South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 169

| Noteup | LawCite

S v Hooper en 'n Ander (32/91) [1992] ZASCA 169 (24 September 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


CG SAAKNOMMER: 32/91

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)

In die saak van:

DENNIS MONDON HOOPER Eerste Appellant

CECILIA MARIA DU PLOOY Tweede Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: HEFER, KUMLEBEN et VAN DEN HEEVER ARR AANGEHOOR: 18 SEPTEMBER 1992 GELEWER: 24 SEPTEMBER 1992

UITSPRAAK VAN DEN HEEVER AR
2 Appellante is in die Suid-Transvaal Streekhof skuldig bevind en gevonnis op twee aanklagte wat spruit uit hulle optrede in die tydperk Maart tot September 1988 teenoor tweede appellant se kinders Bonita, toe vyf jaar oud en haar broertjie Gerrie, destyds vier. Die Witwatersrande Plaaslike Afdeling het hulle appèl teen beide skuldigbevindings en vonnisse van die hand gewys, maar verlof verleen tot 'n verdere appèl ten opsigte van die vonnis. Ek verwys in wat volg na appellante as die stiefpa en die moeder, en na die kinders op hul voorname.
Die stiefpa is skuldig bevind op die twee hoofaanklagte, van aanranding met die opset om ernstig te beseer op Bonita en op Gerrie en gevonnis tot twee jaar gevangenisstraf op elke aanklag. Die moeder is skuldig bevind aan die twee eerste alternatiewe aanklagte, naamlik oortreding van a 50(1)(a) van die Kindervet nr 74 van 1983 deurdat sy die kinders mishandel het of toegelaat het dat hulle mishandel word.
3 Sy is dieselfde vonnis opgelê behalwe dat helfte daarvan vir vyf jaar voorwaardelik opgeskort is.
'n Tweeledige aanval is geloods teen die opgelegde vonnisse: hulle is skokkend swaar, en hulle moes andersoortig gewees het.
Die geskiedenis wat aan die verhoorhof voorgelê is, is een van doelbewuste en hartelose venyn van 'n stiefpa onder voorwendsel dat hy die kinders tug, en van ruggraatlose versuim van 'n moeder om haar kinders teen hom te beskerm.
Sy was nog getroud met die kinders se eie vader toe sy in Januarie 1988 'n saamleefverhouding met die stiefvader aangeknoop het. Hulle het saam in 'n woonstel gebly en die bloukol-tydperk het begin, volgens die stiefpa se erkenning. Die kinders was volgens hom nie te erg stout op daardie stadium nie en hy het nie nodig gehad om hulle meer as eenmaal per week te slaan nie, wat hy gedoen het met wat hy beskryf as sy egte leer 2 sentimeter breë lyfband.
4 Die moeder is in Maart van haar eggenoot geskei. Voor dit het sy blykbaar die kinders van hul eie vader weggehou maar in die egskeidingsbevel het hy toegangsreg verkry. Volgens die stiefpa het die kinders daarna meer stout geword as voorheen en meer dragte slae van hom gekry. Die moeder was swanger van hom, en het hom die reg verleen om hulle te tugtig. Hy het ook.
Nog in die eerste helfte van 1988 het die vier ingetrek in 'n skakelhuis in Markstraat, Newlands in Johannesburg. Bonita en Gerrie het net eenkeer kom kuier by die buurvrou, mev Matthyssen, wat 'n ouer seun en 'n 3-jarige dogtertjie het. Daarna is hulle verbied om die besoek te herhaal, soos die huisbediende Lucia Makatshaba verbied is om die kinders te bad en aan te trek. Die moeder sou dit self doen.
Die rede waarom die kinders ingehok en onbesigtig moes bly, was omdat die stiefpa hulle verniel het. Beide die volwassenes het bedags gewerk. Hy het smiddags eerste tuis gekom. In sy afwesigheid was alles
5 langsaan stil. Sodra hy tuiskom hoor mev Matthyssen hoe die kleingoed gelooi en geskel word en gedreig word met geweld in growwe taal. Naweke as die moeder tuis is, was dit darem stil.
Dit is onnodig om die hartseer verhaal in detail uit te pluis. Die stiefpa het erken dat hy die kinders male sonder tal nuwe kneusplekke op die oues gegee het met sy gordel. Hy het ontken dat hy sy vuis op hulle gebruik het, of Bonita opgetel en neergegooi het. Hy verduidelik dat die toestand waarin die kinders gevind is toe eers Bonita moes hospitaal toe en die artse daarna Gerrie ook laat haal het, almal se skuld behalwe syne was. Die kinders was ongehoorsaam. Voorbeelde wat hy genoem het was dat hulle teen sy verbod in, in 'n voor-vensterbank geklouter het en vir Lucia gevloek het. Dit was nie aan Lucia gestel nie. Lucia het geen probleme met hulle bedags gehad nie. Die stiefpa het ook gekla oor Gerrie se toiletgewoontes en hom gelooi sodat en terwyl hy droogmaak waar hy 'n plas
6 gelaat het. Hy het erken dat hy na maande agtergekom het "die man het 'n probleem" waarna een of ander middel by die apteek gekoop is. Die eie vader is ook blameer: hy het die kinders nie genoeg getug nie, daarom was hulle maar saf en het maklik gekneus.
In September 1988 was die stiefpa volgens hom werkloos. Mev Matthyssen wat vertel het van aanhoudende houe, en gehuil, en hoe daar op die kinders geskree word, het getuig dat op die 13de September sy gehoor het dat die stiefpa sê: "O jy wil val, ek sal jou wys wat gaan ek maak", gevolg deur 'n slag soos van iets wat val; en, toe Bonita huil, sê die stiefpa "as ek terugkom gaan ek jou poesbek slaan" of "as ek terugkom en jy huil nog so gaan ek jou in jou bek slaan". Die moeder het agtergekom toe sy die aand die kinders bad, dat Bonita glad nie haar arm kon optel nie. Die stiefpa wat die namiddag by sy gewese vrou gekuier het, is vertel daarvan toe hy tuiskom. Die twee het Bonita na die J G Strydom hospitaal geneem.
7 Toe Gerrie vir sy suster kuier is gemerk dat hy ook kneusplekke het. 'n Maatskaplike werkster is daarop attent gemaak en 'n hofbevel verkry dat die seuntjie ook verwyder word uit die huishouding. Hy is gevind by die stiefpa se broer. Nadat hy ook ondersoek is, is eers die stiefpa, dieselfde dag, naamlik 16 September 1988, gearresteer en daarna op 20 September die moeder. Hulle is waarskynlik kort daarna uit aanhouding vrygelaat, want op 25 September is hulle getroud. Hy wou by mev Matthyssen weet wat sy aan die polisie vertel het en het die huisbediende verbied om met enigiemand te praat. By die verhoor het hy probeer om haar getuienis ongedaan te maak met 'n wolhaarstorie dat Lucia hom vertel het dat sy deur polisie uitgeskel en geforseer is om by hulle 'n valse verklaring af te lê.
Nadat die twee van hulle skuldig bevind is, is maatskaplike voor-vonnis verslae verkry. Maar eers die mediese getuienis. Bonita is by die ongevalle afdeling

