South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2000 >>
[2000] ZASCA 26
| Noteup
| LawCite
ABSA Bank Bpk. v Ons Beleggings BK (488/98) [2000] ZASCA 26; 2000 (4) SA 27 (SCA); [2000] 3 All SA 199 (A) (29 May 2000)
Download original files |
Saak No: 488/98
In die saak
tussen:
ABSA BANK BEPERK
Appellant
en
ONS BELEGGINGS BK
Respondent
Coram: F H Grosskopf, Harms, Scott, ARR, Mpati
en Mthiyane, Wnd ARR
Verhoor: 15 Mei
2000
Gelewer: 29 Mei 2000
Bank se aanspreeklikheid vir
skadevergoeding teenoor kliënt - bewys van skade.
U I T S P R A A K
F H GROSSKOPF AR:
[1] Saambou Nasionale
Bouvereniging Beperk (“Saambou”) het op 29 November 1989 ’n
tjek (“die tjek”) vir
’n bedrag van R420 000,00 ten
gunste van “ONS Beleggings BK” (“die respondent”) of
order op Volkskas
Beperk (“die bank”) getrek. Die tjek was gekruis
en gemerk “nie verhandelbaar nie”.
[2] Dit is
gemene saak dat mnr Ferreira as agent van die respondent die tjek by Saambou in
ontvangs geneem het. Die respondent se
verdere bewering in sy besonderhede van
vordering, nl dat Ferreira veronderstel was om die tjek aan die respondent te
oorhandig of
om dit in die respondent se bankrekening by die Lynnwoodrif-tak van
die bank (“die tak”) te deponeer, was egter deur
die appellant
ontken. Wat werklik gebeur het, is dat Ferreira sy handtekening en die woorde
“vir ONS/SJA” op die rugkant
van die tjek aangebring het en die tjek
toe op 30 November 1989 op die bankrekening van SJA Bemarking by die tak
gedeponeer het.
Dit is die respondent se saak dat daardie optrede van Ferreira
ongemagtig en onregmatig was.
[3] Die respondent het dagvaarding in
die Transvaalse Provinsiale Afdeling teen die bank uitgereik en betaling van die
bedrag van R420 000,00
as skadevergoeding van die bank geëis. Die eis
is gebaseer op ’n verbreking van ’n sogenaamde bankier-kliënt
verhouding tusssen die bank en die respondent, alternatiewelik op delik. Daar
was ’n verdere alternatiewe skuldoorsaak wat
later weggeval
het.
[4] Die hof a quo het die respondent
se eis vir R420 000,00 skadevergoeding op grond van kontrakbreuk
toegestaan, maar bygevoeg dat die respondent
eweneens op grond van delik kon
geslaag het. Die appellant is die regsopvolger van die bank en die
bevel van die hof a quo is teen die appellant verleen. Verlof om na
hierdie hof te appelleer is op aansoek gerig aan die Hoofregter
toegestaan.
[5] Om die een of ander onverklaarbare rede het die
partye by die aanvang van die verhoor ooreengekom dat die plig om te begin by
die appellant as verweerder berus. Die appellant het die getuienis van Ferreira
asook die getuienis van die destydse rekenmeester
en bestuurder van die tak
aangebied. Die respondent het daarna sy saak gesluit sonder om enige getuienis
aan te bied. Mnr Olivier,
wat die enigste lid van die respondent was, was wel
beskikbaar om te getuig. Daar het ’n geruime tyd verloop tussen die
inbetaling
van die tjek op 30 November 1989 en die aanvang van die verhoor op 26
Maart 1998. Ferreira het in die tussentyd ’n ernstige
breinbesering in
’n ongeluk op ’n bouterrein opgedoen wat wesenlike geheueprobleme
vir hom meegebring het. Soos later
sal blyk, was sy getuienis net van
beperkte hulp.
