South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1995 >>
[1995] ZASCA 7
| Noteup
| LawCite
S v Holtzhausen en Andere (589/93) [1995] ZASCA 7 (9 March 1995)
Download original files |
CG SAAKNOMMER: 589/93
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak van:
PETRUS HENDRIK HOLTZHAUSEN Eerste Appellant
ANTOINETTE VAN WYK Tweede
Appellant
FRANS J VAN WYK Derde Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: SMALBERGER, NESTADT et VAN DEN
HEEVER
ARR
AANGEHOOR: 28 FEBRUARIE 1995
GELEWER: 9 MAART
1995
UITSPRAAK VAN DEN HEEVER AR
2
Die eerste twee appellante is broer en suster. Tweede appellant was toe die misdade gepleeg is waarop al drie tereggestaan het, met derde appellant getroud. Hulle is voor die verhoor plaasgevind het egter al geskei. Al drie is naamlik aangekla van roof met verswarende omstandighede, en van moord. Die aanklagtes spruit uit 'n aaneenlopende reeks gebeure op 19 Junie 1992 toe mnr J W Whitemore in sy woonstel op Kroonstad aangeval en beroof is, en later gesterf het. Die verhoorhof het die broer en suster op die eerste aanklag skuldig bevind soos aangekla, en derde appellant aan begunstiging by roof met verswarende omstandighede. Op die moordklag is eerste en tweede appellant skuldig bevind aan poging tot moord, en derde aan begunstiging by die poging. Die vonnisse aan hulle opgelê, was -Eerste appellant: 12 jaar gevangenisstraf op die roofaanklag, waarmee 7 van die 10 jaar opgelê vir die poging tot moord moet saamloop - dus effektief 15 jaar gevangenisstraf; Tweede appellant: 12 jaar vir die roof, waarmee 5 van die 10 jaar
3
opgelê vir die poging tot moord moet saamloop - dus effektief 17 jaar
gevangenisstraf;
Derde appellant: 5 jaar t.o.v. die eerste skuldigbevinding, waarmee
helfte
van die 3 jaar op die tweede opgelê, moet saamloop - dus
effektief 6½
jaar gevangenisstraf.
Al drie kom met verlof van die
verhoorhof in hoër beroep slegs teen hierdie vonnisse. Geriefshalwe verwys
ek in wat volg na die
drie op hul voorname: Petrus, die broer, gebore op 15
Julie 1974; Antoinette, die suster, gebore op 29 Junie 1970; en haar gewese
man
Frans, gebore op 13 Julie 1965.
Elkeen het na arrestasie 'n verklaring voor
'n landdros afgelê; en in die landdroshof skuldig gepleit op beide klagte.
Na ondervraging
ingevolge a 112(l)(b) van die Strafproseswet is 'n pleit van
onskuldig op beide aanklagte ten opsigte van elkeen genotuleer, By die
verhoor
het al drie getuig. Hulle praatjies het nie konsekwent gebly in die besonderhede
van hul weergawes van wat gebeur het nie.
Die tersaaklike
4
gebeure wat gemene saak is of deur die verhoorhof aanvaar is as die mins
beswarende ten opsigte van die betrokke aangeklaagde, kan
as volg opgesom
word.
Die huwelik tussen Antoinette en Frans, op 14 Julie 1989, was gedwonge.
Die kindjie gebore is deur Volkswelsyn in pleegsorg laat plaas
en is mettertyd
deur die pleegouers aangeneem. Die huwelik is gekenmerk deur twis,
onbesonnenheid en Enansiële gebrek. Toe Petrus
op 10 Junie by die egpaar in
Welkom kom kuier het voordat hy weermag toe sou gaan om diensplig te verrig, het
staking van water-toevoer
en elektrisiteitsvoorsiening hulle in die gesig
gestaar tensy die rekening van ongeveer R100 onmiddellik betaal word. Frans het
R100
van sy werkgewer geleen, maar 'n video-speletjie en drank gekoop. Daar is
besluit dat Antoinette sou gaan na mnr Whitemore op Kroonstad
en geld by hom
probeer leen. Whitemore was 'n alleenloper, 'n afgetrede geskeide onderwyser. Sy
het hom leer ken toe sy vroeër
in Kroonstad by die Emilio Hotel gewerk het,
waar Whitemore gereeld gedrink het.
