South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2000 >>
[2000] ZASCA 78
| Noteup
| LawCite
Kaap Suiwelkooperasie Bpk. v Louw (89/99) [2000] ZASCA 78; 2001 (2) SA 80 (SCA); (29 November 2000)
Download original files |
RAPPORTEERBAAR
Saaknommer: 89/99
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL VAN
SUID-AFRIKA
KAAP SUIWELKOöPERASIE BEPERK
APPELLANT
en
H W LOUW
RESPONDENT
CORAM: SMALBERGER, VIVIER, PLEWMAN ARR, FARLAM en CHETTY Wnd
ARR
VERHOORDATUM: 22 NOVEMBER 2000
LEWERINGSDATUM: 29 NOVEMBER 2000
Koöperasie -
bedanking as lid - ooreenkoms om inwerkingtrede te
vervroeg.
__________________________________________________________________
UITSPRAAK
__________________________________________________________________
SMALBERGER AR
SMALBERGER AR:
[1] Die appellant is ‘n
koöperatiewe vereeniging behoorlik as sodanig geïnkorporeer ingevolge
die bepalings van die Koöperasiewet
91 van 1981 (“die Wet”).
Die respondent, ‘n melkboer, was op 1 November 1993 ‘n lid van
die appellant. Hierdie appèl wentel om die korrekte
vertolking van
‘n brief gedateer 4 Desember 1991 wat namens die respondent aan die
appellant geskryf is met betrekking tot
die beëindiging van die respondent
se lidmaatskap van die appellant (“die bedankingsbrief”) en latere
briefwisseling
tussen die partye.
[2] Die respondent (as applikant)
het in die Provinsiale Afdeling Kaap die Goeie Hoop aansoek gedoen om ‘n
verklarende bevel dat
hy vanaf 20 April 1987 tot en met 28 Februarie 1993
ononderbroke ‘n lid van die appellant (en sy voorganger) was, tesame met
aanvullende regshulp. In die hof a quo het Mitchell Wnd R die respondent
gelyk gegee en die aangevraagde regshulp toegestaan. Verlof is deur hom aan die
appellant verleen
om na hierdie Hof te appelleer.
[3] Artikel 33(1)
van die appellant se statuut wat op 24 April 1989 geregistreer is (“die
statuut”), bepaal onder andere,
“‘n Lid wat bedank het, se bedanking tree slegs aan die einde van ‘n boekjaar in werking en dan slegs indien hy minstens drie maande voor die einde van die boekjaar aan die koöperasie kennis gegee het van sy bedanking.”
[4] Dit is gemene saak dat die
bedanking van ‘n lid van die appellant op een van twee wyses kan
geskied:
By wyse van ‘n eensydige besluit deur die lid uit hoofde van die bepalings van art 33(1);
By ooreenkoms tussen die lid en die appellant buite die bepalings van die statuut - sien Cape Dairy Co-operative Ltd v Ferreira 1997(2) SA 180 (A) op 186 A - B.
[5] Soos blyk uit
art 33(1) tree ‘n eensydige bedanking aan die einde van ‘n boekjaar
in werking. Luidens art 89 van die
statuut eindig die appellant se boekjaar op
die laaste dag van Februarie in elke jaar. Artikel 33(1) vereis dat kennis van
‘n
lid se bedanking gegee moet word minstens drie maande voor die einde
van die boekjaar. Dit beteken, en die partye is dit eens wat
dit betref, dat
indien ‘n lid voor 1 Desember van ‘n betrokke boekjaar eensydige
kennis van sy bedanking gee, sy bedanking
aan die einde van daardie boekjaar (d
w s einde Februarie) in werking tree. Indien ‘n lid tussen 1 Desember en
die laaste
dag van die boekjaar sodanige kennis gee, tree sy bedanking eers aan
die einde van die daaropvolgende boekjaar (d w s meer
as ‘n jaar
later) in werking (tensy anders ooreengekom).
[6] Waar ‘n
bedanking by wyse van ooreenkoms buite die bepalings van die statuut geskied,
tree die bedanking in werking, by ontstentenis
van ‘n ooreengekome datum,
op die tydstip waarop die appellant die lid meedeel dat sy aanbod om te bedank
aanvaar is.