[6] Die partye het die dokumente wat
blootgelê is by die aanvang van die verhoor in bundels ingehandig en
ooreengekom dat afskrifte
van die dokumente sonder verdere bewys by blote
ophandiging daarvan gebruik kan word en sal dien as bewys van wat dit voorgee om
te wees, maar sonder erkenning van die korrektheid van die inhoud daarvan. (Vgl
in die algemeen wat die toelaatbaarheid van die
inhoud van dokumente betref:
Weintraub v Oxford Brick Works (Pty) Ltd 1948(1) SA 1090 (T) op 1093;
Smith and Others v Strydom and Others 1953(2) SA 799 (T) op 805H-806B;
Da Mata v Otto NO 1971(1) SA 763 (T) op 769 D-E; Knouwds v
Administrateur, Kaap 1981(1) SA 544 (K) op 551G-522B; Selero (Pty) Ltd
and Another v Chauvier and Another 1982(2) SA 208 (T) op 215G-216H.)
Ferreira was wel in staat om sy handtekening op sekere van die tjeks en ander
dokumente te identifiseer.
Mev Van Eeden wat destyds rekenmeester van die tak
was, het ook aan die hand van bankdokumente getuig oor die inbetaling van tjeks
op die rekeninge van SJA Bemarking (wat inderdaad op 28 September 1989 as
privaatmaatskappy geïnkorporeer is) en SJA Konstruksie
(Edms) Bpk
(“SJA Konstruksie”). Ferreira het ’n direkte belang by beide
hierdie maatskappye gehad.
[7] Hierdie hof het in Indac
Electronics (Pty) Ltd v Volkskas Bank Ltd 1992(1) SA 783(A) die beginsels
uiteengesit waarvolgens ’n invorderingsbankier aanspreeklik sal wees
teenoor die ware eienaar
van ’n tjek vir die betaling van skadevergoeding
waar die invorderingsbankier die tjek ingevorder het namens ’n kliënt
wat nie daarop geregtig was nie. Die hof het soos volg op 797 A-D
beslis:
“There can now be no reason in principle why a collecting banker should not be held liable under the extended lex Aquilia for negligence to the true owner of a cheque, provided all the elements or requirements of Aquilian liability have been met ... In a situation such as the present a delictual action for damages would accordingly be available to a true owner of a cheque who can establish (i) that the collecting banker received payment of the cheque on behalf of someone who was not entitled thereto; (ii) that in receiving such payment the collecting banker acted (a) negligently and (b) unlawfully; (iii) that the conduct of the collecting banker caused the true owner to sustain loss; and (iv) that the damages claimed represent proper compensation for such loss.”
[8] Die
vereiste van wederregtelikheid wat in die Indac Electronics saak ter
sprake was, is nie in die onderhawige saak in geskil nie. Wat volgens die
appellant se betoog wel in geskil is, is of die
respondent in sy eis gebaseer op
delik bewys het: (a) dat die bank nalatig was, (b) dat die respondent die ware
eienaar van die
tjek was, en (c) dat die respondent skade as gevolg van die
bank se optrede gely het. Wat betref die respondent se eis gebaseer
op
kontrakbreuk is die betoog namens die appellant dat die respondent eweneens nie
bewys het dat hy die eienaar van die tjek was
en dat hy skade as gevolg van die
bank se beweerde kontrakbreuk gely het nie. Indien die respondent benewens die
ander aspekte nie
eienaarskap van die tjek en skade kan bewys nie, moet hy faal
op sowel delik as kontrakbreuk.
[9] Die eerste vraag is of die
bank as invorderingsbankier nalatig was om die rekening van SJA Bemarking met
die bedrag van die tjek
te krediteer. Na my mening was die bank wel nalatig
omdat SJA Bemarking klaarblyklik nie die houer van die tjek geword het nie.
