South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2000 >>
[2000] ZASCA 18
| Noteup
| LawCite
Provinsie van die Vrystaat v Williams NO (554/97) [2000] ZASCA 18; 2000 (3) SA 65 (SCA) ; [2000] 2 All SA 172 (A) (29 March 2000)
Download original files |
RAPPORTEERBAAR
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL
VAN SUID-AFRIKA
SAAKNOMMER 554 / 97
In die appèl van
DIE PROVINSIE VAN DIE VRYSTAAT
Appellant
(voorheen die Provinsie van die
Oranje-Vrystaat)
EN
A WILLIAMS N.O. Respondent
Regbank Grosskopf, Harms, Olivier, Schutz en Scott
ARR
Verhoordatum 16 Maart 2000
Uitspraak 29 Maart 2000
Samevatting
Gevolge van wysiging van besonderhede van
vordering op voldoening aan vereistes van Wet op Beperking van Regsgedinge 94
van 1970.
UITSPRAAK
OLIVIER AR
OLIVIER AR
[1] Hierdie is ’n appèl teen die uitspraak van Malherbe R, in die
onderhawige geding, gelewer in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling op
29 Mei 1997. Die nodige verlof om na hierdie Hof te appelleer is deur die hof
a quo verleen. Die uitspraak van die hof a quo is as Williams NO v Lesotho
National Insurance Co (Pty) Ltd en ’n Ander 1997 (4) SA 722 (O)
gerapporteer.
[2] Die twee kernvrae kan soos volg toegelig word : ’n eiser stel aksie in
teen ’n provinsiale administrasie uit hoofde van ’n onregmatige daad na
bewering gepleeg deur werknemers van laasgenoemde. Hy gee
kennis
ingevolge die bepalings van art 2 (1) (a) van die Wet op Beperking
van
Regsgedinge 94 van 1970 (“die Wet”). Veel later, na die verstryking van die
tweejarige vervaltermyn voorgeskryf deur art 2 (1) (c) van die Wet, wysig hy
sy besonderhede van vordering taamlik ingrypend. Wat is die
effek van die
wysiging op die bepalings van art 2 (1) (a) van die Wet? Wat
is die effek op
art 2 (1) (c) van die Wet?
[3] Die feite is kortliks die volgende : Op 5 Maart 1989 is Marius van
Vuuren, ’n jongman van 23 jaar, (hierna genoem “die pasiënt”) in ’n
motorvoertuigbotsing beseer, onder omstandighede wat ’n derdeparty-
versekeraar (die eerste verweerder a quo) aan aanspreeklikheid sou blootstel.
Die beserings opgedoen in die botsing het hoofsaaklik uit ernstige frakture,
skok en bloedverlies bestaan.
[4] Op 6 Maart 1989 is die pasiënt in die Universitas Hospitaal,
Bloemfontein, opgeneem en deur die personeel, wat in diens van die
Provinsie van die Oranje-Vrystaat (die tweede verweerder a quo) was,
behandel. In die loop van hierdie behandeling (wat ’n sjirurgiese ingreep om
sekere frakture te reduseer, ingesluit het) het
’n hartstilstand plaasgevind.
Weens die gevolglike suurstofnood het
die pasiënt ernstige breinskade
opgedoen. Die gevolge hiervan was
onder andere dat hy daarna nie in staat
was om sy eie sake te behartig
nie.
[5] In November 1990 is Advokaat Williams (“die eiser”), ’n lid van die
Bloemfonteinse Balie, as kurator-ad-litem aangestel vir die pasiënt met die oog op die instel van ’n aksie om skadevergoeding.
[6] Die eiser was begerig om namens die pasiënt aksie teen beide die
verweerders in te stel. Dit is gemene saak dat die eiser teenoor die eerste verweerder behoorlik voldoen het aan al die bepalings van die toentertyd geldende Wet op Verpligte Motorvoertuigversekering 56 van 1972. Die eiser se vordering teen die eerste verweerder is nie in hierdie appèl ter sprake nie.
