South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1993 >>
[1993] ZASCA 133
| Noteup
| LawCite
S v Ndaba (425/92) [1993] ZASCA 133 (24 September 1993)
Download original files |
RAPPORTEERBAAR
Saaknommer 425/92 /al
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN
SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak van :
TEMBIE
NDABA Appellante
en
DIE STAAT Respondent
CORAM : SMALBERGER, GOLDSTONE ARR
et KRIEGLER WND AR
DATUM VAN VERHOOR : 14 SEPTEMBER 1993
DATUM VAN UITSPRAAK : 24 SEPTEMBER 1993
UITSPRAAK
KRIEGLER WND AJR/...
2 KRIEGLER WND AR:
Hierdie appél gaan net
om vonnis. Die appellante en drie ander is in die Johannesburgse landdroshof
daarvan aangekla dat hulle
op 6 Maart 1990 te Pimville die bepalings van a 2(a)
van Wet 41 van 1971 oortree het deur 500 Mandrax-tablette te verkoop. Die
appellante
se mede-beskuldigdes is ontslaan maar sy is skuldig bevind en
gevonnis tot sewe jaar gevangenisstraf, waarvan twee jaar voorwaardelik
opgeskort is vir vyf jaar. Die appellante het toe teen beide skuldigbevinding en
vonnis geappelleer maar in die Witwatersrandse
Plaaslike Afdeling die appèl teen skuldigbevinding laat vaar. Gemelde
hof het die appèl teen vonnis afgewys dog verlof
tot verdere appèl
verleen.
In hierdie hof is die vonnis namens die appellante op 'n verskeidenheid
grondslae bevraagteken. Die primêre submissie was dat
gevangenisstraf
totaal onvanpas was in die
3 omstandighede. Die siening wat ek op die saak
nahou maak dit onnodig om die betoog namens die appellante en die teensubmissies
van
die kant van die staatsadvokaat in groot besonderheid te ontleed. Op die
keper beskou is daar eintlik twee kernvrae, naamlik (i)
is gevangenisstraf hier
hoegenaamd aangewese en, indien wel, (ii) is die opgelegde vonnis hoegenaamd
vanpas? 'n Ontkennende antwoord
op enigeen van die twee sou neerkom op 'n
bevinding dat die verhoorhof by die uitoefening van sy vonnisdiskresie dermate
misgetas
het dat hierdie hof opnuut oor die vonnis moet besin.
Ten eerste dan
die tersaaklike persoonlike gegewens. Die appellante was 'n eerste oortreder, 30
jaar oud, in 'n vaste betrekking en
met vyf afhanklike kinders vir wie sy alleen
moes sorg. Haar eggenoot, 'n afgetrede polisieman, was 'n geruime tyd reeds in
aanhouding
in Transkei en kon nie 'n bydrae lewer nie. Daar was ook
tydelike
4 probleme met die uitbetaling van sy pensioen. Hoewel sy dit
betreklik knap gehad het, kon sy egter 'n redelik hoë lewenstandaard
handhaaf. Sy het byvoorbeeld die verbandpaaiemente op die gesinswoning kon byhou
en het haar eie motorkar bestuur. Daar was ook geen
suggestie dat geldnood haar
na deelname aan die dwelmhandel gedryf het nie. Haar volgehoue ontkenning van
enige aandadigheid aan
die ten laste gelegde misdaad het trouens enige sodanige
aanspraak bemoeilik.
Die tweede tersaaklike oorweging by die beantwoording
van die voormelde kernvrae is natuurlik die misdaad waaraan die appellante haar
skuldig gemaak het. Die getuienis dienaangaande kan soos volg saamgevat word. 'n
Lid van die Suid-Afrikaanse Polisie se dwelmtak
word die aand van 6 Maart 1990
deur 'n beriggewer by die appellante se huis aan haar voorgestel as 'n
voornemende koper van Mandrax.
