South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2000 >>
[2000] ZASCA 65
| Noteup
| LawCite
Nedcor Bank Bpk. v Regering van die Republiek van Suid-Afrika (585/98) [2000] ZASCA 65; 2001 (1) SA 987 (SCA) ; [2001] 1 All SA 107 (A) (24 November 2000)
Download original files |
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer : 585/98
In die saak tussen :
NEDCOR BANK BEPERK
Appellant
en
REGERING VAN DIE REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA Respondent
CORAM : Van Heerden Wnd HR, Nienaber, Schutz
ARR, Brand,
Wunsh Wnd ARR
DATUM : 3 November 2000
GELEWER : 24 November 2000
Bevrydende verjaring -
begin van loop van - kennis van die feite waaruit die skuld ontstaan het -
delektuele aksie teen invorderingsbankier
- betaling strydig met die trekker se
opdrag - of eiser kennis moet dra aan wie betaling gemaak is alvorens
verjaring kan begin
loop
W P SCHUTZ
________________________________________________________________
UITSPRAAK
________________________________________________________________
SCHUTZ AR :
[1] Die kernvraag is of die respondent, die eiser
in die hof benede, vir doeleindes van a 12(3) van die Verjaringswet 18 van 1943
(“die Wet”), van sowel die identiteit van sy skuldenaar as die feite
waaruit sy eis ontstaan het, kennis gedra het meer
as drie jaar voordat hy sy
dagvaarding aan die appellant (die verweerder in die hof benede) beteken
het.
[2] Die eiser is die Regering van die Republiek van Suid-Afrika. Hy hou
die verweerder, Nedcor Bank Beperk, deliktueel aanspreeklik
vir skade wat hy na
bewering as ware eienaar van ‘n skatkisorder sou gely het. Die skade het
ontstaan as gevolg van beweerde
nalatigheid aan die kant van die verweerder wat
as invorderingsbankier ten opsigte van die skatkisorder opgetree het. Die
skatkisorder
ten bedrae van R150 595-87 was deur die eiser ten gunste van
“Total of order” getrek. Dit is algemeen gekruis en gemerk
“nie verhandelbaar nie”. Op geen stadium is enige endossement
daarop aangebring nie. Op een of ander wyse wat nie uit
die oorkonde blyk nie,
is dit op 26 Februarie 1994 deur die verweerder gewissel en, strydig met die
eiser se opdrag, teen die rekening
van “mev. F L Mahlangu h/a Duduza
Service Station” gekrediteer. Die opbrengs van die skatkisorder het die
aangewese
nemer, Total, nooit bereik nie sodat die skuld waarvoor dit bestem
was, nie vereffen is nie en die eiser daarvoor aanspreeklik gebly
het. Eers
meer as drie jaar later is die dagvaarding beteken.
[3] Die verweerder het
‘n spesiale pleit van verjaring geopper wat deur Preiss R in die
Transvaalse Provinsiale Afdeling met
koste van die hand gewys is. Verlof om na
hierdie hof te appelleer is deur die verhoorhof verleen.
[4] Ingevolge a
12(1) van die Wet begin verjaring loop sodra die skuld waarom dit gaan,
opeisbaar word. Die tersaaklike datum in
hierdie geval was 26 Februarie 1994
toe die delik na bewering gepleeg is. Volgens a 12(3) word ‘n skuld egter
nie geag opeisbaar
te wees indien die skuldeiser nie van die identiteit van die
skuldenaar en van die feite waaruit die skuld ontstaan het, kennis gedra
het
nie. Die sub-artikel bevat wel die voorbehoud dat ‘n skuldeiser geag word
die nodige kennis te gehad het indien hy dit
deur die uitoefening van redelike
sorg kon bekom het. (Tussen die advokate was daar onderling ‘n verskil
van mening of dit
die verweerder geoorloof was om hom in hierdie hof op
dié voorbehoud te beroep waar hy dit in die hof benede nie gedoen het
nie
en hom trouens in sy betoogpunte voor hierdie hof uitdruklik daarvan
gedistansieer het. Soos ek die saak insien, is dit nie
vir die verweerder nodig
om hom op die voorbehoud te beroep nie.)