[7] Wat die tweede verweerder betref, is twee voorskrifte van die Wet tans
ter sake . Die eerste relevante bepaling is art 2 (1) (a), wat bepaal dat “ ...
geen regsgeding ten opsigte van ’n skuld teen ’n administrasie ...” ingestel
word nie, tensy die skuldeiser, binne negentig dae vanaf die dag waarop die
skuld opeisbaar geword het, ’n skriftelike kennisgewing aan die
skuldenaar beteken het “ ... waarin die feite waaruit die skuld onstaan het en
dié besonderhede van sodanige
skuld waarvan die skuldeiser kennis dra,
uiteengesit
word.” (My beklemtoning.)
Die tweede relevante bepaling is art 2 (1) (c), wat bepaal dat geen
sodanige regsgeding teen ’n administrasie ingestel word nie na verloop van ’n tydperk van vier-en-twintig maande vanaf die dag waarop die skuld opeisbaar geword het.
Gerieflikheidshalwe noem ek die twee vereistes onderskeidelik die
kennisgewingsvereiste en die verjaringsbepaling (ten opsigte van laasgenoemde sien Meintjies NO v Administrasieraad van Sentraal-Transvaal 1980 (1) SA 283 (T) op 293 A - H).
[8] Die kennisgewing, soos vereis deur art 2 (1) (a) van die Wet, is deur die
eiser se prokureur op 10 Junie 1991 gegee en lui soos volg :
“(b) Om ongeveer 04:20 op 6 Maart 1989 het die pasiënt te die Noodgevalle Afdeling, Universitas Hospitaal arriveer, waarna hy na die operasieteater geneem is vir reduksie van die frakture wat hy opgedoen het.
(c) Haemaccel en bloed is toegedien om vloeistoftekort as gevolg van bloedverlies te bekamp, terwyl die pasiënt se bloeddruk en urien-uitskeiding gemonitor was.
(d) Tydens chirurgie en/of latere radiologiese ondersoek is van ’n sentralelyn-kateter gebruik gemaak om die pasiënt se sentrale veneuse druk (SVD) te meet, welke druklesing 18mm Hg. geregistreer het.
(e) Hierdie lesing is verkry deurdat die kateter foutiewelik in die regter ventrikel van die hart geplaas is.
(f) Die foutiewelik hoë lesing het aanleiding gegee tot die konklusie dat die pasiënt geen vloeistoftekort ondervind het nie, en ten einde uitskeiding van urien aan te moedig, is ’n massiewe dosis van ’n kragtige diuretikum bekend as Lasix toegedien wat die gevolg gehad het dat ’n reeds ernstige hipovolumiese pasiënt letterlik liters urien uitgeskei het.
(g) Hierdie verdere en foutiewe ontwatering van die pasiënt het gelei tot kardiale-arres en gevolglik tot breinskade.”
[9] Die eiser het op 21 Oktober 1992 aksie teen beide verweerders
aanhangig gemaak. Die besonderhede van vordering
lê die volgende bewerings die tweede verweerder ten laste :
12
“Op of ongeveer die 6de dag van Maart 1989, direk na sy betrokkenheid in die motorbotsing voormeld, is die pasiënt na die Noodgevalle-afdeling, Universitas Hospitaal, BLOEMFONTEIN, ORANJE VRYSTAAT, gebring en welke hospitaal onder beheer en toesig van tweede verweerder is, waar sekere chirurgiese prosedures op hom uitgevoer en sekere mediese behandeling aan hom toegedien is.
13
Tydens mediese ondersoek is van ’n sentrale lyn-kateter gebruik gemaak om die pasiënt se sentrale veneuse druk (SVD) te meet, welke druklesing 18 ml Hg geregistreer het; en welke druklesing aanduidend was van die feit dat die pasiënt ’n voldoende liggaamsvoginhoud gehad het.
14
Hierdie lesing is verkry deurdat die kateter op nalatige wyse deur die betrokke mediese beampte, ene dr HATTINGH, foutiewelik in die regter ventrikel van die hart geplaas is, eerder as in die korrekte hartkamer vir die neem van ’n akkurate sentrale veneuse druklesing.
15
As gevolg van die nalate voormeld, en die resulterende foutiewe hoë lesing is deur die betrokke mediese beampte tot die foutiewe konklusie gekom dat die pasiënt geen liggaamsvogtekort ondervind het nie en ten einde uitskeiding van urine aan te moedig, is ’n groot dosis van ’n kragtige de-uritikum bekend as Lasix toegedien wat die gevolg gehad het dat ’n reeds ernstige hipovolumiese pasiënt liters urine uitgeskei het en wat hipokalomie tot gevolg gehad het.