Die speurder gee te kenne dat hy 500
5
tablette wil koop en onderhandel met haar oor die prys; sy dring egter aan op
R10,00 stuk en hy stem daarmee in; daarop maak sy
'n paar telefoonoproepe en
spreek met die speurder af om later die aand weer by haar huis te ontmoet; met
sy terugkeer gelas die
appellante dat die koopsom getel en aan haar oorbetaal
word; dit geskied en sy gee te kenne dat sy alleen sou ry om die Mandrax te
gaan
haal; die speurder dring aan om saam te gaan en volg haar na 'n ander huis in
Pimville; sy gaan alleen die betrokke huis binne,
waar sy R4 500,00 van die
koopsom in ' n vrieskas versteek en die oorblywende R500,00 vir haarself neem.
Sy keer terug na buite waar
sy drie plastiese houers met 500 Mandrax-tablette
aan die speurder as sodanig identifiseer en oorhandig. Die lokval word
toegeslaan
en die appellante word gearresteer. So ook haar drie
mede-beskuldigdes, wat op die toneel was.
6 Die appellante se handelswyse dui
daarop dat sy 'n skakel in 'n verskafflngsketting was, cf as lid daarvan
óf met geredelike
toegang daartce. Dit is ook betekenisvol dat sy 10% van
die koopprys vir haarself geneem het. Die omvang van die besending en die
f eit
dat sy dit laataand en binnekort kon lewer, getuig daarvan dat sy in noue
voeling was met betreklik grootskaalse sluikhandel.
Terselfdertyd is dit
duidelik dat sy sonder huiwering by die transaksie betrokke geraak het en dat sy
'n prosedure voorgeskryf het
wat getuig van sorgvuldige
veiligheidsmaatreëls. Dit was wel 'n lokval maar daar was geen druk op haar
uitgeoefen of versoeking
op haar weg geplaas wat haar blaamwaardigheid sou kon
afwater nie. Sy het, oënskynlik in eie reg maar ten minste met beslistheid,
voet by stuk gehou wat die prysvasstelling en die afleweringsmetode betref.
Allerweë kan sy dus nie as 'n blote pion of selfs
7 as 'n
deerniswekkende kleinsmous beskou word nie.
Die appellante se rol by die
pleging van die misdaad moet dan gesien word teen die agtergrond van die
inherente erns daarvan. Dit
behoef beswaarlik beredenering dat die
gebruik van gewoontevormende middels 'n maatskaplike euwel is, met
rampspoedige gevolge vir talle, veral jeugdiges. Die wetgewer beskou dit
kennelik so, soos blyk uit die strafbepalings waarvoor Wet 41 van 1971 ("die
Wet") voorsiening maak; en dit is by herhaling oor die
jare deur hierdie en
ander howe beklemtoon. Bowendien verg die instandhouding van behandelings- en
rehabilitasiesentra, inligtingsprogramme
en dergelike maatskaplike teenvoeters
voortdurend groot uitgawes uit die staatskas en deur die private sektor. Dit is
ewe oorbodig
om opnuut uit te wei oor die merkbaar ernstiger lig waarin die
samelewing diegene bejeën wat vir geldelike gewin meedoen aan
die
verskaffing
8 van dwelms. Nie alleen bevat die Wet besonder swaar
strawwe daarvoor nie maar die omskrywing van "handeldryf" in a 1 en die verskeie
vermoedens is daarop gemik om die verskaffing van dwelms sover mocntlik hok te
slaan. Talle regterlike uitsprake het dan ook ingeskerp
dat werklike
dwelmhandelaars swaar strawwe verdien.
Daar is ook in die verlede deur beide
die wetgewer en die regbank onderskei tussen dagga enersyds en vervaardigde
dwelms andersyds.
Om historiese en kultuuroorwegings is dagga-oortredings
toeskietliker beskou as dié betreffende ander afhanklikheidsvormende
stowwe. Die opheffing van die eertydse onderskeid in maksimum strawwe vir
dié twee kategoriee dwelms by a 1 van Wet 78 van
1990 beteken nie dat die
wetgewer hulle nou gelykstel nie. In wese het die verhoging van die maksima vir
beide, en die skrapping
van sekere verpligte minima, bloot 'n verbreding
van
9 straftoemeters se vonnisopsies tot gevolg gehad.