Die
feit dat die woorde “nie verhandelbaar nie” deel van die kruising op
die tjek uitgemaak het, het egter niks met
die saak te make nie. Dit het nie
enige verdere oordrag van die tjek verhoed nie. (Standard Bank of SA Ltd v
Sham Magazine Centre 1977(1) SA 484 (A) op 504 F-G; art 80 van die Wisselwet
34 van 1964 (“die Wet”).) Die woorde “nie verhandelbaar
nie” speel dus geen rol in die bepaling van die appellant se moontlike
nalatigheid nie.
[10] Tydens die verhoor in die hof a
quo is die respondent se saak gevoer op die basis dat Ferreira geen
tekenmagte op die tjekrekening van die respondent gehad het nie,
hetsy as
trekker hetsy as endossant, en dat sy vermeende endossement dus geen oordrag van
die tjek kon bewerkstellig nie. Mnr Francis
wat destyds die bestuurder van die
tak was, het tydens kruisondervraging toegegee dat waar die tjek vir so ’n
groot bedrag
was, en waar die respondent as nemer van die tjek ook ’n
kliënt van die tak was, die endossant se magtiging normaalweg
nagegaan
moes word. Dit is nie gedoen nie. Myns insiens is dit egter nie nodig om te
beslis of hierdie versuim aan die kant van
die bank nalatig was nie aangesien
die bank klaarblyklik in ’n ander opsig nalatig was, nl deur die
handtekening en woorde
agterop die tjek as die nemer se endossement te beskou en
deur die tjek op sterkte daarvan vir krediet van SJA Bemarking se rekening
in te
vorder.
[11] Die tjek was ’n order tjek en die nemer se
endossement was dus nodig vir enige oordrag van die tjek. Ferreira het
voorgegee
om die tjek te endosseer, maar dit is gedoen namens ’n onbekende
entiteit genaamd “ONS/SJA”. Die woorde “ONS/SJA”
kan
beslis nie na die respondent as nemer van die tjek verwys nie. Dus selfs al het
die bank as invorderingsbankier aanvaar dat
Ferreira behoorlik gemagtig was om
die tjek namens die respondent as nemer te endosseer - wat klaarblyklik die
geval was - kon Ferreira
se “endossement” onder geen omstandighede
as ’n behoorlike endossement namens die respondent aanvaar gewees het
nie. Dit was dus ex facie die tjek self duidelik dat SJA Bemarking nie
die reghebbende van die tjek uit hoofde van die sg endossement geword het nie.
Die bank
was gevolglik nalatig om die tjek onder daardie omstandighede vir die
krediet van SJA Bemarking in te vorder. Die feit dat die bank
voorheen ook
ander tjeks ten gunste van die respondent en met dergelike
“endossemente” tot krediet van SJA Bemarking
of SJA Konstruksie
ingevorder het, maak die bank se optrede in die onderhawige geval nie minder
nalatig nie. Na my mening het die
respondent dus wel bewys dat die bank nalatig
was.
[12] Die appellant het verder betoog dat dit nie bewys is
dat die respondent die sg ware eienaar (“true owner”) van die tjek
was nie. Hierdie hof het in First National Bank of SA Ltd v Quality Tyres
(1970) (Pty) Ltd 1995(3) SA 556(A) op 568A-B beslis dat die woord
“true” nie die gewone betekenis van “owner” kwalifiseer
nie. Die hof vervolg op 568F:
“[T]his Court [in die Indac Electronics saak supra] did not, in my opinion, intend the expression ‘true owner’ to bear any specialised or technical meaning; in particular, ‘true’ does not qualify the ordinary legal sense of ‘owner’. As a matter of terminology, it seems to me that the word ‘true’ is strictly unnecessary in the present context and might as well be dispensed with.”
[13] Na my
oordeel blyk dit uit die feite wat nie in geskil is nie dat Saambou die tjek ten
gunste van die respondent getrek het en
die tjek daarna aan die respondent se
agent Ferreira gelewer het. Daar was dus ’n behoorlike uitgifte van die
tjek aan die
respondent as nemer daarvan. (Sien die definisie van
“lewering” en “uitgifte” in art 1 van die
Wet.)