16
As ’n direkte gevolg van die gebeure uiteengesit in die paragrawe hierbo, het die pasiënt ’n kardiale arres ervaar en as gevolg van gemelde kardiale arres het die pasiënt breinskade opgedoen weens ’n versteuring van die suurstoftoevoer na die betrokke orgaan.
17
Iedere en elke amptenaar wat betrokke was by die uitvoer van die nalatige handeling hierbo na verwys, was in diens van tweede verweerder en het toe en daar gehandel binne die omvang en bestek van hulle diensverhouding met tweede verweerder en is tweede verweerder derhalwe aanspreeklik vir die pasiënt se skade hierinlater uiteengesit.
18
As ’n direkte gevolg van die breinskade wat die pasiënt soos hierintevore uiteengesit opgedoen het, is die pasiënt se fisiese gesteldheid dié van ’n persoon in ’n toestand tussen paraplegie en quadruplegie en is hy nie in staat om tans of enige tyd in die toekoms homself te versorg of enige winsgewende werk of arbeid te verrig nie en het die pasiënt skade gely soos volg:
18.1 Verlies aan lewensgenietinge : R700
000,00
18.2 Toekomstige verlies aan verdienste : R572
868,00.”
[10] Op ’n veel later stadium, nl 8 Desember 1995, toe die saak ryp was vir
verhoor en meer as vier-en-twintig maande nadat die pasiënt beseer is en ook meer as vier-en-twintig maande nadat die eiser as kurator-ad-litem aangestel is, gee eiser kennis van sy voorneme om paragrawe 13 en 14 van sy besonderhede van vordering, soos hierbo aangehaal, deur te haal en met nuwe paragrawe 13 en 14, wat soos volg lui, te vervang :
13
“Dr J PENHALL wat verantwoordelik was vir die pasiënt tydens laasgenoemde se opname by die voormelde hospitaal, en/of dr HATTINGH, wat die narkotiseur was tydens die operasie na opname op die pasiënt uitgevoer, en/of mediese amptenare, die identiteit van welke assistente en/of amptenare tans aan eiser onbekend is, maar wat almal in diens van die tweede verweerder was, was in een of meer van die volgende opsigte nalatig gewees:
13.1 Daar was nagelaat om die pasiënt behoorlik en vollediglik te ondersoek vóór die aangaan van die operasie, as gevolg waarvan die omvang van die totale beserings nie besef is nie en ook nie dienooreenkomstig behandel is nie; en/of
13.2 onvoldoende resussitasie en behandeling vóór die aanvang van die operasie, veral met betrekking tot :
(a) nalate om die omvang van die massiewe bloedverlies van die pasiënt te bepaal of vas te stel; en
(b) nalate om
genoegsame bloed vóór die operasie toe te dien; en/of
13.3 onbehoorlike / foutiewe operasie / prosedure / behandeling, veral met betrekking tot :
(a) die verkeerde toediening van Effortil voortspruitende uit ’n gebrek om te besef dat die oorsaak van hipertensie van die pasiënt die gevolg van die uitputting van die bloedsomloop was en wat met vloeistowwe behandel moes word,
(b) die toediening
van Lasix toe die pasiënt primêr aan bloedverlies gely
het;
13.4 vóór die toediening van Lasix is ’n foutiewe sentrale veneuse druk (SVD) gemeet deurdat die kateter foutiewelik in die regter ventrikel geplaas of beland het. Die kateter moes in die atrium geplaas gewees het en sorg moes gedra word dat die kateter nie verskuif nie, sodat ’n korrekte lesing te alle tye verkry kon word; en
13.5 die foutiewe SVD lesing wat verkry is, het foutiewelik gelei tot die groot dosis Lasix wat toegedien is en welke toediening die gevolg gehad het dat die reeds ernstige hipovolemiese pasiënt liters urine uitgeskei het wat hipokalomie tot gevolg gehad het.