[5] Die bewyslas om verjaring te
bewys, berus by die verweerder. Hy grond sy verweer op ‘n brief wat die
eiser self aan hom
gerig het, gedateer 22 April 1994, wat meer as drie jaar was
voor betekening van die dagvaarding plaasgevind het. Wat hierdie brief
aantoon,
so voer die verweerder aan, is dat die eiser reeds op daardie stadium oor al die
inligting beskik het waarvan daar in die
artikel gewag gemaak word. Die eiser
ontken dit. Volgens hom het hy eers op 8 Junie 1994 (dit wil sê minder as
drie jaar
voor die betekening van dagvaarding) en wel by ontvangs van ‘n
verdere brief van die verweerder aan hom, gedateer 26 Mei 1994,
van die
identiteit van die verweerder as ‘n potensiële skuldenaar en van die
feite waarop ‘n eis teen die verweerder
aanhangig gemaak sou kon word,
bewus geword.
[6] Die inhoud van die brief van 22 April 1994 is aldus van
deurslaggewende belang. Daarin verwys die eiser na die skatkisorder wat
aan hom
terugbesorg is en versoek hy terugbetaling deur die verweerder van die bedrag
van R150 595-87, met vermelding dat die bank
se stempel op die skatkisorder
voorkom. Voorts wys hy op die kruising met die woorde “nie verhandelbaar
nie” en sluit
hy ‘n beëdigde verklaring van die nemer in dat
betaling die nemer nooit bereik het nie. Die eis om terugbetaling wat
in die
brief vermeld is, was nie op delik gegrond nie maar op a 81(1) van die Wisselwet
34 van 1964. (Die brief gee verkeerdelik
voor dat die beëdigde verklaring
dit ook sou bevestig het dat ‘n endossement op die skatkisorder nie Total
s’n was
nie - maar dit was gemeensaak dat daar inderdaad geen endossement
op die skatkisorder voorgekom het nie). Die brief vermeld voorts
dat die eiser
daarvan onbewus was of enigiemand se rekening met die bedrag van die
skatkisorder gekrediteer was en eindig met ‘n
versoek aan die verweerder
dat alle besonderhede aangaande die transaksie, vir sover dit nie strook met wat
in die brief uiteengesit
is nie, deur die verweerder aan die eiser verskaf word.
Dat die eiser steeds die hoop gekoester het dat die bedrag verhaal sou kon
word
van wie se rekening ookal daarmee gekrediteer was, blyk daaruit dat die
verweerder gemagtig word om ‘n afskrif van die
skatkisorder aan enige
sodanige persoon of party te toon. Die enigste werklike nuwe inligting wat die
verweerder se brief van 26
Mei 1994 aan die eiser openbaar het, was die naam van
die rekening wat wel met die bedrag gekrediteer is, te wete, “Mevr Fikile
Leah Mahlangu handeldrywend as Duduza Service Station”, asook haar
adres.
[7] Die spesiale pleit is, soos reeds gesê, deur die verhoorhof
van die hand gewys. Volgens die verhoorhof was daar, in die
afwesigheid van
‘n endossement, minstens twee verdere feite waarvan die eiser bewus moes
gewees het alvorens daar gesê
kon word dat hy kennis gedra het “van
die feite waaruit die skuld ontstaan het” (die presiese bewoording van a
12(3)).
Dié feite was of die opbrengs van die skatkisorder teen ‘n
bepaalde rekening gekrediteer is, dan wel of dit oor die
toonbank uitbetaal is;
en in eersgenoemde geval, wat die naam van die houer van die rekening was. Met
verwysing na ‘n aanhaling
uit die uitspraak van Olivier AR in Drennan
Maud and Partners v Pennington Town Board [1998] ZASCA 29; 1998 (3) SA 200 (SCA) te 208H-I,
het die geleerde regter vervolg:
“Hierdie uitspraak is deur die meerderheid van die bank goedgekeur. Na my mening beteken dit dat alhoewel wat nodig is, [kennis is van] die basiese feite is dit duidelik dat al die nodige feite waarvan die skuldoorsaak ontstaan tot die kennis van die eiser moes kom.
Ek is van oordeel dat die blote feit dat daar uitbetaling was op ‘n skatkisorder sonder ‘n endossement nie noodwendig die nodige nalatigheid aan die kant van die bank bewys het nie en dat dit eers tot die kennis van die eiser gekom het toe die brief [van 26 Mei 1994] hom bereik het op 8 Junie 1994.” (My beklemtoning.)
