South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2001 >>
[2001] ZASCA 48
| Noteup
| LawCite
Gerber v Voorsitter: Komitee oor Amnestie van die Kommissie vir Waarheid en Versoening (21/99) [2001] ZASCA 48; [2001] 3 All SA 442 (A); 2001 (3) SA 1221 (SCA) (27 March 2001)
Download original files |
Saak No:
21/99
IN DIE HOOGSTE HOF VAN
APPéL
IN
SUID-AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
In die
saak:
HENDRIK
GERBER Appellant
en
DIE VOORSITTER: KOMITEE
OOR AMNESTIE VAN DIE KOMMISSIE VIR WAARHEID EN
VERSOENING Respondent
CORAM: Hefer Wnd HR, Olivier, Cameron ARR, Brand en Mthiyane Wnd ARR
Datum gelewer: 27 Maart
2001
Aansoek om tersydestelling van respondent se beslissing om
amnestie te weier. Beweerde diskriminasie deur
respondent.
U I T S P R A A
K
BRAND WND AR
[1] Nadat die
betoë namens appellant op 9 Maart 2001 aangehoor is, is die appèl
van die hand gewys met koste, insluitende
die koste van twee advokate. Dit is
aangedui dat redes vir hierdie bevel later verstrek sal word. Hier volg die
redes.
[2] Op 21 Mei 1991 het appellant en twee van sy makkers vir
Samuel Kganakga (“die oorledene”) gemartel en uiteindelik
doodgeskiet.
Hiervoor is hulle in 1993 skuldig bevind aan moord waarna
appellant gevonnis is tot 20 jaar gevangenisstraf. Na die inwerkingtreding
van die Wet op Bevordering van Nasionale Eenheid en Versoening 34 van 1995
(“die Wet”) het appellant en een van sy destydse
medebeskuldigdes
uit hoofde van die bepalings daarvan by respondent aansoek gedoen om amnestie.
Die aansoek was onsuksesvol.
Daarop het appellant die Transvaalse Provinsiale
Afdeling genader vir die tersydestelling van respondent se besluit. Ook
hierdie
aansoek was onsuksesvol. Met verlof van die verhoorhof (Southwood R)
het appellant op appèl gekom na hierdie Hof teen die
afwysing van sy
hersieningsaansoek. Die uitspraak van die hof a quo is intussen
gerapporteer onder die verwysing Gerber v Voorsitter: Komitee oor Amnestie
van die Kommissie vir Waarheid en Versoening 1998 (2) SA 559
(T).
[3] Die grondslag van appellant se hersieningsaansoek was in wese
tweeledig. Eerstens is aangevoer dat respondent versuim het om aan
appellant
die voordeel van “gelyke beskerming en voordeel van die reg” te
verleen wat in art 9 van die Grondwet 108 van
1996 (“die Grondwet”)
gewaarborg word. Anders gestel, dat respondent op onbillike wyse teen hom
gediskrimineer het en
daardeur sy konstitusionele regte geskend het. Tweedens
het appellant aan gevoer dat respondent fouteer het deur te bevind dat
die moord
waaraan hy skuldig bevind is nie in verband staan met ’n politieke oogmerk
soos wat in art 20 van die Wet vir die
toestaan van amnestie vereis word
nie.
[4] Ter ondersteuning van sy eerste grond vir hersiening, dat
respondent op onbillike wyse teen hom gediskrimineer het, het appellant
hom
beroep op die beweerde ooreenkoms tussen sy saak en die saak van Christopher
Makgale en Boy Diale (“die Makgale-saak”)
wie se aansoeke om
amnestie deur respondent toegestaan is.
[5] Ten einde die inslag van
appellant se bewering van diskriminasie te beoordeel, is dit nodig om in
breë trekke te verwys na die
feite van sowel appellant se saak as na
dié van die Makgale-saak.
[6] Ek handel eers met die feite van
appellant se saak. Appellant was vroeër ’n lid van die
Suid-Afrikaanse Polisie. Na
sy bedanking uit die polisie het hy gaan werk by
Fidelity Guards in Johannesburg. Op 27 Maart 1991 is ’n wag van Fidelity
Guards oorrompel en R4.2 miljoen buitgemaak. Gedurende die aand van 20 Mei
1991 het appellant inligting ontvang van ’n informant
dat die oorledene,
wat indertyd ook by Fidelity Guards in diens was, sowel by die roof van 27
Maart 1991 as by ’n ander voorval
van diefstal betrokke was.
[7] Vroeg die oggend van 21 Mei 1991 is die oorledene na appellant se
kantoor geneem waar hy oor sy betrokkenheid by die roof en diefstal
ondervra is.
Hy wou volgens appellant nie “saamwerk” nie. Gevolglik is hy deur
appellant, sy twee medebeskuldigdes
in die strafsaak asook twee ander werknemers
van Fidelity Guards wat as tolke opgetree het, geneem na ’n afgeleë
gebied
buite Johannesburg waar die ondervraging voortgesit is. Hier het die
ondervraging egter met marteling gepaard gegaan. Onder
meer is die oorledene
met sy kop na onder teen ’n boomtak opgehys en met ’n skokapparaat
aan sy geslagsdele geskok.
Terwyl hy so daar gehang het, is daar ’n vuur
onder sy kop gemaak sodat die rook in sy neus optrek. Op dié wyse het
appellant en sy mededaders feitlik die hele dag met die oorledene aangegaan.
Op ’n stadium het een van appellant se makkers
sover gegaan om ’n
skoot op die oorledene af te vuur en hom in die skouer te wond. Laat die
middag, toe die oorledene uiteindelik
van die boom afgehaal is, het hy probeer
weghardloop. Appellant het twee skote op hom geskiet en hom noodlottig verwond.