14
As ’n direkte gevolg van die gebeure uiteengesit in die paragrawe hierbo, het die pasiënt ’n kardiale arres ervaar en as gevolg van gemelde kardiale arres het die pasiënt breinskade opgedoen weens ’n versteuring van die suurstoftoevoer na die betrokke orgaan.”
[11] Die tweede verweerder het daarna kennis gegee van sy voorneme om
die aansoek om wysiging teen te staan, en wel op die volgende gronde:
“1 Die voorgestelde wysiging, in die besonder dan paragrawe 13,13.1,13.2 en 13.3, maar selfs paragraaf 13.4, konstateer effektiewelik ’n nuwe skuldoorsaak ten opsigte waarvan daar, eerstens, nie voldoen is aan die bepalings van Wet 94 van 1970 nie, maar welke in elk geval reeds verjaar het deurdat die beweerde skuldoorsaak meer as drie (3) jaar voor die kennisgewing van wysiging ontstaan het.
2 Die voorgestelde wysiging sal, indien toegestaan, plaasvind meer dan drie jaar na uitreiking van dagvaarding en bykans sewe (7) jaar na die tersaaklike voorval, met die gevolg dat dit ’n wesenlike benadeling, wat nie bloot deur ’n kostebevel reggestel kan word nie, vir die tweede verweerder inhou.”
[12] Ek moet hier verpoos om op te merk dat daar op hierdie stadium ’n
wanopvatting ontstaan het wat by herhaling in die uitsprake van Van Coppenhagen R en Malherbe R in die hof a quo asook in die betoë van die appellant se advokaat in hierdie hof voorgekom het. Dit is dat die verjaringstermyn in die onderhawige saak drie jaar is. Daar is blykbaar van die veronderstelling uitgegaan dat die verjaringsbepalings van die Verjaringswet 68 van 1969 op die onderhawige eis van toepassing is. Dit is nie so nie. Die tans tersake wet bevat sy eie termyn van vier-en-twintig maande en die Verjaringswet kom tans alleen op indirekte wyse ter sprake en wel by wyse van analogie, soos hieronder aangetoon sal word. (Wat die analogie tussen die twee statute in die algemeen betref, sien Meintjies NO v Administrasieraad van Sentraal-Transvaal, supra, op 290 in fine tot 294 D; en die gelykluidende bepalings in De Klerk en ’n Ander v Groter Kroonstad Plaaslike Oorgangsraad 1999 (2) SA 870 (O) op 873 A - 875 H.)
[13] Die bestrede aansoek om wysiging is deur Van Coppenhagen R
aangehoor en toegestaan en wel op die basis dat die wysiging nie ’n nuwe
skuldoorsaak daarstel nie en dat die kwessie van verjaring nie
ter sprake kom
nie. Klaarblyklik het die geleerde regter die bepalings van
die Verjaringswet
in gedagte gehad.
[14] Die eiser het hierna sy besonderhede van vordering dienooreenkomstig
gewysig. Daarna opper die tweede verweerder ’n spesiale pleit, soos volg :
“A SPESIALE PLEIT :
1
Die wysigings van die eiser se besonderhede van vordering soos vervat in paragraaf 13 (in die besonder sub-paragrawe 13.1, 13.2, 13.3 (a) ) daarvan, is aangebring gedurende of omtrent Februarie 1997.
2
Die beweerde nalatige optrede/versuime waarvan die tweede verweerder verwyt word by wyse van middellike aanspreeklikheid in gemelde wysigings, slaan op en behels optredes/versuime anders dan beweerde nalatige optredes/versuime soos gepleit in die eiser se besonderhede van vordering wat die dagvaarding vergesel het en, boonop, optredes/versuime deur ander werknemers van die tweede verweerder.
3
Die optredes/versuime waarvan die tweede verweerder verwyt word deur of by wyse van die gemelde wysigings, het na bewering plaasgevind op of omtrent 6 Maart 1989.
4
4.1 Die gemelde wysigings maak voorsiening vir en bevat dus besonderhede waarvan die eiser aan die tweede verweerder ingevolge en uit hoofde van die bepalings van die Wet op Beperking van Regsgedinge (Wet 94 van 1970) kennis moes gegee het, welke die eiser versuim het om te doen.