[7] Die hof a quo het bevind dat die
bedankingsbrief nie op enige ander wyse vertolk kon word nie as ‘n
eensydige besluit om te bedank wat deur
middel van die brief aan die appellant
oorgedra is. Ofskoon aanvaar is dat die appellant se raad die bedankingsbrief
as ‘n
aansoek om te bedank buite om die statuut behandel het, is bevind
dat die verkeerde vertolking wat die raad op die brief geplaas
het nie afbreuk
aan die duidelike bewoording en betekenis daarvan kon doen nie. Gevolglik is
bevind dat die respondent se lidmaatskap
op 28 Februarie 1993 beëindig is,
dat hy ononderbroke vanaf 20 April 1987 tot en met 28 Februarie 1993 ‘n
lid van die
appellant (en sy voorganger) was, en dat hy op die aangevraagde
regshulp geregtig was.
[8] Voordat ek die strekking van die
bedankingsbrief behandel, is ‘n paar voorlopige opmerkings nodig om die
respondent se aansoek
behoorlik in perspektief te stel. Die respondent het op
20 April 1987 ‘n lid van die appellant geword. Die rede waarom dit
vir
hom belangrik is dat die ononderbroke tydperk van sy lidmaatskap voorafgaande 28
Februarie 1993 bepaal word, is die volgende.
Op ‘n algemene vergadering
van die appellant gehou op 9 en 10 September 1993 is daar ‘n spesiale
besluit geneem om ‘n
reserwe van R49 336 571,00 onder lede van die
appellant (soos op 1 November 1993) uit te keer. Die uitkering sou geskied
volgens
die klandisieverhouding tussen elke lid en die appellant, welke
klandisieverhouding bepaal sou word met betrekking tot ‘n lid
se
ononderbroke tydperk van lidmaatskap oor ‘n periode van nege jaar
voorafgaande en tot 28 Februarie 1993. Hoe langer die
ononderbroke tydperk van
lidmaatskap, hoe groter die lid se aanspraak op die reserwe wat uitgekeer sou
word en hoe hoër die
bedrag wat uiteindelik aan hom uitbetaal sou word.
Kortom, hoe langer die respondent se ononderbroke tydperk van lidmaatskap, hoe
groter die bedrag wat hy sou ontvang uit die uitkering van die
reserwe.
[9] Dit is gemene saak dat aandeelhouding in die appellant
‘n voorvereiste vir lidmaatskap is. So bepaal art 11 van die statuut,
vir
sover tersaaklik, dat “ ‘n persoon lid van die koöperasie
[word] by die uitreiking of oordrag van ‘n aandeel
aan hom” (sien
ook art 10(1) van die statuut en art 61(1)(a) van die Wet). Luidens art 33(2)
van die statuut word die “aandele
van ‘n lid wat . . . bedank het .
. . by besluit van die raad ingetrek” (sien ook art 81(1)(c) van die Wet).
Verder bepaal
art 99(1) van die statuut dat elke lid verplig is om (met
uitsondering van wat hy vir sy eie gebruik nodig het) al sy suiwelprodukte
aan
die appellant te lewer. Die raad kan hom egter in sekere omstandighede onthef
van sodanige verpligting.
[10] Ek behandel vervolgens die relevante
gebeure wat die skryf van die bedankingsbrief voorafgegaan het, en die wat
daarop gevolg het,
vir sover daardie gebeure en die gedrag van die partye in
aanmerking geneem kan word by die vertolking van die brief, asook om te
bepaal
of die partye enige ooreenkoms bereik het wat betref die tydstip wanneer die
appellant se lidmaatskap beëindig is.
[11] Vanaf April 1991 het
die respondent opgehou om melk aan die appellant te lewer. In stede daarvan het
hy melk aan Simonsberg kaasfabriek
(“Simonsberg”) gelewer. Hy
beweer dat dit gebeur het met die appellant se medewete en toestemming. Volgens
mnr L S
du Plessis, die appellant se hoof uitvoerende beampte, is hy deur die
respondent meegedeel dat hy besluit het om in die toekoms sy
melk aan Simonsberg
te lewer en om dié rede as lid van die appellant wou bedank.
Bevestiging hiervoor is te vinde in ‘n
brief wat Du Plessis op 20 Maart
1991 aan die respondent geskryf het waarin hy onder andere gesê het:
“Ek was jammer om te verneem dat jy van melkkoper verander. Die omstandighede is aan my bekend en daarom verstaan ek die besluit. . . .
Dankie vir die ondersteuning van die verlede en vir jou lojaliteit teenoor die Koöperasie terwyl jy lid was.”