5
Daar het hy in die verlede vir haar geld geleen en na haar probleme
geluister, en nie sy vriendskap weerhou nie ondanks die feit dat
sy eendag
sonder toestemming met sy kar vort is waarin daar duur kameras ook was. Die
episode het vir Antoinette skuldigbevindings
besorg, van oortreding van a 1(1)
van Wet 56 van 1956, en diefstal, ten opsigte waarvan oplegging van vonnis
uitgestel is. Op Woensdag,
17 Junie het Antoinette toe geryloop na Kroonstad.
Hoewel sy aangedoen het by Whitemore se woonstel, moes sy onverrigte sake
huistoe
omdat Whitemore betrokke was by ander mense. Volgens haar, het hy haar
gevra om Vrydag weer te kom.
In die lig van daardie versoek, was die
getuienis van Petrus en Antoinette, aangaande die rede waarom hulle op Vrydag
saam na Kroonstad
geryloop het, nie besonder oortuigend nie, naamlik dat dit
hulle moeder se verjaarsdag is en hulle haar wou gaan gelukwens. Voor
hulle
vertrek is in die loop van 'n gesprek tussen die drie gesê dat, om hul
geldnood te verlig, Whitemore ontvoer moes word
en hy, sy motor
6
en sy tjekboek na die van Wyk woning gebring word. Frans se afskeidsgroet toe
sy vrou en swaer daar weg is, was juis (hy beweer, skertsend)
dat hulle nie die
motor en die tjekboek moes vergeet nie.
Volgens Frans is hy daama na sy werk.
Toe hy om ongeveer 21h00 terugkom was Petms en Antoinette nie daar nie. Hy is
hotel toe waar
hy ongeveer R30 uitgedrink (of -gedrink en -gedobbel) het.
Volgens hom het hy later in 'n beskonke toestand tuis op die rusbank aan
die
slaap geraak.
Toe hulle na Kroonstad is, was Petrus en Antoinette van voomeme
om Whitemore te ontvoer en beroof. Volgens hulle was geen detail bespreek
nie.
Hulle is nadat hulle aangedoen het by hul moeder by haar werk, na Whitemore se
woonstel. Hy was nie bereid om aan Antoinette
geld te leen nie - sy erken, omdat
hy uit ondervinding nie sou verwag dat dit terugbetaal word nie - maar het hulle
genooi om saam
met hom te gaan drink, eers by een hotel en toe 'n ander. Toe
Antoinette hom teen skemer vra om haar en Petrus terug te neem na Welkom,
was
Whitemore
7
duidelik versigtig: sy vriend Louis moes saam, en dié het weer sy vrou en kinders saamgenooi. Toe hulle voor dooiemansdeur in Welkom aanland, het Antoinette gelieg dat Frans na Kroonstad is op soek na hulle. Broer en suster is toe saam terug na Kroonstad, waar Louis en sy gesin afgelaai is en Whiternore en die twee verder by die hotel gaan drink het. Hulle is later op uitnodiging saam met hom na sy woonstel. Daar het hulle verder gedrink. In opdrag van Antoinette het Petrus die niksvermoedende Whitemore eers met 'n bierbottel oor die kop en toe hy protesteer met 'n leë drankbottel ook oor die kop geslaan. Petrus het 'n kussing vasgedruk teen sy gesig en Antoinette het op sy maag gesit totdat Whitemore ophou worstel het. Hulle het gemeen dat hy dood is. Hulle het toe waardevolle artikels soos 'n kykkas en videomasjien, hoëtroustel met laserskyfspeler, laserskywe, plate en kassette, gholfstokke met sak, koordlose telefoon, kameras en 'n goue muurhorlosie, in Whitemore se kar gaan laai. Nadat Antoinette geld uit Wbitemore se broeksak verwyder het ea hy self, toegewikkel in 'n kombers, op die
8
agterste sitplek geplaas is, is die twee met Whitemore en sy besittings in sy
kar terug na Welkom.
Daar aangekom is Frans wakkergemaak. Toe hy by die kar
kom, het hy Whitemore geklap - volgens hom, om te kyk of hy "nie wakker word
nie". Frans trek toe die kar vanaf die oprit tot in die agterplaas. Hy het
Whitemore uit die kar geruk en hom op die grond laat val
waar hy hom geskop en
geslaan het. Inmiddels het Petrus en Antoinette hul buit die woning ingedra.