4.2 Eiser het in elk geval versuim om, ten
opsigte van voornoemde wysigings, ’n regsgeding teen die tweede verweerder
aanhangig
te maak soos bedoel en voorsien in voornoemde Wet.
5
Voorts en in elk geval het ’n tydperk van meer as drie jaar verloop sedert die beweerde skuldoorsaak soos voorsien in die wysigings wat die eiser aangebring het en die datum waarop die wysigings aangebring is en het eiser se vordering soos op die beweerde skuldoorsake waarvoor in die wysigings voorsiening gemaak word, verjaar uit hoofde van die bepalings van die Verjaringswet, Wet 68 van 1969.
6
In die vooropstelling is eiser se vordering insoverre dit gebaseer is op enige skuldoorsake gebaseer op of ingevoer deur die wysigings van die eiser se besonderhede van vordering uit hoofde van die bepalings van Wet 94 van 1970 regtens onontvanklik. Alternatiewelik het die eiser se vordering soos vervat in of ingevoer deur die wysigings van die besonderhede van vordering verjaar uit hoofde van die bepalings van Wet 68 van 1969.
DERHALWE SMEEK TWEEDE VERWEERDER dat eiser se vordering gebaseer op enige skuldoorsaak gebaseer op of waarvoor voorsiening gemaak word in die wysigings van die besonderhede van vordering met koste, afgewys word.”
[15] Die beregting van die spesiale pleit het voor Malherbe R plaasgevind.
Hy het dié pleit om twee, alternatiewe redes, van die hand gewys, te wete:
1 Die uitspraak deur Van Coppenhagen R waardeur die eiser se aansoek om wysiging van sy besonderhede toegestaan is, is finaal van aard wat die verjaringsaspek betref en dieselfde vraag kan nie weer deur ’n hof van gelyke jurisdiksie bereg word nie; en
2 in elk geval behels die gewysigde eis nie ’n nuwe skuld nie en het eiser se aksie dus nie verjaar nie. Ook het Malherbe R bevind dat die eiser se brief gedateer 10 Junie 1991 (hierbo aangehaal), selfs in die lig van die gemelde wysiging, wesenlike voldoening aan die voorskrifte van art 2 (1) (a) van Wet 94 van 1970 daargestel het.
[16] Die spesiale pleit opper, verkeerdelik, in par 5 daarvan, die verweer van
verjaring onder die Verjaringswet. Soos aangetoon, kan dit nie opgaan nie en verg nie verdere oorweging nie. Dit opper wel, in paragrawe 4.1 en 4.2, die aspekte van die effek van die wysiging op die kennisgewingsvereiste en op die verjaringsbepaling.
[17] Res iudicata
Uit die stukke wat voor hierdie Hof geplaas is, blyk dat Van Coppenhagen R slegs gevra was, verkeerdelik soos aangetoon, om die aansoek om wysiging van die hand te wys op die basis dat die gewysigde eis reeds “verjaar” het. In sy uitspraak behandel hy dan ook slegs die sogenaamde verjaringsaspek.
[18] Toe die spesiale pleit voor Malherbe R gedien het en die
verjaringsaspek as substantiewe verweer geopper is, het die respondent
(eiser) se advokaat aangevoer dat dié aspek res iudicata is en nie weer
bereg kan word nie. Malherbe R het hom gelyk gegee (op 731 C - H).
[19] Die beslissings waarop Malherbe R gesteun het om tot gemelde
gevolgtrekkings te kom, nl Webber Wentzel v Batstone and Another 1994 (4) SA 334 (T) en Steyn v Delport 1973 (1) SA 822 (T) dui egter juis op die teenoorgestelde. Hoe dit ook al sy, dit is nie nodig om hierdie aangeleentheid te beslis nie. Ek sal ten gunste van die tweede verweerder aanvaar dat die beginsel van res iudicata nie hier van toepassing is nie.