[14] Hierdie hof het in die Quality Tyres saak
supra op 568G-I uiteengesit wat ’n eiser, wat beweer dat hy eienaar
van ’n tjek is, moet bewys.
“The ownership of a cheque, viewed as a piece of corporeal movable property, can be transferred only in accordance with the general requirements of the law regarding the transfer of ownership of corporeal movables. There must be a delivery of the thing, i e transfer of possession, either actual or constructive, by the transferor to the transferee, and there must be a real agreement (in the sense of ‘saaklike ooreenkoms’) between the transferor and the transferee, constituted by the intention of the former to transfer ownership and the intention of the latter to receive it (see, for example, Air-Kel (Edms) Bpk h/a Merkel Motors v Bodenstein en ’n Ander 1980 (3) SA 917 (A) at 922E-H). Either party can, of course, act through someone duly authorised to act on his behalf. This is what the plaintiff was required to establish in evidence to substantiate its claim to the ownership of the cheque.”
[15] Dit is
nie in geskil nie dat daar ’n dokument bestaan, gedateer 14 November 1989,
wat voorgee om ’n bouleningsvorderingsversoek
ten opsigte van ’n
sekere projek te wees, gerig aan Saambou met die versoek dat ’n
vorderingsbetaling aan die respondent
gemaak word. Die dokument gee verder voor
dat ’n vorderingsbetaling van R420 000,00 daarna goedgekeur is. Die
enigste
redelike afleiding is dat die tjek (gedateer 29 November 1989 vir
’n bedrag van R420 000,00) as ’n vorderingsbetaling
ten gunste
van die respondent getrek en gelewer is. Daar is geen getuienis wat op die
teendeel dui nie. Die gevolgtrekking is dus
dat die lewering van die tjek
gepaard gegaan het met die nodige saaklike ooreenkoms en dat die respondent
eienaar van die tjek geword
het. Dit is egter nie nodig om tot ’n finale
beslissing in hierdie verband te kom nie aangesien ek in ieder geval van mening
is dat die respondent nie sy skade bewys het nie.
[16] Die hof
a quo het bevind dat die respondent wel bewys het dat hy skade
gely het in ’n bedrag gelykstaande aan die sigwaarde van die tjek. Die
sigwaarde van ’n tjek
kan ’n aanduiding wees van die omvang van die
eienaar se skade as die tjek bv gesteel is. (Vgl Holscher v Absa Bank en
’n Ander 1994(2) SA 667(T) op 675G.) In die onderhawige saak is daar
egter geen bewys dat Ferreira die tjek gesteel het nie. Die verste wat
die
respondent gaan, is om in sy besonderhede van vordering te beweer dat Ferreira
ongemagtig en onregmatig opgetree het deur die
tjek te “endosseer”
en tot krediet van SJA Bemarking te laat invorder. Wat die bank en in die
besonder die tak betref,
was Ferreira weliswaar nie gemagtig om tjeks namens die
respondent te trek en te endosseer nie. Dit blyk uit die magtiging wat
die
respondent volgens ’n bankdokument gedateer 6 November 1986 aan die tak
gegee het. Daarvolgens was slegs Olivier gemagtig
om tjeks namens die
respondent te trek en te endosseer.
[17] Ferreira het getuig,
maar soos reeds gemeld het sy geheue hom in baie opsigte in die steek gelaat.
Dit mag wees dat hy nie in
staat sou gewees het om te antwoord op die
beskuldiging dat hy ongemagtig en onregmatig opgetree het nie, maar dit is
betekenisvol
dat dit nooit tydens kruisondervraging aan hom gestel is dat hy
aldus opgetree het nie. Daar is trouens aanduidings dat die respondent
gelate
aanvaar het dat Ferreira tjeks namens die respondent endosseer en dan op die
rekening van SJA Bemarking of SJA Konstruksie
inbetaal. As daar nie die een of
ander onderlinge reëling was waarvolgens Ferreira toegelaat was om so op te
tree nie, was hy
besig om openlik groot bedrae geld van die respondent sonder
magtiging vir sy eie doeleindes aan te wend. En indien Ferreira inderdaad
in
stryd met die respondent se magtiging gehandel het, is dit onverklaarbaar
waarom die respondent maande lank niks daaromtrent
gedoen het nie, maar gewag
het totdat die SJA-groep maatskappye gelikwideer is en toe die bank gedagvaar
het.