Daarna is Whitemore weereens op
die agtersitplek van sy kar ingelaai en die
drietal het na Odendaalsrus gery. Frans se getuienis dat sy optrede daarop gemik
was
om sy swaer en veral sy vrou te help, is deur die verhoorhof aanvaar redelik
moontlik waar te kan wees, ondanks gebreke daarin. Op
pad is Whitemore, op
versoek van Petrus wat tot op daardie stadium op hom moes sit op die agterste
sitplek, in die kattebak oorgelaai.
Die besonderhede van hul reis daarna is nie
belangrik nie, behalwe dat in die loop daarvan beide Petrus en Frans nie
geskroom het
om artikels van Whitemore se liggaam te
9
verwyder nie, en nie een van hulle geskroom het om baat te trek uit Whitemore
se bankrekening nie. Hulle drie is na Bloemfontein met
die vermeende lyk in die
kattebak. Padlangs is petrol, en dáár klere vir al drie, en ook
drank, deur middel van Whitemore
se tjekboek onder bewind van Antoinette
aangeskaf. Hulle is terug na Welkom waar hulle op dieselfde wyse kruideniersware
aangekoop
het, waarna hulle uitmekaar is. Petrus is terug na Kroonstad. Die
egpaar is vort op 'n besigtigingstoer na Sun City maar het padlangs
die lyk
onder 'n boom neergegooi, is toe via Johannesburg na Durban, waama hulle
teruggekeer het na Welkom. Antoinette was besig
om van Whitemore se besittings
te verpand toe sy op Maandag, 23 Junie gearresteer is. Daarna het die arrestasie
van die ander twee
gevolg.
Petrus en Antoinette was oortuig dat Whitemore
reeds dood was toe hulle sy "lyk" uit sy woonstel verwyder. Volgens die mediese
getuienis
is Whitemore dood as gevolg van massale breinbloeding. Die dood sou
lank nadat hy bewusteloos geword het, ingetree het, te oordeel
10
aan beide die grootte van die breinbloeding en die hoeveelheid bloed wat nog
in die kattebak van Whitemore se kar gevloei het en gevind
is. Presies
hoé lank kon nie bepaal word nie. Daar kon dus nie met sekerheid
gesê word nie of die oorsaak van sy dood
die houe was wat Petrus op
Antoinette se bevel in Whitemore se woonstel aan hom toegedien het, of die
latere houe en skoppe wat Frans
toegedien het aan wat hy ook gemeen het 'n lyk
was. Vandaar die skuldigbevinding van slegs poging tot moord, waarby die
verhoorhof
dolus eventualis as opsetvorm bewese bevind het. Die mediese
getuienis toon ook dat Whitemore maar 'n tingerige, ondervoede man was,
klaarblyklik met 'n drankprobleem en wat toe hy dood is baie dronk was. 'n
Monster van die lyk getrek het getoon dat die konsentrasie
alkohol 0.33 gram per
100 milliliter bloed was.
Petrus en Frans was eerste oortreders. Antoinette
het die vorige veroordeling erken, op 16 Maart 1992 opgeloop, wat gespruit het
uit
haar vorige optrede teenoor Whitemore - dus pas drie maande voor die
11
onderhawige vergrype.
Groot moeite is gedoen om aan die verhoorhof
omvattende inligting voor te lê vir doeleindes van vonnisbepaling. Al drie
appellante
het getuig, en welsynsverslae is voorgelê, waarby ook
sielkundige evaluasies aangeheg is. Die huidige appèl gaan slegs
daaroor,
dat die gevangenistermyne wat bepaal is, skokkend onvanpas sou wees vanweë
die lengte daarvan.
Al drie het getuig van berou. In die lig van hul optrede
nadat hulle gemeen het dat Whitemore dood is, kan dit slegs krokodiltrane
wees
vir die penarie waarin hulle hulle laat beland het.