[20] Die kennisgewingsvereiste
Dit bring my dan by die spesiale pleit gebaseer op die kennisgewingsvereiste van art 2 (1) (a) van die Wet, soos geopper in par 4.1 van die spesiale pleit. Ek het reeds dié paragraaf hierbo aangehaal. Die kern van die pleit op hierdie punt is dat die wysigings besonderhede bevat waarvan eiser aan tweede verweerder kennis moes gegee het, maar versuim het om te doen. Hierdie pleit is op ’n wanopvatting gebaseer. Art 2 (1) (a) vereis nie dat die kennisgewing met die eiser se besonderhede van vordering, hetsy voor of ná enige wysiging, moet ooreenstem nie. Al wat dit vereis is dat die eiser kennis moet gee van die geding en in welke kennisgewing “ ... die feite waaruit die skuld ontstaan het en dié besonderhede van sodanige skuld waarvan die skuldeiser kennis dra ... ” vermeld moet word. (My beklemtoning.)
[21] In die onderhawige geval het die eiser aanvanklik kennis gegee van die
geding en die feite waaruit dit ontstaan het. Hy het ook besonderhede van die “skuld” verskaf. As die eiser se besonderhede van vordering nie later gewysig was nie, sou daar geen klagte teen dié kennisgewing ingebring kon word nie. Inderdaad was daar aanvanklik erken dat voldoen is aan die kennisgewingsvereiste soos blyk uit die uitspraak van Malherbe R (op 730 A - D). ’n Geldige beswaar wat die tweede verweerder na die wysiging kon ge-opper het, was dat die kennisgewing gebrekkig was omdat die eiser nie besonderhede, waarvan hy kennis gedra het, daarin openbaar het nie (sien art 2 (1) (a) ). Die bedoelde kennis van die eiser moet uit die aard van die saak getoets word op die oomblik waarop die kennisgewing gegee is. Die tweede verweerder moes dus gepleit het dat die eiser, toe die kennisgewing gegee is, reeds kennis gedra het van die besonderhede soos in die gewysigde besonderhede van vordering geopenbaar en dat hy dit verswyg het (sien ook Administrateur, Kaap v Burger [1993] ZASCA 44; 1993 (3) SA 414 (A) op 422 D - E). Die tweede verweerder het dit egter nie gepleit nie. Sy pleit dat die voorgeskrewe kennisgewing nie gegee is nie, slaan die bal mis en moes om daardie rede van die hand gewys gewees het.
[22] Die basis waarop Malherbe R hierdie spesiale pleit van die hand gewys
het, nl dat die eis voor en na die wysiging dieselfde is, was dus ook verkeerd, hoewel die resultaat toevallig korrek was.
[23] Die verjaringsbepaling
Die verjaringsbepaling ingevolge die Wet kom vervolgens ter sprake.
Die kern van die ter sake voorskrifte van art 2 van die Wet is dat geen regsgeding ten opsigte van ’n skuld teen ’n administrasie ingestel word nie na verloop van vier-en-twintig maande vanaf die dag waarop die skuld opeisbaar geword het.
Die kernvraag is dus of die skuld in gewysigde vorm, nog dieselfde
skuld is as die een waarop eiser oorspronklik gesteun het toe hy sy eis ingestel het. Dit is gemene saak dat die eis oorspronklik betyds aanhangig gemaak was.
Dieselfde vraag het al talle kere voor die howe sy kop uitgesteek in
verband met die bepalings van art 15 (1) van die Verjaringswet wat bepaal dat verjaring gestuit word “ ... deur die betekening aan die skuldenaar van ’n prosesstuk waarin die skuldeiser betaling van die skuld vorder.” (My beklemtoning.)
Net soos in art 15 (1) van die Verjaringswet gebruik art 2 (1) van die
Wet deurgaans die woord skuld. Die twee wetsbepalinge
is dus in
hierdie opsig in wese ooreenstemmend. Nie een gebruik die terme
skuldoorsaak of aksiegrond nie.