[18] Francis het getuig dat ’n prokureur op
’n stadium met hom in verbinding getree het oor die onderhawige tjek wat
volgens
die prokureur verkeerd aangewend was. Francis het die prokureur
geadviseer om ’n beëdigde verklaring te dien effekte
van die
respondent te bekom en dan aan hom te besorg, maar volgens Francis het hy nooit
weer van die prokureur gehoor nie. Op ’n
latere stadium het Olivier vir
Francis oor ’n ander aangeleentheid op kantoor gespreek. Toe Francis hom
vra of hy voortgaan
met die saak van die tjek wat na bewering verkeerd aangewend
was, het Olivier vir hom gesê dat hy nie daaroor bekommerd moet
wees nie
aangesien “hulle” dit self sal “uitsorteer”. Tot watter
mate hulle dit self “uitsorteer”
het, weet ons nie, maar dit laat
die vraag of die respondent op die ou einde enige skade gely het wyd
oop.
[19] Op die respondent se weergawe (soos gepleit maar
nooit bewys nie) moes Ferreira die tjek, wat as ’n vorderingsbetaling in
die
gemelde dokument beskryf is, op die respondent se rekening by die tak
gedeponeer het. So ’n vorderingsbetaling sou uit die
aard van die saak
weer spoedig deur die respondent uitbetaal moes word. Die respondent sou dan
sekerlik agtergekom het dat die
tjek nie in sy rekening gedeponeer was nie.
’n Mens sou verwag dat die respondent op sy weergawe dan dadelik sou
opgetree
het teen die skuldiges, maar niks het gebeur nie. Die vraag
ontstaan dus of dit werklik vir die respondent enige verskil gemaak
het of die
tjek op sy rekening dan wel op SJA Bemarking se rekening gedeponeer
was.
[20] Dit blyk uit die getuienis van mev Van Eeden dat die
grootste gedeelte van hierdie R420 000,00 op dieselfde dag wat dit
in SJA
Bemarking se rekening gedeponeer is, verder aan SJA Konstruksie oorbetaal is.
Hierdie oorbetaling is geensins deur die respondent
betwis nie. Selfs indien
hierdie betrokke inbetaling en verdere oorbetaling ongemagtig was, volg dit nie
noodwendig dat die respondent
die volle bedrag skade gely het nie, want
“hulle” sou dit nog self “uitsorteer”.
[21]
Ferreira het getuig dat hy nog kan onthou dat hy en sy vennote, mnr Malan
en mnr Smit, die konstruksie en bemarking van wooneenhede
deur middel van die
maatskappye in hulle groep, SJA Bemarking en SJA Konstruksie, behartig het en
dat hulle groep saam met die Deelgroei-
groep in hierdie verband gewerk het.
Volgens Ferreira se getuienis was Olivier deel van die Deelgroei-groep. Dat
daar so ’n
samewerking was, word nie deur die respondent betwis nie. Wat
wel betwis word, is dat daar ’n vennootskap tussen die twee
groepe gevorm
is. So ’n samewerking blyk trouens ook uit ’n dokument gedateer 12
Maart 1987 wat deur Ferreira onderteken
is. Die dokument gee voor om ’n
borgakte ten gunste van Saambou te wees waar Ferreira as borg vir die respondent
geteken het.
Ferreira het getuig dat hy kan onthou dat hy vir baie lenings by
Saambou borg gestaan het. Die korrektheid van die inhoud van die
borgakte mag
in geskil wees, maar die blote feit dat Ferreira bereid was om so ’n
dokument te teken, is veelseggend.