Daar moet in al die
omstandighede met die verhoorhof saamgestem word dat, ondanks die
strafversagtende faktore wat hier aanwesig is,
die gemeenskap se belang by die
bekamping van dié tipe misdaad asook die omstandighede van hierdie
besondere pleging daarvan
verg dat daar streng bestraffend opgetree word.
Oorwegings van afskrikking en vergelding tree so sterk op die voorgrond dat die
appellante
se eerste oortrederskap en haar rol as moeder/broodwinner
onvermydelik 'n mindere rol speel. Die eerste kernvraag word dus bevestigend
beantwoord. Dit is inderdaad 'n geval waar selfs 'n hoë boete en geheel
opgeskorte gevangenisstraf eenvoudig nie reg sou laat
geskied aan die
doelstellings van straftoemeting nie.
Die slotsom dat gevangenisstraf aangewese was, laat dan die tweede kernvraag ontstaan, naamlik of
10
die opgelegde vonnis, vanweë die blote omvang daarvan, getuig van 'n onregterlike uitoefening van die verhoorhof se vonnisbevoegdheid. Enersyds volg dit uit die bespreking hierbo dat die inherente erns en hoë insidensie van die misdaad asook die wyse waarop dit in casu gepleeg is 'n lang termyn gevangenisstraf noop. Andersyds is daar verskeie strafversagtende faktore. Die appellante is nou wel nie uitgelok nie maar dit was tog 'n lokval, wat die laakbaarheid van die handeling in 'n mate verminder. Die landdros het ook aanvaar dat dit 'n geïsoleerde geval was. Alhoewel dit my bra onwaarskynlik voorkom en daar geen motivering daarvoor in óf die uitspraak op die meriete óf dié oor vonnis voorkom nie, moet die bevinding vir die doeleindes van die huidige evaluering as korrek aanvaar word. Dan is daar ook die appellante se persoonlike omstandighede wat 'n mate van tempering regverdig. Ofskoon die vereistes van afskrikking
11
en vergelding hier voorop staan, skakel dit nie die strewe na
verpersoonlikte straf uit nie. 'n Eerste oortreder van 30 jaar en met
'n vaste
betrekking het nie werklik rehabilitasie nodig nie. Daar moet ook in aanmerking
geneem word dat gevangenisstraf 'n moeder
van jong kinders besonder swaar tref,
veral waar, soos hier, die vader nie beskikbaar is om die gesinsorg oor te neem
nie.
Bowendien moet daar by die bepaling van die omvang van hierdie oortreder
se vonnis rekening gehou word met die orde van die strawwe
wat in dergelike
gevalle opgelê is. Elke individuele geval moet wel aan die hand van sy
besondere omstandighede beoordeel word
maar geregtigheid vereis tog dat daar na
gelykberegtiging gestreef word. By wyse van algemene rigsnoer kan gekyk word na
drie sake
waar die hof te make gehad het met vonnisse vir handeldryf in Mandrax.
Die eerste is S v Hoosain 1987 (3) SA 1 (A) waar 'n vonnis van 12
12
jaar gevangenisstraf bekragtig is vir 'n eerste oortreder wat maandelank en teen
vergoeding van R34 000,00 bykans 100 000 Mandrax-tablette
vir 'n internasionale
smokkelaar geberg het met die oog op verkoop. Die tweede voorbeeld is S v
Jantjies en 'n Ander 1990 (2) SASV 660 (K) waar twee geharde dwelmhandelaars
met verskeie vorige veroordelings, vir handeldryf in 1 062 Mandrax-tablette
gevonnis is tot agt jaar en ses jaar gevangenisstraf onderskeidelik. Die derde
saak is S v Masike 1992 (1) SASV 667 (A), waar die appellant 'n
ondergeskikte dog wesenlike rol gespeel het by die verkoop van 250
Mandrax-tablette
aan 'n polisielokvink. Sy vonnis is deur hierdie hof verminder
na vier jaar gevangenisstraf waarvan twee jaar opgeskort is. Klaarblyklik
was
die gevalle Hoosain en Jantjies baie ernstiger as die onderhawige
en die Masike-geval ietwat ligter.