Die indruk wat die
brief skep dat die respondent nie langer ‘n lid van die appellant was nie,
is onjuis. Wat egter wel blyk,
is dat die vergunning aan die respondent verleen
om melk elders te lewer op die veronderstelling geskied het dat die respondent
as
lid wou bedank.
[12] Op 10 Junie 1991 en 9 Augustus 1991
onderskeidelik is briewe aan die appellant gerig deur mnr C B de Jager, die
respondent se ouditeur
(“De Jager”). Na bewering het die appellant
nie die briewe ontvang nie. Die briewe, wat deel uitmaak van die respondent
se
stukke, is aanduidend van die respondent se houding. In die eerste brief is
daar onder andere gesê dat die respondent “het
klaarblyklik besluit
om as lid van u koöperasie te bedank”, terwyl in die latere brief
daar gemeld word dat die respondent
sy posisie heroorweeg en “ons versoek
om ons . . . brief gedateer 10 Junie 1991 hiermee terug te
trek.”
[13] Daarna is die bedankingsbrief van 4 Desember 1991
deur De Jager namens die respondent aan die appellant gerig. Die relevante deel
daarvan lui soos volg:
“Met verwysing na verskeie korespondensie in verband met die moontlike onttrekking as lid van mnr Hugo Louw by u koöperasie, het mnr Louw nou finaal besluit om as lid van u koöperasie te bedank. U sal waarskynlik begrip hê dat daar vir hom geen sin is om by u koöperasie aan te bly nie aangesien daar geen lewerings aan u koöperasie gedoen word nie.
Ons versoek u dus om ons te voorsien van enige formele dokumente wat in die verband voltooi en geteken moet word. Mnr Louw versoek u ook om so spoedig moontlik enige ledegelde en fondse aan hom uit te betaal wat by u koöperasie op sy rekord is.”
[14] Op
‘n raadsvergadering gehou op 11 Februarie 1992 is, wat in die notule
aangeteken is as die repondent se “aansoek om
beëindiging van
lidmaatskap”, goedgekeur. In ‘n brief aan die respondent gedateer
18 Februarie 1992 onder die opskrif
“Aansoek om Beëindiging van
Lidmaatksap” skryf die appellant:
“Hiermee word ontvangs erken van u aansoek om beëindiging van lidmaatskap by bogenoemde Koöperasie.
Uitbetaling van u aandele sal geskied na goedkeuring op die volgende algemene jaarvergadering wat gehou sal word op 11 Augustus 1992.”
Die respondent het egter ontvangs van hiedie brief
ontken.
[15] Op 22 Junie 1992 skryf De Jager namens die respondent
‘n verdere brief aan die appellant waarin hy na die bedankingsbrief
verwys.
Die brief gaan voort:
“Mnr Louw verneem graag of u alreeds sy lidmaatskap gekanselleer het al dan nie. Indien u dit nie gekanselleer het nie, sal ons dit op prys stel indien u hom kan kontak, aangesien hy dit wél oorweeg om nie as lid by u koöperasie te bedank nie.”
[16] Die
appellant antwoord hierop in ‘n brief van 30 Junie 1992 waarin De
Jager
meegedeel word:
“Mnr Louw se aandele is alreeds gekanselleer en uitbetaling daarvan sal na die Algemene Jaarvergadering gedurende Augustus 1992 geskied.
Dit staan mnr Louw egter vry om weer as lid van die koöperasie aansoek te doen. Ek vertrou sy aansoek sal gunstig deur die direksie oorweeg word.”
(Die stelling dat die respondent se aandele
“is alreeds gekanselleer” was nie juis nie. Dit het eers na die
algemene
jaarvergadering geskied.)
[17] Op 31 Augustus 1992 rig die
appellant ‘n laaste skrywe aan die respondent wat soos volg lui:
“BEëINDIGING VAN LIDMAATSKAP: LID NO 70170
Tydens die Algemene Jaarvergadering van 11 & 12 Augustus 1992 is u beëindiging van lidmaatskap aanvaar en goedgekeur.
Daar is ook besluit om die ledefondse van 1986, 1987 en 75% van 1988 aan u uit te betaal.
Aangehegte tjek is dus as volg saamgestel:
Aandele R 20-00
Uitgestelde bonusfonds: 1986 R
geen
1987 R geen
75% van 1988 R111506-25
TJEK
TOTAAL: R111526-25
Die volgende ledefondse is nog in u naam:
Uitgestelde bonusfonds: 25% van 1988 R
37168-75
1989 R134751-00
TOTAAL: R171919-75
Hierdie fondse sal aan u uitbetaal word soos fondse in die koöperasie beskikbaar kom.