[8] Wat na
aanleiding van hierdie aanhaling egter in gedagte gehou moet word, is dat
Olivier AR nêrens bevind het dat die siening
van Thirion R (die regter van
die eerste instansie in die Drennan Maud-saak), naamlik dat die
statutêre feite waaruit die eis ontstaan, gelyk gestel moet word aan al
die feite waaruit sy eisoorsaak
ontstaan het nie korrek was. Vir doeleindes
van sy uitspraak het Olivier AR bloot argumentsonthalwe ten gunste van die
eiser in
daardie saak as ‘n veronderstelling aanvaar dat die stelling
korrek sou wees, waarna hy, op die grondslag van sodanige aanvaarding,
die saak
op die feite beslis het. In dié opsig was sy beoordeling van die feite
anders as dié van Thirion R. Harms
AR (met wie Scott AR saamgestem het)
was insgelyks van oordeel dat die appèl moes slaag, maar hoofsaaklik op
die grondslag
dat Thirion R se gelykstelling (van die feite waaruit die eis
ontstaan met die feite wat die eisoorsaak daarstel) nie geregverdig
was nie.
Sub-artikel 12(3) verwys volgens Harms AR nie na “eisoorsaak” nie,
maar na “skuld” wat na regte
bloot op die eiser se
“eis” dui, ‘n enger begrip as “eisoorsaak”. Ek
stem met Harms AR se beredenering
saam. Vergelyk ook Van Staden v Fourie
[1998] ZASCA 29; 1998 (3) SA 200 (A) te 216E.
[9] Wat die Wet nastreef, is ‘n gulde
middeweg tussen die onbillikheid, aan die een kant, dat ‘n potensiële
skuldenaar
‘n ewigheid na die plaasvind van die gewraakte gebeure skielik
met hofverrigtinge bedreig word en die onbillikheid, aan die
ander kant, dat
‘n potensiële skuldeiser sy aanspraak op regshulp bloot vanweë
tydsverloop verbeur waar hy, sonder
enige verwyt aan sy kant, nie oor die nodige
inligting beskik om sodanige hofverrigtinge inmiddels van stapel te stuur
nie.
[10] Hou mens dit alles in gedagte, bestaan daar geen dwingende rede
waarom ‘n skuldeiser volkome oor alle aspekte van sy beoogde
litigasie
ingelig moet wees alvorens verjaring teen hom kan begin loop nie. Die
skuldenaar se belange moet immers ook in ag geneem
word.
[11] Die
bewoording van die sub-artikel dui ook nie op ‘n ander vertolking nie.
Die eiser se betoog kom daarop neer dat verjaring
eers teen iemand begin loop
wanneer hy oor soveel getuienis beskik dat hy met gerustheid sy saak finaal kan
bewys. So ‘n onredelike
las word na my oordeel nie deur die reg op
‘n potensiële verweerder geplaas nie.
[12] Waarvan die eiser wel
kennis gedra het, was dat die skatkisorder vir invordering by een van die
verweerder se takke aangebied
is en dat dit inderdaad uitbetaal is (‘n
feit waarvan hy deur middel van sy eie department bewus sou geword het). Wat
die
eiser daarenteen nie geweet het nie, is hoe en aan wie sodanige betaling
geskied het, ofskoon hy terdeë daarvan bewus was dat
dit nie teenoor die
aangewese nemer, Total, of sy order ingevolge ‘n endossement, geskied het
nie - aangesien geen sodanige
endossement ooit op die skatkisorder aangebring
is nie. Indien uitbetaling oor die toonbank gemaak was, sou dit in stryd gewees
het met die opdrag wat in die algemene kruising vervat was. Van selfs groter
belang is die feit dat die skatkisorder betaalbaar
gemaak was aan “Total
of order” sodat die verweerder as ‘n invorderingsbankier nie
geregtig was om, by ontstentenis
van ‘n andersluidende endossement,
vereffening aan enigiemand anders as Total te laat geskied het nie. Aangesien
Total nie
betaling ontvang het nie, beteken dit dat die eiser se opdrag
óf verontagsaam óf oor die hoof gesien is. Prima facie dui
dit op nalatigheid : Volkskas Bank Bpk v Bonitas Medical Aid Fund [1993] ZASCA 68; 1993
(3) SA 779 (A) te 791A-J, Holscher v Absa Bank en ‘n Ander 1994 (2)
SA 667 (T) te 672E.
