moontlikheid dat die optrede van die eerste
appellant, en veral sy aanvanklike aanranding van die
oorledene wat laasgenoemde ernstig beseer het, as
katalisator gedien het wat die toetrede van die ander
appellante uitgelok het. Dit is dus net so moontlik
dat hulle nie tot geweld sou oorgegaan het as dit nie
vir die - vir hulle - provoserende voorbeeld van

26/...

26.
geweldsuitoefening deur die eerste appellant was nie.

Indien nou voorts in ag geneem word dat nie een van
die tweede of derde appellante tersaaklike vorige
veroordelings het nie en dat daar dus nie 'n
waarskynlikheid is dat hulle hul weer aan h
geweldsmisdaad skuldig sal maak nie, kom ek tot die
gevolgtrekking - weliswaar nie sonder 'n mate van
huiwering wat die derde appellant betref nie - dat nie
die doodstraf nie maar wel langtermyn gevangenisstraf
die gepaste vonnis is. So 'n vonnis vir die derde
appellant is 20 jaar, en vir die tweede appellant 15
jaar, gevangenisstraf.

Ek kom dan by die vonnis van 20 jaar

gevangenisstraf wat elk van die vierde en vyfde

appellant opgelê is. In teenstelling met die eerste

drie appellante wat almal volwassenes was, was die
vierde en vyfde appellante ten tyde van die moord

onderskeidelik net oor die 17 en 16 jaar oud. Nie een

27/...

27.
van die twee het vorige veroordelings gehad nie. In
die verslag van die proefbeampte, mnr Barnard, wat
deur die verhoorregter aangevra is, is daar dan ook
geen aanduiding van gewelddadige of enige ander
kriminele neigings aan die kant van die vierde en
vyfde appellant nie.

Toe die vierde en vyfde appellante gevonnis

is, was dit nie verpligtend om hul die doodvonnis op
te lê selfs indien - benewens jeugdigheid - geen
versagtende omstandighede aanwesig was nie. In die
geval van 'n beskuldigde onder die ouderdom van 18 jaar
het die wetgewer klaarblyklik jeugdigheid as 'n
outomatiese versagtende omstandigheid beskou. Onder
die nuwe bedeling meegebring deur die reedsgenoemde
wet kan 'n persoon onder die ouderdom van 18 jaar
natuurlik nie tot die dood veroordeel word nie

(gewysigde art 277(5)(a) van die Strafproseswet 51 van

1977). Jeugdigheid as "versagtende" faktor word dus

28/...

28.

nog sterker as vroeër aangeslaan.

Die verhoorregter het veral twee oorwegings

in ag geneem by die bepaling van die duur van die
vierde en vyfde appellante se gevangenisstraf, nl,
die gruwelikheid van hul dade en die afleiding dat
hulle uit inherente boosheid opgetree het. Dat die
twee appellante hul aan weersinwekkende gedrag skuldig
gemaak het, val nie te betwyfel nie. Dit was immers
hulle wat in Matsiestraat die swaargewonde oorledene
se skedel vergruis het deur groot klippe daarop te
gooi. Vooraf het die vierde appellant die oorledene
ook met 'n mes gesteek. Dan het hulle ook gehelp om
papierstukke oor die oorledene te strooi wetende van
die voorneme om hom aan die brand te steek. Soos in
die geval van die tweede en derde appellante het hulle
egter nie aan die aanvanklike aanvalle op die

oorledene deelgeneem nie. Hulle het eers op die

toneel verskyn na die eerste appellant se opruiende

29/...

29.
aanranding van die oorledene.
Ek is nie oortuig dat dit enige nut het om by beoordeling van die blaamwaardigheid van 'n
beskuldigde onder die ouderdom van 18 jaar die begrip "innerlike boosheid" by te haal nie. 'n Persoon onder bedoelde ouderdom is uiteraard onvolwasse. In die reël het hy 'n gebrek aan oordeelsvermoë en selfbeheersing en is hy maklik vatbaar vir beïnvloeding - al is dit net deur gedrag van andere wat as voorbeeld vir hom dien. Wat dus in die geval van 'n volwassene of self s 'n persoon in sy laat tienderjare as innerlike boosheid beskou kan word, kan by die onder agtienjarige aan bogenoemde eienskappe en omstandighede te wyte wees.

By die oplegging van gevangenisstraf aan so

'n jeugdige moet dan ook daarteen gewaak word dat sy
waarskynlike of selfs moontlike gesonde ontplooiing as
'n volwassene nie geknak word deur die onvermydelike

30/...

30.
negatiewe uitwerking van 'n baie lang termyn gevangenisstraf nie. En in die huidige geval is die vierde en vyfde appellante volgens die bestaande vonnisse onderworpe aan gevangenissetting vir 'n langer tydperk as elk se lewensjare.
Na my oordeel is 'n gepaste vonnis vir die vierde appellant 10 jaar, en vir die vyfde appellant 8 jaar, gevangenisstraf. Hierdie vonnisse verskil so aanmerklik van dié opgelê deur die vêrhoorregter dat hierdie hof geregtig is om in te meng.
Gevolglik word die appèl van die eerste appellant afgewys en die appèlle van die ander vier appellante gehandhaaf. Wat die tweede tot die vyfde appellante betref, word die vonnisse deur die verhoorregter op die eerste aanklag opgelê soos volg gewysig:

(1) Die tweede appellant: Die doodstraf word vervang deur 15 jaar gevangenisstraf.

31/...

31.

(2) Die derde appellant: Die doodstraf word vervang deur 20 jaar gevangenisstraf.
(3) Die vierde appellant: Die gevangenisstraf van 20 jaar word vervang met 10 jaar sodanige straf.
(4) Die vyfde appellant: Die gevangenisstraf van 20 jaar word vervang met 8 jaar sodanige straf.

Ten aansien van elk van die tweede tot die vyfde appellante word gelas dat die gevangenisstraf opgelê op die tweede aanklag meelopend met bogenoemde strawwe moet wees.

H J O VAN HEERDEN APPèLREGTER

HEFER AR

- Stem saam

STEYN AR