8

van die hospitaal opgeneem op 13 September. X-strale is geneem. Sy is oorgeplaas na 'n saal waar Dr Wilson haar ondersoek het. Haar gesig was gekneus op die neusbrug, en bo die regter oog, met verdere kneusings oor haar regter elmboog, knie en voet. Haar boude was letterlik bont geslaan, die reënboogkleure waarvan bewys het dat houe op verskillende tye toegedien is. Beide bene van die regter voorarm het knakbreuke getoon wat reeds aan't herstel was, en daar was 'n vars ingedrukte fraktuur van die nek van die bo-armpyp. Dit sou aansienlike slaankrag geverg het om dié fakture te veroorsaak, volgens die medici. 'n Kind se bene is buigbaar, slegs erge trauma laat dit breek.

Gerrie is op die 16de deur Dr Clur ondersoek en het ewe ernstige letsels as sy sussie gehad, of selfs erger. Hy was bang, wou nie uitgetrek word nie, het gepleit om nie seergemaak te word nie. Uitwendig was hy oortrek van kneusings van verskillende kleure en dus verskillende ouderdomme. Sy voorkop was geskraap.
9 geswel en gekneus en die verkleuring het afwaarts gestrek tussen en onder sy oë. Sy linker pols was geswel en teer, die hand gekneus en geswel. Beide elmboë en bo-arms het kneusplekke gehad, so ook sy rug, boude, en linker dy. Daar was puntbloeding aan die binnekant van laasgenoemde, waar bloedvate geskeur is. Dié area was met pers omring en die pers weer met rooi, "and it was guite, quite a painful area", sê Dr Clur. "It must have been quite a lot of force, to produce that injury." En daar was kneusings aan albei sy bene ondertoe ook.
Radiologiese ondersoek het 'n onlangse knakbreuk van die linker voorarm en pols aan die lig gebring, en dat vroeëre knakbreuke van die regter radius en ulna aan die herstel was.

