South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1993 >>
[1993] ZASCA 103
| Noteup
| LawCite
S v Morabe (561/91) [1993] ZASCA 103 (27 August 1993)
Download original files |
Saaknommer 561/91
/al IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING) In die saak van :
ROBERT MORABE APPELLANT
en
DIE
STAAT RESPONDENT
CORAM : VAN HEERDEN,
SMALBERGER
ARR et KRIEGLER WND. AR DATUM VAN VERHOOR : 20
AUGUSTUS 1993
DATUM VAN UITSPRAAK : 27 AUGUSTUS
1993
UITSPRAAK
KRIEGLER WND. AR/....
2 KRIEGLER WND. AR :
Die appellant kom in hoër beroep
teen sy skuldigbevinding in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling op aanklagte
van moord en
die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Dit behels dat hy
laat die aand van Sondag 17 September 1989 by 'n huis in Orlando-Wes,
Johannesburg, 'n jong man genaamd Christopher Masangane ("die oorledene")
doodgeskiet het en dat hy toe in besit was van 'n gelaaide
pistool en rewolwer.
Die appellant se verweer is uit die staanspoor in sy pleitverduideliking en 'n
reeks meegaande erkennings duidelik
aangestip: Die oorledene was die besitter
van beide vuurwapens en is noodlottig verwond toe die appellant in noodweer met
hom om
besit daarvan worstel; daarna het die appellant toe die twee vuurwapens
geneem vir oorhandiging aan die polisie.
Die Staatsaak, primêr gebaseer op die
3
getuienis van 'n enkelgetuie by name Ezekial Masenya, was daarenteen dat die
appellant die besitter van die rewolwer was en dat
hy daarmee die oorledene, wat
kaalhand vir hom gestaan en kyk het, op 'n afstand van ongeveer een-en-'n-half
meter platgeskiet het.
Die verhoorhof het Masenya se weergawe aanvaar en
dié van die appellant verwerp; vandaar die gewraakte
skuldigbevindings.
Die skietvoorval het plaasgevind in die eetkamer
van 'n mev. Winnie Dhlamini se huis, waar die appellant met mev. Dhlamini se
dogter
saamgewoon het. Vroeër die Sondagaand het die oorledene, 'n berugte
bullebak in die buurt, 'n partytjie by die Dhlamini-woning
ontwrig toe hy
ongenooid opdaag en begin skoorsoek. Hy vloek van die vrouens, dreig van die
mans met 'n pistool en skiet 'n paar
skote. Die appellant probeer die oorledene
kalmeer en die aggressie word op hom gefokus. Die appellant is verplig om te
vlug
4 terwyl die oorledene op hom skiet. Toe die appellant 'n
rukkie later terugkeer, skiet die oorledene weer op hom en die appellant
jaag
weer weg. Volgens die appellant en sy suster het hy verskrik by haar opgedaag en
is hy met behulp van suikerwater en 'n paar
drankies tot bedaring
gebring.
Die noodlottige konfrontasie vind plaas toe die appellant
etlike ure later na sy woonplek terugkeer. Die oorledene, wat na sy vroeëre
molesmakery elders heen is, daag kort voor die appellant se aankoms weer by die
Dhlamini-huis op en staan in die eetkamer met mev.
Dhlamini en praat. Die huis
se voordeur sit aan die straatkant en lei direk na 'n sitkamer; agter die
sitkamer is die eetkamer, wat
bereik word deur 'n opening in die tussenmuur. Met
die appellant se aankoms was die oorledene links van die opening (buite sig
vanaf
die sitkamer) naby die tussenmuur. Die
5 appellant deurkruis die sitkamer, betree die eetkamer deur die deurgang
en daarop begin die kritieke fase van die gebeure.
Volgens die
getuie Masenya staan hy op daardie stadium met sy linkerskouer teen die
linkermuur van die deurgang en die oorledene nagenoeg
'n meter verder links; die
appellant stap deur die ingang en, terwyl hy en die oorledene op 'n afstand van
sowat een-en-'n-half tot
twee meter van aangesig tot aangesig staan, rig die
appellant met 'n uitgestrekte regterarm 'n vuurwapen op die oorledene en trek
'n
skoot af. Masenya getuig dat hy in alleryl onder die eetkamertafel invlug terwyl
verdere skote val. Toe die skote klap, so het
Masenya dit, was daar drie ander
persone in die eetkamer, te wete mev. Dhlamini, haar stiefseun en ene Jabulani
Mbatha. (Laasgenoemde
het volgens Masenya dwarsdeur die gebeure met sy kop op
die tafel sy roes sit en afslaap.) Hy kruip onder die
6 tafel uit
toe die appellant kort daarna aankondig dat hy polisie toe gaan en uitstap. Mev.
