South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 95

| Noteup | LawCite

S v Marco (496/90) [1991] ZASCA 95 (3 September 1991)

Download original files

RTF format


496/90 /mb

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:
STEPHEN MARCO APPELLANT
en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM : SMALBERGER, EKSTEEN ARR et

KRIEGLER WnAR
VERHOORDATUM : 19 AUGUSTUS 1991
LEWERINGSDATUM : 3 SEPTEMBER 1991

U I T S P R A A K

KRIEGLER WnAR/...

1.

KRIEGLER Wn AR:
Appellant het in die Kaapse Provinsiale Afdeling tereggestaan op aanklagte dat hy op 21 April 1988 te Mitchell's Plein 'n dertienjarige dogter genaamd Melanie Keys verkrag en vermoor het. Ten aansien van die eerste aanklag bevind die verhoorhof dat geslagtelike omgang tussen die appellant en die dogter (voortaan "die oorledene" genoem) bewys is, maar nie die afwesigheid van toestemming daartoe nie. Bygevolg word 'n skuldigbevinding aan 'n oortreding van artikel 14 van Wet 23 van 1957 ingebring. Terselfdertyd word appellant skuldig bevind aan die moord. Daarop volg 'n ondersoek na die aan- of afwesigheid van versagtende omstandighedé ooreenkomstig die bepalings van Art 277 van die Strafproseswet nr 51 van 1977 soos dit destyds gelui het. Geen versagtende omstandighede word bevind nie en die gevolglik gebiedende doodvonnis word opgelê. Met verlof van

2/...

2.

hierdie hof is appellant nou in hoër beroep slegs ten aansien van laasgenoemde vonnis.
Vanweë die inwerkingtreding van die bepalings van die Strafregwysigingswet. nr 107 van 1990 is hierdie hof se bevoegdhede en funksie heel anders as dié wat ten tyde van vonnisoplegging, 15 Desember 1989, gegeld het. Die aard en omvang van die veranderings wat deur bedoelde Wet teweeggebring is, is in 'n reeks onlangse beslissings van hierdie hof ontleed en uitgestip. Kyk bv. S v Masina and Others 1990 (4) SA 709 (A); S v Senonohi [1990] ZASCA 93; 1990 (4) SA 727 (A); S v Nkwanyana and Others [1990] ZASCA 95; 1990 (4) SA 735(A). Bygevolg kan kort gegaan word wat betref die toepaslike beginsels. Hierdie hof moet self oordeel of die doodvonnis hier gebiedend aangewese is deur die aan- of afwesigheid van strafversagtende en -verswarende faktore in ag te neem en dit tesame met die geykte oogmerke van straftoemeting te oorweeg. Die Staat dra die bewyslas om bo redelike twyfel die

3/...
3. aanwesigheid van strafverswarende faktore te bewys asook om strafversagtende faktore te weerlê waarvoor daar 'n feitebasis bestaan.
Die feite waarop voormelde beginsels toegepas moet word, kan soos volg saamgevat word. Appellant is 'n verwer gebore op 8 Mei 1950. Gedurende 1988 knoop hy
'n minne-verhouding aan met mev Valerie Keys. Vanaf die begin 1989 woon hulle saam in mev Keys se huis in Mitchell's Plein met haar twee dogters van 13 jaar en 6 jaar onderskeidelik, oorledene en Lee-Ann. Ofskoon appellant goed met mev Keýs en Lee-Ann oor die weg kom, is daar uit die staanspoor spanning tussen hom en die oorledene. Sy is geheg aan haar vader met wie haar moeder nog getroud maar lank reeds vervreemd is. Appellant dra by tot die onderhoud van die huishouding en probeer die rol van gesinshoof speel. Dit word egter deur die oorledene en, tot 'h mindere mate, deur haar moeder ervaar as baasspelerigheid. Gaandeweg

4/...
4. versleg die verhouding tussen appellant en oorledene dermate dat hulle mekaar ignoreer en deur die ander twee gesinslede met mekaar noodsaaklike kommunikasies voer.

Saterdagaand 16 April 1989 is daar 'n

woordewisseling tussen appellant en mev Keys. Die strekking daarvan was by die verhoor in geskil, maar dit is vir huidige doeleindes onnodig om daarop in te gaan. Dit is gemene saak dat appellant nie die betrokke aand in die hoofslaapkamer geslaap het nie, maar wel in die sitkamer. Dit is ook gemene saak dat hy die volgende oggend stuurs was, 'n koppie tee wat mev Keys hom aanbied weier, die huis uitstap en eers die daaropvolgende Donderdagoggend 21 April 1989 terugkeer.
Oor wat toe later dié noodlottige dag daar in die huis plaasvind, heers daar aansienlike onsekerheid aangesien die enigste deurlopende relaas verstrek word deur appellant, wie se getuienis origens onbevredigend

5/...
5. is. Sy weergawe is dat hy, vandat die dogters kort na twee-uur die middag van die skool af by die huis gekom het, deur oorledene se optrede uitgetart en geïrriteer is. Volgens hom het hy uiteindelik teen ongeveer 17h00, in 'n vlaag van skielike en onbeheerste woede, blindelings 'n hou na haar geslaan met 'n handbyl wat toevallig ter hand was. (Blykens die geneeskundige getuienis het die lem haar skuins van agter op die nek getref, die werwels deurboor en die rugstring noodlottig afgesny.) Appellant het egter ten ene male enige geslagtelike omgang tussen hom en oorledene ontken en die blote gedagte daaraan as ondenkbaar "sadisties" verwerp. Die verhoorhof het egter die reeds gemelde bevinding dienaangaande gemaak en dit staan hierdie hof, vanweë die beperkte omvang van die appèl wat nou dien, nie vry om op die meriete van sodanige bevinding in te gaan nie. Uiteraard is appellant se relaas van voortdurende uittarting wat 'n

6/...