Alles in ag geneem, meen ek dat die vonnis wat
13 hier
opgelê is dermate verskil van dié wat ek as oorspronklike
straftoemeter sou opgelê het dat daar ingegryp
moet word. Sewe jaar
gevangenisstraf, ongeag of die regstreekse uitwerking daarvan deur 'n
gedeeltelike opskorting verlig word, is
uitermate straf. In dié verband
wil ek beaam wat in S v Setnoboko 1981 (3) SA 553 (O) op 556D tot 557H
gesê is, naamlik dat daar by die beoordeling van die swaarte van 'n vonnis
na die geheel daarvan gekyk
moet word en nie bloot na die onopgeskorte gedeelte
daarvan nie. Myns insiens sou 'n globale vonnis van vyf jaar gevangenisstraf
in
die huidige geval reg laat geskied aan al die vereistes van
straftoemeting.
Die vraag ontstaan dan of die landdros tereg besluit het om
twee jaar van die vonnis op te skort en, indien wel, of die periode en
voorwaardes van opskorting korrek geformuleer is. Daar is naamlik gelas dat die
twee jaar vir 'n tydperk van
14 vyf jaar opgeskort word op voorwaarde dat die
appellante nie weer skuldig bevind word nie aan cortreding van a 2(a) of 2(b)
van
die Wet, welke oortreding gepleeg word gedurende die tydperk van opskorting
en waarvoor sy dan gevonnis word tot onopgeskorte gevangenisstraf
van ten minste
nege maande. Dit is gevestigde en gesonde praktyk om in 'n gepaste geval 'n
andersins aangewese vonnis te versag deur
gedeeltelike opskorting; en die
onderhawige is kennelik so 'n geval: die appellante se persoonlike omstandighede
regverdig bepaald
verligting. Dit is bowendien soms, soos hier, vanpas om
byvoorbeeld by 'n eerste oortreder nie alleen versagtingshalwe gedeeltelik
op te
skort nie maar ook met die oog op addisionele persoonlike afskrikking.
Vanweë gemelde twee oorwegings sou opskorting van
helfte van die swaar
vonnis hier vanpas wees.
Daar skuil 'n anomaliese en potensieël
15 onregverdige element in
sodanige metode waarteen daar gewaak moet word. Aangesien die opgeskorte
gedeelte van 'n deels opgeskorte
vonnis van gevangenisstraf eers by 'n
beskuldigde se ontslag uit die gevangenis in werking tree (Ex parte Minister
of Justice : In re Rex v Duze 1945 AD 102 op 107) kan die risiko van
inwerkingstelling lange jare ná die oplegging van vonnis nog steeds bly
hang - en natuurlik nog
langer ná die pleging van die misdaad. Die
huidige geval is 'n goeie voorbeeld: die misdaad is op 6 Maart 1990 gepleeg;
vanweë
die verlening van borgtog hangende appèl is tenuitvoerlegging
van die vonnis ingevolge die voorbehoudsbepaling by a 307(1)
van die
Strafproseswet 1977 sedert November 1990 tot nou toe opgeskort; sou die
opgelegde vonnis bly staan en die volle termyn regstreekse
gevangenisstraf
uitgedien gewees het, sou die bykomende twee opgeskorte jare tot Maart 2003
inwerkingstelbaar
16 gebly het. ' n Lang opskortingstermyn is dus bloot op
grond van gemelde redes hier ongewens.