Dhlamini en haar stiefseun is toe skoonveld,
Mbatha slaap rustig voort en die
oorledene lê op sy rug in die deurgang met sy bolyf in die eetkamer. Later
is vasgestel dat
hy dood is.
Mev. Dhlamini se weergawe verskil in
twee wesenlike opsigte van dié van Masenya. Ten eerste ontken sy dat
óf Masenya,
óf haar stief seun óf syself ten tyde van die
skietery in die eetkamer aanwesig was. Volgens haar het Masenya vertrek
net toe
die oorledene opdaag, was haar stiefseun in die kombuis doenig en het sy deur
die kombuis uitgevlug toe sy die appellant
sien instap. Ten tweede getuig sy dat
die oorledene 'n vuurwapen uit sy sak gehaal het toe die appellant deur die
sitkamer in aantog
was.
Mbatha, weer, ontken dat hy dwarsdeur die
gebeure bly slaap het. Volgens hom het hy wakker
7 geskrik (stellig
as gevolg van die skote) en gesien hoe die appellant oor die oorledene buk waar
laasgenoemde in die ingang lê
en 'n vuurwapen verwyder van tussen sy lyf
en die bokant van sy broek. Hy het egter kort na die gebeure 'n verklaring aan
die polisie
gemaak wat ernstige twyfel op sy betroubaarheid werp. Bowendien was
Masenya se getuienis dat Mbatha nog steeds aan die slaap was
toe hy (Masenya)
onder die tafel uitkom ná die appellant se vertrek. Die verhoofhof het
dan ook tereg weinig gewig aan Mbatha
se getuienis geheg.
Die
enigste ander getuie aangaande die noodlottige gebeure in die eetkamer was die
appellant self. (Die stiefseun is nie as getuie
geroep nie en 'n makker van die
oorledene, wat ten tyde in die sitkamer sou gesit het, was oorlede.) Die
appellant het in die getuiebank
sy pleitverduideliking toegelig en, wat
veral
8
belangrik is, probeer demonstreer hoe hy en die
oorledene aan die stoei was toe die skote val. Die verhoorregter was kennelik
nie
daardeur beïndruk nie, soos hy reeds in die loop van die Staatsaak laat
deurskemer het. Meer daaroor in samehang met fotografiese
en deskundige
getuienis, wat nou aan die orde kom.
Binne ure na die skietery het '
n polisiefotograaf twee kleurfoto's van die lyk op die toneel geneem (en later
is nog vier by die
lykhuis geneem) . Die liggaam lê op sy rug in die
deurgang, met die kop na die eetkamer; die bolyf is geklee in 'n swart of
naas-swart T-hemp wat oor die voorkant van die bors opgeskuif is en twee wonde
ontbloot. Op beide foto's, maar veral op die tweede,
is daar voor die
linkerskouer van die hemp 'n gaatjie en daarnaas 'n halfmaanvormige grys merk
sigbaar. (Omdat die hemp opgeskuif
is, kan geen verdere gate daarin bespeur word
nie.) Sowat ses
9 weke later het die fotograaf 'n foto geneem waarop
Masenya uitbeeld hoe hy, die oorledene en die appellant "stood at the time of
the shooting incident". Dit klop met Masenya se beskrywing in die
getuiebank.