Baie dankie vir u ondersteuning die afgelope
jare.”
Dit is gemene saak dat die respondent die aangehegte tjek
aanvaar het en dit gebank het.
[18] Op 4 Januarie 1993 het die
respondent opnuut aansoek gedoen om lidmaatskap van die respondent. Die aansoek
is goedgekeur en hy het
vanaf 19 Januarie 1993 weer melk aan die appellant
gelewer.
[19] ‘n Eensydige bedanking deur ‘n lid ingevolge
art 33(1) van die statuut moet, om effektief te wees, duidelik en ondubbelsinnig
te kenne gee dat dit die lid se voorneme is (vgl Boerne v Harris 1949(1)
SA 793 (A) op 801). Dit is te betwyfel of die bedankingsbrief aan hierdie
vereistes voldoen. Ofskoon daar aangedui word
dat die respondent “nou
finaal besluit [het] om as lid van u koöperasie te bedank” word die
aangeleentheid nie verder
gevoer nie. Daar is geen verwysing na art 33(1) nie,
en daar word nêrens uitdruklik gesê dat die respondent wel bedank
nie. Trouens, daar is meriete in die betoog namens die appellant dat dit
vertolk behoort te word as ‘n uitnodiging om op ‘n
bedanking buite
die statuut ooreen te kom. Hoe dit ookal sy, is ek bereid om vir die doeleindes
van die appèl te aanvaar
dat die bedankingsbrief as ‘n eensydige
bedanking beskou moet word.
[20] Dit sou in die normale loop van sake
tot gevolg gehad het dat die respondent se bedanking eers aan die einde van
Februarie 1993 in
werking tree en sy lidmaatskap eers dan beëindig sou
word. Net soos daar buite die appellant se statuut op ‘n lid se
bedanking
ooreengekom kan word (soos beslis in Cape Dairy Co-operative Ltd v Ferreira
supra) kan daar eweneens ooreengekom word om die inwerkingtreding van
‘n bedanking ingevolge art 33(1) te vervroeg. Die vertraagde
inwerkingtrede van ‘n art 33(1) bedanking is klaarblyklik bedoel om tot
die voordeel van die appellant te wees, wat met die
hantering en verwerking van
suiwelprodukte noodwendig sy beplanning vooruit moet doen en sy sake
dienooreenkomstig moet inrig met
inagneming van die feit dat die betrokke lid
wat bedank nie meer sy suiwelprodukte gaan lewer nie. Dit staan die appellant
egter
vry om afstand te doen van daardie voordeel en om tot ‘n
vroeëre inwerkingtreding van ‘n lid se bedanking ooreen
te stem.
[21] As lid van die appellant sedert 1987 was die respondent
waarskynlik vertroud met die bepalings van die statuut en behoort hy dus
te
geweet het dat sy lidmaatskap ingevolge daarvan eers einde Februarie 1993
beëindig sou word. Hy sou ook bewus gewees het
van sy verpligting as lid
om melk aan die appellant te lewer en dat die vergunning wat aan hom verleen is
om aan Simonsberg melk
te lewer, herroep kon word. Die bedankingsbrief meld dat
daar vir die respondent “geen sin is om by u koöperasie aan
te bly
nie aangesien daar geen lewerings aan u koöperasie gedoen word nie.”
Dit dui op ‘n besef dat ‘n vroeë
beëindiging van
lidmaatskap aangewese was om die respondent te onthef van enige verpligting wat
op hom gerus het om melk aan
die appellant te lewer. Daarbenewens was daar
‘n versoek namens die respondent “om so spoedig moontlik enige
ledegelde
en fondse aan hom uit te betaal wat by u koöperasie op sy rekord
is.” Uitbetaling sou normaalweg gepaard gaan met beëindiging
van
lidmaatskap. Na my mening, op ‘n behoorlike vertolking van die
bedankingsbrief, val die klem op die vinnige beëindiging
van die respondent
se lidmaatskap, en is daarin begrepe ‘n versoek of uitnodiging aan die
appellant om in te stem om die respondent
se bedanking so spoedig moontlik in
werking te laat tree. Al was die respondent nie met die betrokke bepalings van
die statuut
vertroud nie, sou die gevolgtrekking dat die respondent ‘n
spoedige beëindiging van sy lidmaatskap beoog en versoek het,
steeds
geregverdig wees.