[13] Reeds ten tyde van die opstel van die brief van 22
April 1994 was die eiser op hoogte van die basiese feite waarop hy ‘n
eis
teen die verweerder kon inklee (Van Staden v Fourie, supra, te
216B-F) - weliswaar ‘n eis wat op die oog af karig was, maar nietemin
‘n geldige eis. Menige eiser wat uiteindelik
suksesvol was, het sy saak
in die verlede bloots aangepak mits dit origens op eie pote kon staan. Later
mag hy besmoontlik beter
ingelig word, by wyse van blootlegging van dokumente,
of sy eie ondersoek, of onderhoude met potensiële getuies of selfs aan
die
hand van die getuienis wat deur sy teenparty aangebied word. Altemit sou hy
daarna uitvind dat daar inderdaad ‘n goeie
verweer bestaan waarvan hy net
nie geweet het nie of dat hy om die een of ander tot dusver onbekende rede glad
nie ‘n eis
het nie. Dit sou egter geheel en al verkeerd wees om in die
artikel in te lees dat hy van al sodanige omstandighede bewus moes wees
alvorens
verjaring teen hom kon begin loop. Litigasie is uiteraard vol risiko’s,
maar opsigself is dit geen rede waarom die
reg hom oor ‘n eiser moet
ontferm indien hy origens oor die basiese feite beskik om die proses binne die
aangewese verjaringstermyn
aan die gang te sit nie. Om daardie rede kan ek nie
akkoord gaan met die strekking van die woorde van die verhoorhof wat ek
vroeër
beklemtoon het, naamlik dat die feite wat op 22 April 1994 aan die
eiser bekend was “nie noodwendig die ... nalatigheid ...
bewys nie
...” Wat beoordeel moet word, is nie of die eiser oor voldoende feite
beskik het om sy saak teen die einde daarvan
te bewys nie, maar of hy oor die
minimum feite beskik het om daarmee te begin.
[14] Daar is betoog, strydig
met wat pas gesê is, dat die geld, vir al wat die eiser geweet het,
goedskiks gedurende April 1994
in ‘n rekening soos “Total
Sports” of aan enige “Total” anders as die bestemde Total,
gestort kon gewees
het, in omstandighede waar daar van nalatigheid aan die
verweerder se kant geen sprake sou gewees het nie. So ‘n moontlikheid
kon
denkbaar bestaan het. En as dit werklik die geval was, sou enige aksie wat die
eiser teen die verweerder ingestel het, tot
mislukking gedoem gewees het. So
iets was egter allermins waarskynlik. ‘n Blote spekulatiewe moontlikheid
van dié aard
was geen rede waarom die eiser nie sy aksie, op grond van
die feite wat reeds in Februarie 1994 aan hom bekend was, betyds aanhangig
kon
maak nie.
[15] Voorts is aan die hand gedoen dat die eiser, alvorens hy nie
geweet het aan wie die opbrengs van die skatkisorder uitbetaal is,
nie behoorlik
in staat was om nie-eksipieerbare besonderhede van vordering voor te berei nie,
te meer daar hofreël 18(4) van
‘n pleitbesorger verg om “die
wesenlike feite waarop die eis ... berus” uiteen te sit. Ek kan nie
insien waarom
‘n volkome aanvaarbare eisoorsaak nie geformuleer kon word
op die grondslag dat die verweerder die opbrengs van die skatkisorder,
strydig
met die eiser se opdrag, aan iemand uitbetaal het wat nie daarop geregtig was,
maar wie se identiteit voorasnog aan die eiser
onbekend was nie.
[16] In die
omstandighede is ek daarvan oortuig dat die eiser teen April 1994 kennis gedra
het van die wesenlike feite waaruit sy
eis teen die verweerder ontstaan het.
Wat die ander vereiste betref wat deur a 12(3) van die Wet gestel word, te wete,
die identiteit
van die skuldenaar, staan dit vas dat die eiser geweet het dat
dit net die huidige verweerder kon wees.
[17] Die appèl word met koste
gehandhaaf, wat die koste van twee advokate insluit. Die bevel van die hof a
quo word gewysig om te lui:
“1. Die verweerder se spesiale pleit word gehandhaaf.
Die eiser se eis word met koste van die hand gewys.”
.......................
W P SCHUTZ
APPèLREGTER
STEM SAAM:
VAN HEERDEN Wnd HR
NIENABER
AR
SCHUTZ AR
BRAND Wnd AR
WUNSH Wnd AR