Die aandag verskuif dan na die bevindings van twee
deskundiges se ondersoeke. Dr. Cook, die geneesheer wat die geregtelike nadoodse
ondersoek waargeneem het, vind drie skietwonde aan die borskas: (1) 'n
Ingangswond aan die voorkant van die linkerskouer, skrams
van links net bokant
die armholte, wat dan inwendig afwaarts, mediaal en na agter deur die
linkerlong, die hart, die regterlong en
die lewer strek, waarnaby 'n
koeëlpunt gevind word; (2) 'n ingangswond aan die borskas onderkant die
linkerarm, wat afwaarts
en na agter strek, deur die linkerlong, met 'n
uitgangswond onder die linkerblad; (3) 'n ingangswond op die borsbeen, in lyn
met
die tepels, wat afwaarts, na
10 agter en na links strek, ook
deur die linkerlong, met 'n uitgangswond in die linkeronderbors. Wond (1) was 'n
doodskoot en die
ander twee waarskynlik ook tensy geneeskundige hulp spoedig
verleen sou gewees het. Welke uitwerking laasgenoemde twee wonde op die
oorledene se liggaamskragte sou gehad het, is nie by die verhoor ondersoek
nie.
Omtrent 'n jaar later verstrek dr. Cook, op versoek van die
plaaslike prokureur-generaal, 'n bykomende verslag waarin hy die rigting
van die
koeëls aanstip en 'n mening uitspreek oor die afstand waarop hulle afgevuur
was. Aangesien die wonde nie die kenmerke
van kontak- of nabyskote getoon het
nie, meen hy dat dit afstandskote moes gewees het. Hy voeg by dat mikroskopiese
ondersoek van
die hemp kruitreste mag toon, wat nuttig kon wees by die bepaling
van die vuurafstand. By die verhoor het die geneesheer verduidelik
dat tromp-op
skietwonde gewoonlik gekenmerk word deur omringende
11
"tatoeërmerke" op die vel waar onvolledig verbrande kruitreste vasbrand. Omdat daar geen sodanige merke op die oorledene se vel waargeneem is nie, lei hy af dat die skote op 'n afstand van minstens 15 sentimeter afgevuur moes gewees het. Hy gee egter onder kruisondervraging toe dat die afwesigheid van kruitmerke op die vel te wyte kon wees aan versluiering ("masking") deur die oorledene se breistofhemp. Hy word egter nie gevra of die versluiering die algehele afwesigheid van tatoeërmerke kan verduidelik nie, In besonder word hy nie pertinent gevra of die voorkoms van die lyk versoenbaar is met kontak- of nabyskote deur die oorledene se hemp nie. Die opmerking in sy tweede verslag dat kruitreste op die hemp tersaaklik sou wees by 'n afstandsbepaling en sy getuienis dat 'n afleiding van die afwesigheid van tatoeërmerke absoluut afhanklik is van klerasie, dui egter daarop dat hy op stuk van sake geen
12 afstandsbevinding bloot op die skoon vel sou baseer
nie.
Die tweede deskundige was kaptein De Waal, 'n
polisieballistikus. Sy aanvanklike betrokkenheid by die saak het gegaan om
identifikasie
van die twee vuurwapens wat die appellant enkele dae na die
skietvoorval by die polisie ingehandig het en 'n moontlike verband tussen
enigeen daarvan met die beweerde moord. Sy bevindings was dat die koeëlpunt
wat in die lyk gevind is uit die rewolwer gevuur
is. Meer as 'n jaar later het
hy as gevolg van 'n navraag deur die prokureur-generaal 'n tweede ondersoek
gedoen. Hy het die post-mortem
verslag en dr. Cook se opvolgverslag
óorweeg asook die foto's van die lyk. Die oorledene se hemp is ook
opgespoor maar was
van geen nut nie aangesien dit intussen dikwels gedra en
meermale gewas is. Grondliggend tot sy ondersoek was die twee kleurfoto's
van
die lyk wat die
13
polisiefotograaf op die toneel geneem het. Volgens die kaptein het die halfmaanvormige grys merk op die oorledene se donkerkleurige hemp (vlak langs 'n gat wat ooreenstem met die wond voor die linkerskouer) die voorkoms van 'n neerslag kruitreste, wat daarop dui dat die betrokke skoot op 'n afstand van 10 sentimeter of minder afgevuur kon gewees het. Hy is blykbaar nie gevra om in sy verslag 'n mening uit te spreek oor die afwesigheid van tatoeërmerke op die vel of die moontlike versluiering daarvan deur die hemp nie. Tydens sy getuienislewering is die onderwerp ook nie met hom opgeneem nie. Daar is wel met hom debat gevoer oor die afmetings, werking en hoedanighede van die rewolwer. Dit is 'n .38 Special met 'n kragtige patroonlading en 'n loop van 51½ millimeter, wat beteken dat daar aansienlike onverbrande kruit by die tromp en langs die silinder uitgeblaas word. Synde 'n rewolwer moet die sneller elke keer opnuut
14
getrek word om die silinder te draai en die hamer
in werking te stel. 'n Hand (of hande) wat styf om die wapen geklem is, kan dus
die afvuur van meer as een skoot verhoed of ten minste
bemoeilik.