[24] Oor die jare was daar, met betrekking tot verjaring en vervaltermyne en
in die konteks van die effek van ’n latere wysiging van die eiser se pleitstukke, ’n hele aantal uitsprake. Soos egter beklemtoon is in Sentrachem Ltd v Prinsloo 1997 (2) SA 1(A) op 15 C, praat die Verjaringswet soos ook die onderhawige Wet, nie van skuldoorsaak of aksiegrond nie, maar slegs van die vordering van ’n skuld. Die korrekte benadering blyk ook uit Standard Bank of South Africa Ltd v Oneanate Investments (Pty) Ltd (in liquidation) [1997] ZASCA 94; 1998 (1) SA 811 (A) op 826 A - 827 D en Drennan Maud and Partners v Pennnington Town Board [1998] ZASCA 29; 1998 (3) SA 200 (A) op 212 E - 212 JI). Beslissings wat hierdie kriterium oor die hoof gesien het, moet met omsigtigheid benader word. In die besonder kan die tweede verweerder se beroep op die uitspraak in Minister of Safety and Security v Molutsi and Another 1996 (4) SA 72 (A) nie gehandhaaf word nie. Afgesien van feite-verskille tussen die huidige geskil en die een daar ter sprake, het dit daar gegaan om die toepassing van art 32 (1) van die Polisiewet 7 van 1958, wat juis nié die woord “skuld” gebruik nie, maar die woord “eisoorsaak” (“cause of action”), wat enger is as skuld. Dieselfde geld wat die beslissing in Kettledas NO v Minister of Law and Order 1998 (2) SA 76 (SOK) betref.
[25] In Sentrachem Ltd v Prinsloo supra, het hierdie Hof (per Eksteen
AR) die volgende beslis (op 15 in fine) :
“Die eintlike toets is om te bepaal of die eiser nog steeds dieselfde, of wesenlik dieselfde skuld probeer afdwing. Die skuld of vorderingsreg moet minstens uit die oorspronklike dagvaarding kenbaar wees, sodat ’n daaropvolgende wysiging eintlik sou neerkom op die opklaring van ’n gebrekkige of onvolkome pleitstuk waarin die vorderingsreg, waarop daar deurgaans gesteun is, uiteengesit word ... So ’n wysiging sal uiteraard nie ’n ander vorderingsreg naas die oorspronklike kan inbring nie, of ’n vorderingsreg wat in die oorspronklike dagvaarding prematuur of voorbarig was, te red nie, of om ’n nuwe party tot die geding te voeg nie ...”
[26] Indien hierdie toets op die feite toegepas word, blyk dit dat die eiser
deurgaans dieselfde skuld gevorder het. Die
kern van die
oorspronklike besonderhede van vordering was dat die
pasiënt, weens sekere voorafgaande handelinge van werknemers van die tweede
verweerder ’n hartstilstand ervaar het en gevolglik ’n versteuring
van die suurstoftoevoer na die brein ondervind het,
as gevolg waarvan hy
breinskade opgedoen het. Dit is nog steeds die eiser se saak, met ander woorde
die basis van die “skuld”
wat hy probeer vorder. Die appellant se
argument is dat volgens die oorspronklike besonderhede van vordering die
verwytbare handelinge
tweede verweerder ten laste gelê dié van dr
Hattingh en sy assistente tydens en na die operasie was. Na die
wysiging is eiser se saak dat die deliksplegers ook ene dr Penhall en sy
assistente was en dat hulle nalatig was voor die operasie. Hierdie
argument is feitelik onjuis, aangesien die bewerings teen dr Hattingh en die
ander amptenare in diens van die tweede verweerder,
steeds behou word, asook die
bewerings met betrekking tot die finale kousale verloop van die breinbeserings.
Die besonderhede wat
die skuld, dws die vordering, daarstel is weliswaar
gewysig, maar die “skuld” (debt) is nog dieselfde as wat
oorspronklik
aangevoer is (vgl ook die feite en die bevinding van hierdie Hof in
Administrateur, Kaap v Burger, supra, op 423 E - 424
A).
Tweede verweerder se spesiale pleit, wat hierdie aspek betref, kan
slegs opgaan indien mens ’n beperkte betekenis aan die begrip “skuld” gee, deur dit bv te vereng tot die besonderhede van die eiser se feitelike bewerings. Die begrip “skuld” het, in die konteks van die Wet (net soos in die Verjaringswet), ’n wye betekenis. So gesien meen ek dat die eiser steeds dieselfde skuld vorder.
[27] Ook hierdie spesiale pleit was, tereg, van die hand gewys.
[28] Bygevolg word die appèl van die hand
gewys met koste.
_______________
PJJ OLIVIER AR
STEM SAAM:
Grosskopf AR
Harms AR
Schutz
AR
Scott AR