Die verslag ten opsigte
van Petrus toon dat hy 'n probleemkind uit 'n probleem-huishouding is. Hy het
vroeg begin rook, drink, steel
en stokkiesdraai. Sy moeder het vanweë sy
onbeheerbaarheid dikwels gevra dat hy uit sy ouers se sorg verwyder word, maar
sodra
aan haar versoek voldoen wil word, het sy weer daarop aangedring dat enige
vorm van inmenging gestaak word en het sy alle samewerking
geweier. Daar is
'n
12
suggestie van 'n ongesonde verhouding met 'n Katolieke priester vir wie Petrus uitgebuit het, soos hy ander ook probeer mampuleer. Evaluasie deur 'n kliniese sielkundige het gelei tot die gevolgtrekking dat hy gemiddeld intelligent is; emosionele- en moontlik ook aanpassingsprobleme toon; nog as onvolwasse bestempel kan word wat sy morele ontwikkeling betref; maar desnieteenstaande verantwoordelikheid aanvaar vir sy aandeel in die pleeg van die misdade. Antoinette kom uit dieselfde agtergrond. Sy het teenoor die maatskaplike werkster bevestig dat Whitemore 'n goeie vriend van haar was. "Hy het dikwels aan haar geld geleen en wou dit nooit neem indien sy dit aan hom wou teruggee nie. Sy beskou hom as 'n soort vaderfiguur en ontken dat hul verhouding op enige stadium intiem of die van verliefdes was." Soos haar broer, het sy vroeg begin rook en drink, stokkies gedraai, maar verder gegaan as hy: sy het nog as bogkind gedreig om gesinslede met haar vader se .22, op hulle gerig, te skiet; en is in standerd 7 uit die skool geskors vanweë "haar betrokkenheid by
13
misdaad". Evaluasie deur 'n kliniese sielkundige het tot soortgelyke
gevolgtrekkings gelei as waartoe geraak is ten opsigte van haar
broer, behalwe
dat sy ietwat meer intelligent as hy en heelwat meer intelligent as Frans is; en
dat dit voorkom asof sy nie volle
verantwoordelikheid vir die pleeg van die
misdaad aanvaar nie. Laasgenoemde gevolgtrekking is miskien te gunstig, in ag
genome haar
antwoord op die vraag, hoe sy dit kon regkry om teenoor juis haar
vriend en vertroueling op te tree soos wat sy gedoen het: "Wel,
ek het, ons het
geld nodig gehad."
Frans het nie probleme as kind gehad of gegee nie, behalwe
dat hy weens beperkte verstandelike vermoëns 'n spesiale skool moes
bywoon.
Hy is egter maklik beïnvloedbaar, en sedert hy skool verlaat het, het hy
dikwels uit sy werk bedank en was hy vir mkke
aangewese op sy ouers vir
onderhond, en het ook dagga gerook en met tye hom aan drank vergryp. Van die
drie het hy die laagste intelligensie
maar is emosioneel en moreel daik beter
aangepas as die ander twee, en het die mees aanvaarbare tekens van berou
getoon.
14
Dit is al male sonder tal beklemtoon dat die bepaling van 'n gepaste vonnis
binne die diskresie van die verhoorhof val. Wat betref
Antoinette en Frans is
daar nie gewys op enige misvatting deur die verhoorregter nie.
In haar geval
is wel betoog ondermeer dat die verhoorhof behoort te aanvaar het wat sy
voorgegee het, dat sy uit vrees vir Frans opgetree
het ter uitvoering van wat sy
beskou het as sy opdrag aan haar: om Whitemore te ontvoer en met kar en tjekboek
na hom te bring. Daar
is geen meriete in die voorstel nie. Sy het nie enige
sulke vrees genoem in haar verklaring aan die landdros of toe sy in die
landdroshof
gepleit het nie. Hoewel dit gemene saak is dat Frans haar wel met
geleentheid aangerand het, vertel hy dat dit was omdat en wanneer
sy hom getart
het. Sy erken dat sy hom heelpartykeer in die verlede verlaat het en dan aan hom
ontrou was; en in haar weergawe van
hoe sy, toe hulle twee juis weer uitmekaar
was, Whitemore se voertuig met die vorige geleentheid geneem het, waama sy en
Frans versoen
is, is daar geen ruimte daarvoor
15
dat vrees vir Frans die beweegrede van haar oortredings was nie. Dit was ook sy wat deurentyd in hul rondreise ná die oortredings in beheer van die tjekboek en besluite aangaande die gebruik of eerder misbruik daarvan, was; en sy wat stappe geneem het om Whitemore se geroofde bates te gaan verpand. Inderdaad is daar geen sprake van werklike versagtende omstandighede nie. Die verhoorhof noem dat sy betreklik jonk is, en drank ingehad het; maar haar drankinname was 'n doelbewuste deel van vooruitbeplande uitbuiting van haar weldoener se swakheid.