Bowendien is dit ongewens om die
maksimum termyn van opskorting waarvoor a 297(1)(b) van die Strafproseswet 1977
voorsiening maak,
naamlik vyf jaar, as die reël te beskou. Kort na die
inwerkingtrede van die huidige strafproseswet, wat die eertydse maksimum
termyn
van drie jaar na vyf jaar opgestoot het, is daar reeds in s v Nabote 1978
(1) SA 648 (0) 650H daarteen gemaan dat die nuwe maksimum klakkeloos gekies
word. Sedertdien is dergelike vermanings van tyd tot tyd geopper
byvoorbeeld in
S v Nkokoto en Andere 1978 (2) SA 534 (0); S v Van Rensburg 1978
(4) SA 481 (T) 484A; S v Motelele 1981 (3) SA 1029 (0) 1032A-B; S v
Setnoboko supra; en S v Paulse 1990 (1) SASV 341 (W) 345h. Daar is
wel 'n mate van klemverskil tussen die onderskeie howe se benaderlng. In die
Transvaal word vyf
jaar as die algemene vertrekpunt
17
geneem, soos blyk uit s v Van Rensburg supra,
terwyl
die Vrystaatse hof verkies om geen sodanige
vertrekpunt te postuleer nie. Qor
die beginsel is
daar egter eenstemmigheid. Nietemin wil dit tog
voorkom
dat daar dikwels onoorwoë 'n termyn van vyf
jaar vasgestel word. Daarom dien beklemtoon te
word dat bepaling van die
opskortingstermyn deel
van die straftoemeter se vonnisevualering uitmaak
en net soseer regterlikheid verg as die ander
komponente van die
vonnis:
"[I]t is still necessary for the court in each case to give consideration to what period to choose." (Per Fieldsend H.R. in S v Wakiri 1981 (2) SA 527 (ZA) 530F.)
Vonnisoplegging is weliswaar geen eksakte
oefening nie en die besondere omstandighede van
iedere individuele geval verg spesifieke opweging.
Daarom kan daar geen allesomvattende of rigiede
stel reëls vir die vasstelling van
opskortingstermyne neergelê word nie. Tog behoort
18
daar by die oorweging daarvan, veral waar negatiewe
vcorwaardes, byvoorbeeld die nie-pleging van
'n
misdaad, opgelê wcrd, rekening gehou te word met
die erkende
oorwegings wat daarop betrekking het.
Dié is nuttig saamgevat in S
v Ndlovu 1982 (3) SA
51 (ZHC) te 53H - 54D:
" (a) The nature of the offence and the circumstances surrounding its commission. Was it carefully planned and premeditated, or was it committed in the heat of the moment or as a result of sudden temptation?
(b) Has the offender exhibited a propensity to commit that type of offence? For instance, where over a long period of time he has converted moneys to his own use, or where he has a relevant previous convíction but the effect of a partly suspended prison sentence has not been tried upon him.
(c) The personal character of the offender. Is he a person of advanced age who has hitherto led a blameless life, or has he shown by genuine penitence or by the shock and disgrace of his trial that the chance of another similar transgression is entirely remote?
(d) Are the offences to which the suspension will relate those which can be easily committed in circumstances of emotional distress or discomposure?
(e) Is the offender to be sentenced to
19
undergo a lengthy period of effective imprisonment? That, in itself, should have the required rehabilitative effect and a suspension of a further term for the maximum period could be too onerous. (f) Where the offence does not merit a custodial sentence, it might be unfair if at some time within as long a period as five years the offender has to undergo the full sentence for a crime which would carry its own punishment."
'n Bykomende faktor is die trefwydte van die
opskortingsvoorwaardes. As
inwerkingstelling kan
geskied vanweë die pleging van 'n
verskeidenheid
misdade, veral dié met betreklik
beuselagtige
verskyningsvorms (soos aanranding, wat natuuriik 'n
blote
bedreiging met geweld omvat) kan dit 'n
verkorte termyn regverdig.
Word sodanige kriteria op die omstandighede
van die huidige geval
toegepas, is 'n
opskortingstermyn van aansienlik minder as die
geoorloofde maksimum aangewese. Dit sou veral die
geval wees as die opgelegde voorwaarde, wat ook op
besit/gebruik slaan, in
stand gehou sou word. En
20 oor so 'n voorwaarde is daar meningsverskil. Aan
die een kant keur die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling konsekwent so 'n
voorwaarde af (kyk
byvoorbeeld S v Mazola 1980 (2) PH. H 99, S
v
Mokoena 1986 (2) SA 106 (0) 107G-I en S v Monisa 1992 (2)
SASV 671 (0)) . Aan die ander kant staan die Transvaalse howe, wat sedert die
beslissing in S v Allart 1984 (2) SA 731 (T) so 'n voorwaarde goedkeur en
aanbeveel. Die Allart-benadering, soos gekwalifiseer deur die
volbankbeslissing in S v Mziyane and Others 1985 (2) SA 844 (T), is dat
'n opskortingsvoorwaarde in 'n vonnis vir handeldryf ook 'n latere
besitsoortreding behoort in te sluit maar, waar dit
'n swaar opgeskorte vonnis
is, behoort daar 'n bykomende kwalifikasie te wees om te verhoed dat 'n geringe
oortreding inwerkingstelling
kan presipiteer. Dit word bewerkstellig deur die
voorwaarde so te bewoord dat slegs 'n latere skuldigbevinding weens besit of
21
gebruik, waarvoor 'n bepaalde minimum straf van regstreekse
gevangenisstraf opgelê word, 'n verbreking van die voorwaarde sou
wees.