Die oorkonde, en veral die stiefpa se eie getuienis, toon hom as 'n eiegeregtigde, sadistiese leuenagtige bullebak, en hardkoppig. Die moeder het erken dat sy self voordat sy te ver swanger was, haar
10 kleuters met 'n gordel bygedam het - egter voor die tydperk deur die klagtestaat gedek. Sy het in laasgenoemde tyd die kinders gebad en dus hul letsels gesien en niks gedoen om hulle teen haar bedmaat te probeer beskerm nie. Sy vertel dat sy nie eens bewus was dat die kinders vantevore armfrakture opgedoen het voor dié van 13de September nie, en verdedig die stiefpa se optrede teenoor haar kroos.
Daar is niks in die maatskaplike verslae wat dié siening van die twee wat uit die geskiedenis spruit, ondergrawe nie.

Die stiefpa is nie in sy jeug self mishandel nie, maar is van jongs af weerbarstig en aggressief. Geleenthede hom gegun, het hy nie aangegryp nie, maar uitdagend opgetree om gesag en dissipline te ondermyn. Sy werkrekord is wisselvallig: hy kry werk maar dan kom hy in konflik met medewerkers en bedank, of word afgedank, en is vir 'n ruk dan werkloos. En hy meen nog steeds dat hy geregtig was om sy eie moeder se

11

vermanings ten aansien van sy geweld op die kinders te ignoreer, omdat hy niks verkeerd gedoen het nie.
Wat die moeder betref, geld dieselfde. Sy self het gelukkige en stabiele kinderjare gehad. Aan die proefbeampte het sy vertel dat die stiefpa se optrede vir haar 'n normale hantering in die opvoeding van haar kinders was, en dat sy nie met hom daaroor wou praat nie aangesien sy konflik wou vermy.
Kortom, niks is in die agtergrond van enige van hierdie twee aan die lig gebring wat as versagting aangemerk kan word nie, of verduidelik waarom (anders as inherente boosheid aan die stiefpa se kant, en inherente passiwiteit en gebrek aan verbeelding aan die moeder s'n) hulle opgetree het soos hulle wel gedoen het.
Vir wat die kleuters moes verduur, is die vonnisse wat die streekhof opgelê het eerder te lig as te swaar. Hoe 'n andersoortige vonnis gepas geprakseer kan word, weet ek nie. Advokaat de Villiers het aan die hand gedoen dat 'n boete 'n gepaste

12

alternatief sou wees. Dit is 'n voorstel wat nie erstig opgeneem kan word nie, vanweë die erns van die oortreding. 'n Bedrag wat daardie erns weerspieël sou ver bo appellante se vermoë wees, selfs al sou dit paaiementsgewys afbetaalbaar wees. Daar is geen suggestie dat enigeen van hulle sou baat by behandeling nie. Geen positiewe voorwaarde is voorgestel nie wat gekoppel sou kan word aan opskorting van gevangenisstraf wat beide opbouend vir die veroordeeldes sou wees maar nietemin as verdiende straf ondervind word. En van enige begeerte om hierdie gesin as entiteit behoue te laat bly, kan daar geen sprake wees nie. Bonita en Gerrie kan ooglopend nie in daardie milieu teruggeplaas word nie. Hulle het terapie nodig in die hoop dat die skade aan hulle daar berokken, ongedaan gemaak kan word. Hierdie hof kan slegs die hoop uitspreek dat hulle wel terapie, en liefde, by ander ontvang.

Die gesinsverbrokkeling wat spruit uit gevangenisstraf sal ook die kind gebore aan appellante
13 tref, indien daardie kind nog in hulle sorg verkeer. Te oordeel na wat ons van die ouers uit hierdie oorkonde leer, sai dit daardie kind eerder baat as skaad. In elk geval was daar getuienis dat bevredigende reëlings getref kan word vir die versorging van daardie kind sou beide ouers uit die gemeenskap verwyder word.

Die appéi word van die hand gewys.

Die Griffier word versoek om afskrifte van hierdie uitspraak te stuur na:

1. Die Vrystellingsraad van die Departement van Korrektiewe Dienste.
2. Die Departement van Volkswelsyn vir aandag van sy proefbeampte(s) waar die kinders wat geraak word deur gevangesetting van appellante, hulle bevind.

Die doel is dat die proefbeamptes hulle skriftelik bekendstel aan die Raad, sodat die Raad hulle tydig kan verwittig van die voorgenome vrylating van elk van die appellante. Die doel dáárvan is om te
14 verhoed dat Bonita of Gerrie of enlge so 'n kind teruggeplaas word in die sorg van een of ander of beide van die appellante tensy die betrokke maatskaplike werkers na deeglike ondersoek tevrede is

(a) dat dit in belang van die kind of kinders sou wees dat dit gebeur;
(b) dat voorsorg getref is vir intensiewe toesig oor huile welsyn.

L VAN DEN HEEVER AR

HEFER AR)

STEM SAAM: KUMLEBEN AR)