6.
gewelddadige uitbarsting ontketen haas onbestaanbaar met konsensuele geslagsverkeer tussen hom en die oorledene in die loop van die middag. Dit is ook nouliks versoenbaar met die wedersydse stroefheid wat hul verhouding maandelank gekenmerk het. Nietemin is dit die karige en bisarre gegewens waarmee klaargekom moet word.
Ofskoon daar nooit klaarheid sal wees oor wat die betrokke middag werklik gebeur het nie, kan daar tog uit dit wat wel bekend is, enkele afleidings gemaak word. Eerstens was appellant nie van nature geneig tot geweld nie. Op die ouderdom van bykans 40 jaar, het hy slegs een vorige veroordeling, en dit vir die besit van dagga in 1971. Mevrou Keys, wat appellant by die verhoor allermins goedgesind was, moes beaam dat hy nie 'n man van geweld is nie. Hy het dan ook, ondanks oorledene se maandelange opstandigheid, nooit sy hand vir haar gelig nie. Daar is trouens in

7/...
7. mev Keys se origens vyandiggésinde getuienis geen suggestie dat appellant tydens die tydperk van sowat 'n jaar wat sy hom intiem geken het ooit sy humeur verloor het nie.
Ten tweede, en daarby aansluitend, staan die toediening van die noodlottige hou opvallend geïssoleerd in die samehang van die betrokke dag se gebeure. Dit word vooraf gegaan deur etlike ure se oënskynlik vreedsame samesyn. Die dogters is besig met hul dagtake terwyl appellant met sy koerant besig is; skoolmaats lê besoek af en appellant stuur oorledene en Lee-Ann meermale om inkope te doen. By een geleentheid toe Lee-Ann vir appellant 'n koerant gaan soek het - en stellig net 'n rukkie weg sou wees - word die dodelike hou toegedien. Nog die lyk nóg die huis dra tekens van enige gepaardgaande geweld niê.

Gevolglik kan appellant se getuienis dat hy onbesonne en in 'n skielike opwelling van woede die

8/...
8. dodelike hou geplant het nie verwerp word nie. Sy daaropvolgende optrede dui ook daarop dat dit 'n
kortstondige uitbarsting van geweld was. Hy het naamlik onbeholpe probeer om die oorledene se bebloede lyk te oordek, druk die byl onder 'n matras in en neem die wyk in sy bebloede klere. Die daaropvolgende aand, onmiddellik na sy inhegtenisname, verklaar hy aan 'n landdros dat hy die oorledene sonder voorbedagte rade en in 'n opwelling van woede die enkele en noodlottige hou toegedien het met 'n byl wat toevallig voorhande was.
Namens die Staat is daar egter aangevoer dat appellant die oorledene berekend vermoor het om te verhoed dat sy haar moeder van die geslagsomgang vertel. Bowendien, so is aangevoer, is appellant aangespoor tot die moord deur 'n lank-gekoesterde wrok jeens die oorledene. Geeneen van die twee submissies is egter 'n noodwendige gevolgtrekking uit die

9/...
9. omstandighede nie. Trouens die verhoorhof, wat die getuies van aangesig tot aangesig kon beoordeel en die atmosfeer van die verhoor kon ervaar, het beide sub-missies verwerp. Daar is geen rede om te verskil nie. Waar hierdie hof geroepe is om opnuut oor die opgelegde doodvonnis te besin, moet dit dus geskied op die grondslag dat appellant redelikerwys moontlik in 'n onbesonne oomblik van woede 'n enkele dog gewelddadige hou op die ontblote nek van 'n kind laat val het met 'n moorddadige wapen wat toevallig byderhand was. Sodanige bevindings moet dan in samehang met die bekende viertal oogmerke van straftoemeting inaggeneem word om te bepaal of die doodvonnis hier die enigste gepaste straf is. Die antwoord is myns insiens ontkennend. Dat appellant onbesonne, eenmalig en in toorn gehandel het, is in sigself strafversagtend. Daarby moet gevoeg word dat appellant nie van nature 'n
geweldenaar of selfs opvlieënd is nie. Bygevolg speel

10/...

10. die voorkomings- en persoonlike afskrikkingsoogmerke van straftoemeting geen noemenswaardige rol nie. Sy algemene lewenswandel as nuttige burger met slegs 'n enkele en slagofferlose vergryp teen die gereg in die verre verlede, begunstig ook die vooruitsigte op hervorming. Selfs met inagneming van die gemeenskap se gebillikte aanspraak op vergelding, meen ek nie dat die doodstraf of selfs buitengewoon lang gevangenisstraf aangewese is nie. In laasgenoemde verband moet ook in berekening geneem word dat appellant dertien maande in hegtenis verhoorafwagtend was en een jaar gevangenisstraf op aanklag 1 moet uitdien. Vir die onderhawige misdaad is gevangenisstraf van 18 jaar van pas.

Bygevolg slaag die appèl teen die vonnis. Die doodvonnis word tersyde gestel en vervang met 18 jaar gevangenisstraf.

J C KRIEGLER Wn APPèLREGTER

SMALBERGER AR )

- Stem saam
EKSTEEN AR )