Die verswarende omstandighede is legio en spreek vir sigself uit die opsomming van gebeure hierbo geskets. Belangrikste is dat dit sy is wat die leiding geneem het en verraderlik die geleentheid geskep het om haar weldoener weerloos te maak sodat hy in sy eie tuiste met geweld en 'n oormag oorval kon word. Met geweld is genadeloos volgehou totdat hy bewusteloos - sy het gemeen, dood - was. In die proses van leiding neem, het sy haar jonger broer saam met haar die sonde in gelei. Die
16
optrede was ook beplan en nie iets wat op die ingewing van die oomblik
ontstaan het nie. En die wyse waarop met Whitemore se liggaam
en mettertyd lyk
daarna gehandel is, spreek van 'n verbysterende gevoelloosheid. Daar is geen
gronde waarop hierdie hof met die vonnisse
aan haar opgelê kan inmeng
nie.
Wat Frans betref, het die verhoorhof na my mening geensins gefouteer in
sy bepaling van 'n gepaste straf, of enige tersaaklike faktor
of faktore
verbygekyk nie. Die plan om Whitemore te beroof het by hom sy oorsprong gehad,
in die sin dat dit volgens Petrus en Antoinette
sy idee was om haar na Whitemore
te stuur om te probeer geld by hom leen; wat Frans nie ontken het nie. Onder
daardie omstandighede
is sy aanranding op wat hy beweer hy aanvaar het 'n lyk
was, met gepaardgaande beskuldiging dat Whitemore met Antoinette sou omgang
gehad het, verregaande. Frans het ook ruim gedeel in die buit, en self 'n ring
van die dooie man se vinger verwyder om aan syne te
sit. Dit maak 'n klug van sy
aanspraak op deug - sensitiwiteit of respek vir die
17
dooie - omdat hy Antoinette sou gekeer het toe sy volgens hom die lyk wou
verbrand.
Petrus se geval is egter anders. Die verhoorhof het aan hom
dieselfde vonnisse opgelê as aan sy suster, wat nie geregverdig
was nie.
Hy was nog 'n jeugdige, hoewel na aan sy 18de verjaarsdag. Antoinette het sonder
twyfel die leiding gegee, soos reeds uitgewys,
in die duiwelsdade van daardie
dag en die dae wat daarop gevolg het; waarvan Petrus hom in elk geval betreklik
vroeg gedistansieer
het. Daar sal onthou word dat hy terug is na Kroonstad nadat
hulle van Bloemfontein teruggekeer het en Frans die begeerte om Sun
City te gaan
besigtig, uitgespreek het. Petrus het ook maar min van die onmiddellike buit
gekry, verreweg die meeste van die items
het die van Wyks vir hulle gehou.
Hoewel hy erken dat dit hy is wat die fisiese aanval op Whitemore geloods het,
was dit aldus geloods
eers toe Antoinette die teken daarvoor gegee het. En hy
het nie, soos Antoinette, 'n vorige veroordeling vir oneerlikheid wat haar
roof
vererger nie, of die
18
persoonlike verhouding met Whitemore as weldoener gehad wat haar poging om
hom te vermoor soveel meer gruwelik maak. Mnr Visser, wat
namens die Staat voor
ons opgetree het, het heel billik en korrek toegegee dat daar 'n verskil in
Petrus se guns getrek moes gewees
het tussen die erns waarmee die gereg
Antoinette se oortredings bejeen, en syne.
Inagnemend sy geringer aandeel aan
wat steeds erg laakbare dade was, en die ander faktore pas genoem, meen ek dat
die vonnisse meer
ewewigtig sou wees indien syne verminder word soos in die
bevel hierna uitgestip, en in sy geval ook rekenskap gehou word met die
kumulatiewe effek van die twee; wat dan ook die verskil in morele verwytbaarheid
tussen hom en sy suster beter weerspieël as
wat die vonnis soos deur die
verhoorhof opgelê dit doen.
1. Die appèl van tweede en derde appellante teen die vonnisse aan hulle opgelê, word van die hand gewys. 2. Die appèl van eerste appellant teen die vonnis aan hom opgelê
19
slaag in der mate dat dit vervang word deur die volgende:
"Op die eerste aanklag, van roof met verswarende omstandighede, word beskuldigde gevonnis tot 9 jaar gevangenisstraf. Op die tweede aanklag, van poging tot moord, word beskuldigde gevonnis tot 7 jaar gevangenisstraf. Dit word gelas dat 4 jaar van die vonnis op die tweede aanklag samelopend sal wees met die vonnis op die eerste - d.w.s. 'n effektiewe vonnis van 12 jaar vangenisstraf."
L VAN DEN HEEVER
STEM SAAM:
SMALBERGER AR) NESTADT AR)