[22] Ferreira het ook sy
handtekening geïdentifiseer op die rugkant van ander tjeks wat ten gunste
van die respondent getrek was.
Die blote bestaan van sulke tjeks met Ferreira
se handtekening agterop kan nie ontken word nie. Die verloop van een van
hierdie
tjeks is soos volg deur mev Van Eeden tydens getuienis verduidelik en
nie deur die respondent betwis nie. Dit gee voor om ’n
tjek te wees,
gedateer 1 November 1989 vir R200 000,00 getrek deur Saambou op die bank
ten gunste van die respondent of order.
Ferreira het sy handtekening agterop
die tjek geïdentifiseer. By sy handtekening verskyn die woorde “vir
ONS Beleggings
en SJA Konstruksie” in sy handskrif. Volgens die getuienis
van mev Van Eeden is hierdie tjek op 1 November 1989 op die rekening
van SJA
Konstruksie by die Arcadia-tak van die bank inbetaal by wyse van ’n
depositostrokie geteken deur Ferreira. Ferreira
self kon nie verdere lig op
hierdie transaksie werp nie. Tensy dit nog ’n ongemagtigde betaling deur
hom was, is dit ’n
verdere aanduiding dat Ferreira en die respondent
’n onderlinge reëling in dié verband gehad het en dat
Ferreira,
sover dit die respondent betref, nie ongemagtig en onregmatig opgetree
het toe hy die onderhawige tjek op SJA Bemarking se rekening
gedeponeer het nie.
Soos gemeld, is die bewering dat Ferreira ongemagtig opgetree het nooit bewys
nie.
[23] Na my mening bestaan daar minstens ernstige twyfel
oor die vraag of Ferreira, wat die respondent betref, ongemagtig en onregmatig
opgetree het. Daar was geen getuienis deur die respondent aangebied om daardie
twyfel uit die weg te ruim nie. As Ferreira met
die respondent se toestemming,
hetsy uitdruklik of stilswyend, die tjek in die bankrekening van SJA Bemarking
gedeponeer het vir
verdere oorbetaling aan SJA Konstruksie, is dit waarskynlik
die weg wat die geld moes gevolg het. Dan ontstaan die vraag of die
respondent
enige skade gely het, en indien wel in watter bedrag. In daardie geval ontstaan
die verdere vraag of die nalatige optrede
van die bank oorsaaklik verbind kan
word met enige skade wat die respondent moontlik gely het.
[24]
Maar selfs indien dit aanvaar sou word dat Ferreira die tjek sonder enige
magtiging van die respondent op SJA Bemarking se rekening
inbetaal het en die
geld daarna oorbetaal het aan SJA Konstruksie wat in geldnood verkeer het, dan
volg dit nog nie dat die respondent
noodwendig die sigwaarde van die tjek skade
gely het nie. Volgens Olivier sou hulle die sg foutiewe aanwending van die tjek
self
“uitsorteer”. Of dit gedoen is voordat SJA Bemarking en SJA
Konstruksie gelikwideer is, weet ons nie, en of die respondent
na likwidasie
enige betaling van die likwidateur van SJA Bemarking of SJA Konstruksie ontvang
het, weet ons ook nie. Die respondent
beweer wel in sy besonderhede van
vordering dat daar geen dividend aan skuldeisers in die insolvente boedel van
“SJA”
betaalbaar was nie, maar daar is geen getuienis om hierdie
bewering te staaf nie. Dit volg myns insiens dat die respondent nie sy
skade
bewys het nie en dat hy nie in sy eis op grond van óf delik óf
kontrakbreuk teen die appellant kan slaag nie.
[25] Die
appèl word gevolglik toegestaan met koste. Die bevel van die hof a
quo word tersyde gestel en met die volgende vervang:
“Absolusie
van die instansie met koste word toegestaan.”
-----------------------
F H GROSSKOPF
Appèlregter
Harms AR)
Scott AR)
Mpati Wnd
AR)
Mthiyane Wnd AR) stem saam