South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 162

| Noteup | LawCite

S v Lamula (704/91) [1992] ZASCA 162 (22 September 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


SAAKNOMMER: 704/91

PIUS LAMULA APPELLANT
en
DIE STAAT RESPONDENT

HARMS, WnAR:

SAAKNOMMER: 704/91

J VD M

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)

In die saak tussen:
PIUS LAMULA Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: VAN HEERDEN, VAN DEN HEEVER, ARR

et HARMS, WnAR

VERHOORDATUM: 15 SEPTEMBER 1992
LEWERINGSDATUM: 22 SEPTEMBER 1992

UITSPRAAK

HARMS, WnAR:

Op Saterdag 5 Augustus 1989 om ongeveer 10h00 was mnr Stanley Manuel ("die oorledene") op pad bank toe.

2

Hy moes, soos gebruiklik, sy werkgewer ('n drankhandelaar) se kontant gaan bank. Hy het in sy besit R5000,00 in kontant en tjeks ter waarde van R107,80 gehad. Ongeveer 20 meter straat-af het iemand hom van voor genader. 'n Kort gesprek het plaasgevind en direk daarna het 'n skoot afgegaan. Die koeëlpunt het sy aorta en linker-atrium deurboor en tussen die sesde en sewende ribbes posterior te lande gekom. Die persoon wat hom genader het, het die geldsak gegryp en homself uit die voete gemaak. Ten spyte van mediese hulp wat byna onmiddellik opgedaag het, is die oorledene op die toneel dood. Die geld is nie weer gevind nie.

Die appellant is deur 'n ooggetuie, mnr Cyprian Mnguni, as die rower geïdentifiseer en aan die hand daarvan is die appellant in die Rondgaande Hof (Mitchell R met assessore) aan moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van 'n vuurwapen skuldig bevind. Ten aansien van die moord is die

3

doodvonnis opgelê terwyl tien jaar gevangenisstraf weens die roof en twee jaar gevangenisstraf weens die besit van die vuurwapen opgelê is. Laasgenoemde twee vonnisse is samelopend. 'n Aansoek om verlof tot appél is deur die verhoorregter van die hand gewys maar is na aanleiding van 'n petisie gerig aan die Hoofregter, toegestaan.
Ek behandel eers die appél teen die skuldigbevinding. Soos reeds gese, is die appellant deur die getuie Mnguni geïdentifiseer. Die appellant se weergawe was dat, hoewel hy gedurende die betrokke Augustusmaand in Estcourt (waar die misdrywe gepleeg is) was vir mediese behandeling, hy hom nie die betrokke dag kon herinner nie en, in ieder geval, het hy ontken dat hy by die misdade betrokke was. Die verhoorhof het die appellant se getuienis as vals verwerp en bevind dat Mnguni se getuienis bo redelike twyfel waar was. Dit is nie aan ons voorgehou dat die verhoorhof nagelaat het om

4

enige relevante feit behoorlik te oorweeg nie of dat daardie hof homself in enige opsig wanvoorgelig het nie. Die betoog het om onbenullighede gewentel soos dat die een getuie sou gesê het dat die gebeure om 9h00 plaasgevind het terwyl ander getuies dit om 10h00 geplaas het, of dat een getuie sou gesê het toe die aanvaller die toneel verlaat het hy geloop het terwyl 'n ander van oordeel was dat hy gehardloop het. Daar is na my oordeel geen meriete in hierdie betoog nie en ek is nie van plan om dit verder te analiseer nie.

Dit moet aanvaar word dat Mnguni die gebeure waargeneem het. Dit is kortliks nodig om sy weergawe dat dit die appellant was wat die handelinge verrig het, te ontleed ten einde te bepaal of dit steekhou veral in die lig van die appellant se ontkenning. Volgens Mnguni is hy 'n taxi-bestuurder wat die betrokke Saterdagoggend met sy swaer gesels het. Die appellant het by hom verby gestap en hy het hom by name (eintlik sy van)

5

gegroet. Die appellant het teruggegroet. Die appellant het oor die pad gestap en hy het toe gesien hoe die appellant die oorledene voorkeer; hy het die skoot gehoor en gesien hoe die appellant die toneel met die geldsak verlaat. Hy het onmiddellik na 'n speurder adjudant-offisier van die Suid-Afrikaanse Polisie, ene Holder, by die polisiestasie gegaan, die misdryf aangemeld en vir hom gesê dat dit die appellant was wat die misdryf gepleeg het. Hy het die appellant aan Holder geïdentifiseer met verwysing na sy van, sy plek van oorsprong en die feit van 'n onlangse arres. Holder het onmiddellik geweet van wie Mnguni praat omdat hy die appellant geken het.