Die minimum word dan ook aangepas by die omvang van die opgeskorte straf. Kyk
byvoorbeeld die wisselende minima in die vyf
vonnisse in S v Mziyane and
Others op 850D tot 851 E. Die volbank wys dan ook daarop, myns insiens
tereg, dat die minimum van vier maande wat in S v Allart genoem is nie
bedoel is om 'n norm te skep nie maar eerder dui op die kortste sinvole minimum.
(Die landdros het in casu in ooreenstemming daarmee 'n vonnis van nege
maande vasgestel.)
'n Volbank van die Natalse Provinsiale Afdeling het in
S v Mnquni and Others 1985 (2) SA 448 (N) sy steun aan die Transvaalse
standpunt verleen en uitdruklik verskil van die Vrystaatse siening, wat voorheen
steun in Natal
geniet het (kyk S v Kgadebe 1984 (3) SA 753 (N). In
die
22
Kaapse Provinsiale Afdeling was daar ook aanvanklik gestaan op
die Vrystaatse standpunt (S v Mandla 1984 (2) SA 549 (K)) maar ook
daardie hof is sedert die volbankbeslissing in s v Adams en Tien Ander
Soortgelyke Sake 1986 (3) 733 (K) dit met die Transvaalse en Natalse siening
eens. So ook die Noord-Kaapse Afdeling (kyk S v Ntele en 'n Ander 1986
(2) SA 405 (NK)). Wat die Oos-Kaapse Afdeling betref, skyn die praktyk buigbaar
te wees. In S v Klaas 1982 (3) SA 402 (OK) word (te 403F) gemeld dat die
algemene praktyk in daardie afdeling sedert 1979 was om verwysing na besit weg
te laat by die
betrokke opskortingsvoorwaarde maar so 'n bepaling is nietemin,
vanweë die besondere omstandighede, in die betrokke vonnis
opgeneem.
Hierdie hof het nog nie pertinent die wenslikheid of geoorloofdheid
van die gewraakte bepaling oorweeg nie, of skoon daar wel by die
formulering van
'n vervangende vonnis in S v
23
Batshise 1982 (1) SA 966 (A) te 974F-G 'n dusdanige verwysing na besit of gebruik by die bevel ingelyf is. By daardie geleentheid was die hof egter nie bedag op die meningsverskil waarom dit tans gaan nie en kan die uitspraak nie as gesag dienaangaande beskou word nie. In hierdie saak moet die knoop nou egter deurgehaak word. Die Vrystaatse standpunt (wat ook weerklank gevind het in die Kqadebe- en Mandla-sake supra) staan op twee pilare, die een regs-tegnies en die ander 'n billikheidsoorweging. Wat eersgenoemde betref, is die redenasie dat die verbiedinge in die Wet teen handeldryf in dwelms enersyds en besit andersyds slaan op afsonderlike en onderskeibare gedraginge wat slegs dit gemeen het dat beide betrekking het op afhanklikheidsvormende stowwe. Klem word ook daarop gelê dat dit nie meer of minder ernstige verskyningsvorme van dieselfde misdaad is nie maar verskillende misdade wat in dieselfde wet behandel
24
word: 'n gewone daggaroker is nie vergelykbaar met 'n
dwelmsmous nie. Daarvandaan dan ook die billikheidsoorweging dat 'n eertydse
dwelmhandelaar nie blootgestel moet word aan inwerkingstelling van 'n (swaar)
opgeskorte vonnis vanweë 'n beuselagtige besitsoortreding
nie.