[22] Die “aanvaarding” van die
respondent se bedanking deur die raad op 11 Februarie 1992 is nie aanvanklik aan
die respondent
meegedeel nie. In iedere geval, op die veronderstelling dat die
bedankingsbrief ‘n eensydige bedanking daarstel, was die
“aanvaarding”
onnodig. Die effek daarvan is egter dat die
respondent se versoek dat sy beëindiging van lidmaatskap vervroeg word,
goedgekeur
is.
[23] Die brief van 22 Junie 1992 kom nie op ‘n
terugtrekking van die respondent se bedanking neer nie, ook nie van sy versoek
om
vervroegde beëindiging van sy lidmaatskap nie. Dit dui net op ‘n
voorneme aan sy kant om sy situasie in heroorweging
te neem sou sy bedanking nog
nie in werking getree het nie. Die brief is eintlik teenstrydig met die bestaan
van die bedankingsbrief
as ‘n eensydige bedanking, m a w, dat bedanking
reeds ‘n voldonge feit was. Terugtrekking sou in elk geval net kon
geskied
het met toestemming van die raad soos bepaal in art 31(1) van die
statuut.
[24] Die brief aan De Jager van 30 Junie 1992 bevat ‘n
sterk aanduiding dat daar aan die respondent se versoek om vroeë
beëindiging
van sy lidmaatskap voldoen is. Dit gaan trouens van die
veronderstelling uit dat die respondent nie meer lid van die koöperasie
is
nie. As daar twyfel ontstaan of die brief regtens gesproke beskou kan word as
‘n aanvaarding van die appellant se versoek
(wat op ‘n aanbod
neergekom het) om vroeë beëindiging van sy lidmaatskap, is alle twyfel
uit die weg geruim toe die
brief van 31 Augustus 1992 deur die respondent
ontvang is. Daar word hy pertinent in kennis gestel dat die beëindiging
van
sy lidmaatskap aanvaar en goedgekeur is, en word hy uitbetaal vir sy
aandele. Deel van die ledefondse wat hom toegekom het, is ook
aan hom
uitbetaal. Soos reeds daarop gewys, is aandeelhouding ‘n vereiste vir
lidmaatskap. Die brief van 31 Augustus 1992
kom onteenseglik neer op ‘n
mededeling van die aanvaarding van die respondent se versoek om sy lidmaatskap
so spoedig moontlik
te beëindig. Langs dié weg het die partye
konsensus bereik en het daar ‘n ooreenkoms tot stand gekom vir die
vroeëre
inwerkingtreding van die respondent se bedanking en gevolglik die
beëindiging van sy lidmaatskap. Dit word bevestig deur (1)
die aanvaarding
van die uitbetaling deur die respondent en die inbetaling daarvan in sy
bankrekening, en (2) sy latere aansoek in
Januarie 1993 om lidmaatskap van die
appellant. Dit is vanselfsprekend dat as hy nog ‘n lid van die appellant
was omdat die
tydperk in art 33(1) vir die inwerkingtreding van sy bedanking nog
nie verstryk het nie, dit nie nodig sou gewees het om weer aansoek
om
lidmaatskap te doen nie.
[25] Gevolglik het die respondent se
bedanking op die laatste einde Augustus of vroeg September 1992 in werking
getree na ontvangs van
die brief van 31 Augustus 1992 en is sy lidmaatskap van
die appellant daardeur beëindig. Die respondent was dus nie van 20
April
1987 tot en met 28 Februarie 1993 ononderbroke ‘n lid van die appellant en
sy voorganger nie, en het die hof a quo fouteer deur so te bevind.
Bygevolg moet die appèl slaag.
[26] Die posisie sou presies
dieselfde gewees het as die bedankingsbrief nie as ‘n eensydige besluit om
te bedank beskou was nie.
Dit sou dan ongetwyfeld vertolk moes gewees het as
‘n aanbod om te bedank buite die statuut wat deur die appellant aanvaar
is, gesien die verloop van die gebeure waarna reeds verwys is. Ook op daardie
grondslag sou die respondent se lidmaatskap beëindig
gewees het op die
laatste aan die begin van September 1992.
[27] Die volgende bevel word gemaak:
Die appèl slaag met koste.
Die bevel van die hof benede word tersyde gestel en vervang met die volgende bevel:
“Die aansoek word van die hand gewys met koste.”
_____________________
J W SMALBERGER
APPèLREGTER
VIVIER AR )Stem saam
PLEWMAN AR )
FARLAM Wnd AR )
CHETTY Wnd
AR )