Daar kan, ten spyte van die appellant se protestasies tot die teendeel, geen twyfel wees dat Mnguni hom goed geken het nie. Mnguni was in staat gewees om die plaas waarop die appellant grootgeword het te identifiseer en volgens hom het hy self op die

6

aangrensende stuk grond grootgeword. Hy het nie alleen die appellant se van nie, maar ook sy naam geken. Volgens hom het hy en die appellant vir 'n paar jaar in Johannesburg gewerk en in dieselfde hostel gebly. Hy het ook geweet dat die appellant 'n bekende Ngoma-sanger was en dat hy in daardie hoedanigheid 'n mate van bekendheid verwerf het. Die appellant het erken dat hy op die betrokke plaas grootgeword het, dat hy in die betrokke hostel woonagtig was en dat hy 'n reputasie as Ngoma-sanger gehad het. Dit is nie gesuggereer dat Mnguni enige motief gehad het om die appellant valslik by enige misdryf te betrek nie.

Dit is egter betoog dat Mnguni se vermoë om die booswig te identifiseer gekortwiek is deur die feit dat hy 'n bruin klap- of oortrekmus gedra het. Mnguni het egter getuig dat die mus nie sy gesig bedek het nie en in die lig van die feit dat dit nie betwis is dat die appellant tydens sy arrestasie in besit van so 'n mus

7

gevind is en veral Mnguni se getuienis dat die appellant hom teruggegroet het, is ek van oordeel dat die mus geen invloed op Mnguni se identifikasie-vermoë kon gehad het nie. Dit volg dus uit voorgaande dat ek van oordeel is dat die verhoorhof tereg tot die gevolgtrekking gekom het dat peil op Mnguni se getuienis getrek kan word en dat dit die appellant se skuld bo redelike twyfel vasstel.
Die appél ten aansien van vonnis is slegs teen die doodvonnis gerig. Ten tye van die oplegging van die doodvonnis op die appellant was die vraag nog of daar versagtende omstandighede teenwoordig was. Die hof het van nee geoordeel. Die hele aangeleentheid moet van nuuts af in beskouing geneem word en hierdie Hof moet 'n eie oordeel oor die noodsaak van die doodvonnis uitspreek.

Die appellant was ten tye van die verhoor 35 jaar oud, kragtens gewoontereg getroud en het drie kinders

8

gehad. Hy het na bewering geen formele opleiding ontvang nie. Hy het egter (ten minste van tyd tot tyd) 'n sinvolle betrekking as arbeider beklee. Hy het drie vorige veroordelings: gedurende 1981 is hy skuldig bevind aan ' n poging tot verkragting en is drie jaar gevangenisstraf opgelê waarvan die helfde opgeskort was; gedurende 1987 is hy skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstige liggaamlike leed te berokken en op dié geleentheid het hy 'n mes gebruik en was die vonnis ses maande gevangenisstraf wat op gepaste voorwaardes opgeskort is; ten slotte is hy 'n maand later aan grypdiefstal skuldig bevind en gevangenisstraf met 'n alternatief van 'n boete opgelê. Hieruit blyk dit dat die appellant nie alleen 'n geweldenaar en 'n dief is nie maar dat hy geen respek vir die reg het nie.

Dit is namens die appellant betoog dat die misdaad nie vooraf beplan is nie en dat daardie feit as 'n versagtende faktor in sy guns aangemerk behoort te word.

9

Ek is hoegenaamd nie daarvan oortuig dat daar enige basis bestaan om tot so 'n gevolgtrekking te geraak nie. Waar het die appellant se vuurwapen so skielik vandaan gekom? Hoe het hy geweet dat die oorledene geld in sy besit sou gehad het? Inderdaad is die enigste redelike afleiding dat hy die drankwinkel van 'n afstand af bespied het en toe die oorledene die winkel verlaat het vinnig die straat gekruis het om hom voor te keer. Verre daarvandaan dus dat daar geen beplanning was nie, is ek van oordeel dat daar wél 'n vooraf beplanning was en dat dit as verswarend teen die appellant behoort te tel. Geen ander strafversagtende faktore is aan ons voorgehou nie en ek kan my ook geen ander voorstel nie. As mens egter na die strafverswaren.de faktore kyk, is hulle oorweldigend. Ek het reeds verwys na die appellant se vorige veroordelings en die voorafbeplanning. Daarbenewens was die moord nie alleen koelbloedig nie maar ook vermetel. Die

10

appellant het geweet dat hy herken is deur Mnguni en nogtans het hy voortgegaan om in die gesigsveld van Mnguni die misdryf te pleeg. Die vuurwapen is eenvoudig op die oorledene se hart gerig en van 'n afstand van minder as 75cm afgevuur - 'n teksboek voorbeeld van dolus directus. Die motief vir die moord was finansiële gewin maar dit was sinloos omdat dit nie noodsaaklik vir die uitvoering van die roof was nie. Daar is geen aanduiding dat die oorledene hom enigsins teengesit het nie.

By die oorweging van die vraag of die doodvonnis die enigste gepaste vonnis is, is ek van oordeel dat die aard van die verswarende faktore sodanig is dat die gevolgtrekking dat dit wel so is, onafwendbaar is. Daarbenewens het rowers al minder respek vir die lewe van hulle slagoffers en kom doellose moorde in die loop van gewapende rooftogte al hoe meer voor. Die gemeenskapsbelang verg die hoogste straf.

11

In die lig van voorgaande word die appél van die hand gewys.

L T C HARMS WnAR

VAN HEERDEN, AR)
STEM SAAM VAN DEN HEEVER, AR)