By
ontleding blyk geeneen van die twee grondslae gefundeer te wees nie. Die Wet is
gemik teen één maatskaplike euwel,
naamlik dwelmmisbruik. Met dit
voor oë word 'n omvattende reeks maatreëls getref, bestaande uit
wydbewoorde woordomskrywings
in a 1, verreikende verbiedinge in aa 2 en 3 ,
diverse vermoedens in a 10 (klaarblyklik om skuldigbevindings te vergemaklik),
haas
drakoniese aanhoudingsbevoegdhede in a 13 en, natuurlik, besonder swaar
strawwe (aa 2 en 3) en verbeuringsbepalings in a 8. Dié
indrukwekkende
wapentuig is gerig op die voorkoming van dwelmmisbruik, terwyl hoofstukke II en
III, daarby
25
aansluitend, gerig is op die rehabilitasie van diegene wat die euwel ten prooi geval het. In die samehang van die eendoelige dog breed opgesette veldtog word die verskaffers en gebruikers van dwelms pari passu in aa 2 en 3 aangespreek. Weliswaar word daar tussen dié twee kategorieë oortreders onderskei, beide wat betref die essensialia van die onderskeie misdrywe én wat betref vonnis; maar dit is na luid van die Wet neweliggende oortredings. Begripsmatig is dit ook die geval: afhangende van die hoeveelheid of aard van die dwelms en die omringende omstandighede kan blote besit daarvan weldeeglik die afleiding regverdig dat dit met die oog op verskaffing aan andere was. Die vermoede by a 10(1) staan dus nie los van gesonde verstand nie. Bowendien is die moontlike kousale verband tussen die besit van dwelms en handeldryf daarin vanselfsprekend. Die slotsom moet gevolglik wees dat daar bepaald 'n
26
verband tussen die twee verskyningsvorms van die deur die Wet
verbode handelinge is. En daardie verband is so ncu dat dit geoorloof
is om
pleging van die een as opskortingsvoorwaarde by 'n vonnis vir die ander in te
sluit.
Ek is dit ook eens met die gedagtetrant in S v Allart supra te
735A-H dat dit gewoonlik vanpas sou wees om 'n handelaar deur 'n
opskortingsvoorwaarde nie alleen van toekomstige handeldryf
te probeer weerhou
nie maar ook van besit. Die mate van oorvleueling tussen die twee misdade is so
hoog dat so 'n breedbewoorde voorwaarde
gewoonlik aangewese sal wees. Ek meen
ook dat die beveiliging waarvoor daar in gemelde uitspraak (te 736A-C), soos
gekwalifiseer
deur S v Mziyane and Others supra, voorsiening gemaak word
in die gewone loop van omstandighede die moontlike onreg voorkom waarteen die
Vrystaatse siening wil
waak. As so 'n opskortingsvoorwaarde gekwalifiseer word
deur die
27
bykomende bepaling dat slegs 'n skuldigbevinding met 'n
toepaslik gekose minimum straf inwerkingstelling kan meebring, is die risiko
van
'n onreg weglaatbaar klein. Boonop kan die rare uitsonderingsgevalle nog
ondervang word deur regterlike uitoefening van die inwerkingstellingsdiskresie
wat by a 297(9) van die Strafproseswet 1977 verleen word.
Graag wil ek
waardering betuig vir die bystand van advokaat Schmidt, wat namens die
respondent opgetree het. Nie alleen was sy betoog
deegiik en ewewigtig nie maar
hy het ter eifder ure op versoek van die hof uitvoerige aanvullende
betoogshoofde voorberei wat van
groot nut was.
Die appèl teen vonnis slaag. Die opgelegde vonnis word ter syde gestel en vervang deur die volgende:
Vyf jaar gevangenisstraf waarvan twee-en-'n-
half jaar opgeskort word vir drie jaar op
28
voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word nie aan 'n oortreding van a 2(a) of 2(b) van Wet 41 van 1971 gepleeg in die tydperk van opskorting en waarvoor sy gevonnis word tot onopgeskorte gevangenisstraf van ten minste nege maande.
J.C. KRIEGLER
WAARNEMENDE APPeLREGTER
SMALBERGER AR ]
] STEM SAAM
GOLDSTONE AR ]