Beide deskundiges is ook in die getuiebank gevra om ' n
mening uit te spreek oor die houdbaarheid van die appellant se beskrywing
van
die wyse waarop die oorledene die drie noodlottige wonde opgedoen het. Dr. Cook
was aanvanklik geneig om die voorsittende regter
se skeptisisme te deel. Na dit
deeglik in behandeling geneem en 'n demonstrasie in die hof uitgevoer is, het hy
egter toegegee dat
al drie wonde tog in die loop van so 'n stoeiery opgedoen kon
gewees het, maar dat dit in die geval van die skrams skoot in die skouer
onwaarskynlik was. Oplaas gee hy egter toe dat ook daardie wond heel moontlik
opgedoen kon gewees het op die wyse wat die appellant
beskryf.
Toe De Waal getuig is die verenigbaarheid van
15
die wondrigtings met die appellant se weergawe in
die eerste instansie deur die regter geopper.
Terwyl die kruisondervraer met die vermeende
kruitneerslag by wond 1 en die skietafstand besig
is, verander die regter die onderwerp. Die
betrokke passasie
lui so:
"Daar is iets anders waaroor ek verduideliking wil kry wat - ons sal ook van die dokter verduideliking kry, maar u is 'n man wat meer met vuurwapens werk, ek is seker, dan die dokter. Daardie vuurwapen kon nie in die hand van die oorledene gewees het nie? — U edele, nee, nie direk nie behalwe - maar dit is 'n moeilike posisie. Ek weet nie of die persoon regs- of linkshandig was nie.
Ja, maar as hy regshandig was, is dit onmoontlik? — Nie in die normale posisie soos wat 'n mens met die wapen sal skiet nie. Ander dinge is moontlik, u edele, byvoorbeeld dit.
'n Bietjie gimnastiek? — Ja, of dit, maar dit is nogal moeilik."
Wat die "dit" is wat die getuie gedemonstreer
het,
blyk nie uit die oorkonde nie maar dit is
tog
duidelik dat hy nie met die regter saamstem nie:
hy meen die appellant se weergawe is "nogal
16
moeilik" maar wel moontlik. Die ander twee
skote,
meen die getuie, is ook moontlik mits die oorledene
die rewolwer in sy regterhand gehad het - soos die
appellant beweer het. Kapt. De Waal was trouens
van mening
dat Masenya se beskrywing van die
jukstaposisie van die oorledene en die appellant
ten tyde van die eerste skoot moeilik te versoen is
met
enigeen van die drie skote se rigting deur die
borskas.
Dit blyk dus dat die twee deskundiges nie aan
die
hand van die wondrigtings die appellant se
weergawe van skote in die
loop van 'n worsteling
uitgeskakel het nie. Word die uitspraak van
die
verhoorregter egter ontleed, is dit opvallend
dat
die verwerping van die appellant se
weergawe
hoofsaaklik berus op 'n bevinding dat wond
1
daarmee onbestaanbaar is. Die regter sê
naamlik
die volgende:
"Those shots could not have been fired whilst this type of fighting, or grappling, took
17
place. The accused says clearly that at no stage did he try to twist the deceased's hand towards the deceased's own body. The description which he demonstrated three times in court, demonstrating on the interpreter and on the court orderly, according to him the deceased had the firearm in his right hand.
One wound for sure - and even other wounds - but one wound for sure could not possibly have been fired with the deceased's finger on the trigger and the handle of the firearm in the deceased's hand, and that is the wound on the left shoulder which came from the left towards the right; the wound described as wound No 1 in the post-mortem report, and marked as No 1 on photo 1 of Exhibit "C", which shows that a bullet had penetrated at a very flat angle, that it cut the skin, so to say, before penetrating under the skin, coming from the left to the right. It is not even on the shoulder, it is just below the shoulder and just above the armpit. That is impossible, and the medical evidence confirms it. That could not have happened."
In 'n daaropvolgende
passasie word weer eens melding gemaak van die "impossibility of the infliction
of the wounds as described by
the accused".
Sodanige bevinding was
nie deur die geneesheer bevestig nie en sien bowendien die ballistikus
se
18 getuienis oor die hoof. Die eindbeslissing oor die
houdbaarheid van die appellant se weergawe het natuurlik by die regter berus;
dit het hom vrygestaan om, in weerwil van die deskundiges se menings, sy eie
feitebevinding aangaande die appellant se weergawe van
die stoeiery te maak. Dit
is egter nie wat geskied het nie. Kapt De Waal se getuienis is nie oorweeg nie -
al was dit dan bloot om
dit te verwerp - en dr. Cook se toegewing van die
anatomiese houdbaarheid van die appellant se weergawe is per incuriam
omgekeer. Kennelik was dit 'n wesenlike wanvoorligting ten aansien van 'n
kernaspek van die feite. Bygevolg is hierdie hof verplig
om opnuut en vir
sigself te beoordeel of die appellant se skuld bo redelike twyfel bewys
is.
Die verhoorhof het weliswaar verskeie
geloofwaardigheidsbevindings ten gunste van Masenya en ongunstig vir die
appellant en sy getuies
(sy
19 suster en mev. Dhlamini) gemaak.
Geeneen van daardie bevindings is egter op hul voorkoms in die getuiebank
gefundeer nie maar op
die waarskynlikhede, waarby die vermeende onhoudbaarheid
van die appellant se weergawe 'n sentrale rol gespeel het. Inderwaarheid
is die
ander getuienis van bloot perifere belang. Die essensiële en
deurslaggewende vraag is of Masenya se weergawe buite redelike
twyfel waar en
dié van die appellant vals is, en by die beantwoording van daardie vraag
is daar niks in die omringende getuienis
wat, hetsy afsonderlik hetsy in
samehang met ander oorwegings, deurslaggewend is nie.
So byvoorbeeld
klink dit bra eienaardig as die appellant en mev. Dhlamini getuig dat die
oorledene, waar hy gestaan het agter die
tussenmuur, die pistool uitgehaal het
toe die appellant buite sy sig die huis binnekom. Bowendien is mev. Dhlamini se
getuienis
20 dienaangaande verdag aangesien sy dit nie in haar
eerste polisieverklaring kort na die gebeure gemeld het nie maar eers in 'n
verdere
verklaring later dieselfde dag. Daar kan egter ook gevra word hoe die
appellant kon geweet het dat die oorledene agter die muur staan
toe hy die huis
binnegaan; ook hoe waarskynlik dit is dat hy 'n berugte geweldenaar (onder wie
se koeëls hy enkele ure tevore
gevlug het) in die aanwesigheid van
dié se makker sou gaan aandurf.
Op dergelike trant kan
Masenya se betroubaarheid bevraagteken word. Hy het die Sondagmiddag en -aand
deurgebring met drinkery by verskeie
lokale in die buurt en moes noodwendig ten
tyde van die skietery aansienlik daardeur aangetas gewees het; terselfdertyd is
geeneen
van die wondrigtings geredelik te versoen met sy beskrywing van die
eerste skoot nie. Ook die grys merk langs die skouerskoot, wat
vir kapt. De Waal
gelyk het
21 soos 'n kruitneerslag, kan nie deurslaggewend wees nie. Dit kan alleen
die appellant se weergawe steun as aanvaar word dat dit
wel kruit is, Bowendien
is daar geen getuienis oor die volgorde van die skote nie en kon skoot 1
tromp-op afgevuur gewees het ná
die oorledene deur die ander twee
(afstand-) skote neergevel was.
Die verhoorhof was dan heel tereg
teruggewerp op die sentrale vraag of daar objektiewe getuienis was wat die
appellant se relaas van
die stoeiery loënstraf. En, om die reeds gemelde
redes, meen ek dat sodanige getuienis nie deur die deskundiges verskaf of elders
in die bewese feite of die waarskynlikhede te vinde is nie. Onwaarskynlik soos
dit ongetwyfeld is, kan dit tog redelikerwys waar
wees.
22
Die appél word bygevolg gehandhaaf en die skuldigbevindings en vonnisse word ter syde gestel.
J.C. KRIEGLER WAARMEMENDE APPèLREGTER
VAN HEERDEN AR
SMALBERGER AR