Daarna
is gepoog om van die oorledene se liggaam ontslae te raak deur dit te
verbrand. In die verhoor voor respondent, wat gehou is in
terme van artikel 19
(4) van die Wet, het appellant getuig dat hy die oorledene doodgeskiet het omdat
hy besef het dat hy en sy makkers
in groot moeilikheid sou wees indien die
oorledene sou ontvlug met die bewyse van marteling en die koeëlwond aan sy
liggaam.
[8] In sy aansoek om amnestie het appellant beweer dat die
moord op die oorledene “in verband staan met ’n politieke
oogmerk”
soos bedoel in art 20 (1) (b) van die Wet. Ter ondersteuning
van hierdie bewering het appellant aangevoer dat sy informant hom
gedurende die
aand van 20 Mei 1991 meegedeel het dat die oorledene kontak gehad het met die
PAC. Dit, sê appellant, was in
ooreenstemming met sy algemene siening
dat die PAC transito-rooftogte uitgevoer het om sy politieke stryd te befonds
asook met die
feit dat daar op die toneel van die roof van 27 Maart 1991,
Chinese stokgranate gevind is.
[9] Die waarheid van appellant se
bewering dat die oogmerk vir sy aanval op die oorledene polities van aard was,
was uiteraard van deurslaggewende
belang vir die sukses van sy amnestie-aansoek.
Gevolglik is hierdie bewering in die verhoor voor respondent indringend
ondersoek.
Onder meer is appellant daarvoor onder kruisverhoor geneem en is
daar ook weerleggende getuienis aangebied. Aan die einde van
die verhoor het
respondent appellant se bewering dat die moord met ’n politieke oogmerk
verband gehou het, verwerp.
[10] Blykens respondent se skriftelike
redes vir sy gewraakte beslissing, het dit swaar by respondent geweeg dat
appellant nóg
in sy strafverhoor nóg in sy versoekskrif om verlof
tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis, melding gemaak het
daarvan
dat die oorledene volgens sy inligting ’n lid van die PAC was of van enige
politieke motief wat tot die pleging van
die misdaad aanleiding gegee het.
Voorts wys respondent in sy skriftelike redes daarop dat, volgens die onbetwiste
getuienis voor
hom, die oorledene nooit uitgevra is oor enige verbintenis met
die PAC nie.
[11] Dit bring my dan by die feite van die Makgale-saak.
Die amnestie aansoek in daardie saak het voortgespruit uit die moord op ene Glad
Mokgatle (“die oorledene”) wat gepleeg is op 29 Desember 1990 en
waaraan die twee applikante skuldig bevind is. Sowel
die oorledene as die twee
applikante was lede van die Bafokeng stam. Volgens die onbetwiste getuienis
voor respondent was daar
langdurige onmin tussen die meerderheid lede van die
Bafokeng stam en die indertydse regering van Bophuthatswana onder leiding van
president Lucas Mangope (“Mangope”). Die oorledene was ’n
uitsondering. Hy was ’n ondersteuner van Mangope
en is deur laasgenoemde
in ’n bestuursposisie in die distrik van Bafokeng aangestel. In hierdie
hoedanigheid was die oorledene
in beheer van die sleutel van die Burgersentrum.
Die mense van Bafokeng het die oorledene gesien as die verteenwoordiger van die
Mangope-regering en die Burgersentrum as die setel van die stam se sosiale-,
politieke- en kulturele aangeleenthede. Ooreenkomstig
hierdie siening was die
oorledene se besit van die sleutel dus simbolies van die Mangope se beheer oor
die Bafokeng stam.
[12] Op die betrokke dag, 29 Desember 1990, het
’n groep lede van die Bafokeng-stam, insluitende die twee applikante om
amnestie,
na die oorledene gegaan met die doel om die sleutel van die
Burgersentrum by hom af te neem en sodoende op simboliese wyse die
Mangope-regering
te ontneem van sy beheer oor die sake van die Bafokeng
stam.
[13] Die oorledene het egter geweier om aan hulle eise te
voldoen en die situasie het handuit geruk. Lede van die groep het die
oorledene
aangerand. Op die ou end is hy doelbewus met ’n panga doodgekap
sodat hy nie teen sy aanvallers sou kon getuig nie. Die
twee applikante het
erken dat hulle deelgeneem het aan hierdie finale aanval.
[14] Tydens
die verhoor voor respondent het al die getuies, insluitende die seuns van die
oorledene, applikante se bewering ondersteun
dat hulle aanval op die oorledene
polities geïnspireer was. Respondent het dan ook so beslis. Hierdie
beslissing blyk ondermeer
uit die volgende gedeelte van respondent se
skriftelike redes in die Makgale-saak:
“Although it might appear from the evidence that the applicants ... made sure that the deceased died of his injuries because they feared that had he lived, he most certainly would have implicated them in the assault on him the evidence as a whole leaves no doubt that the attack on the deceased was associated with a political objective, that is regaining control of the Tribe. In this regard it should be noted that in sentencing the two applicants the Judge accepted the fact that their offence was politically motivated.”
[15] Die ooreenstemming wat
appellant tussen sy saak en die Makgale-saak vind is dat die uiteindelike doding
van die oorledene in beide
gevalle gemotiveer is deur die oogmerk om die
oorledene as getuie uit die weg te ruim. Op hierdie punt is daar duidelik
’n
ooreenkoms tussen die twee sake. Dit is egter ook waar die ooreenkoms
eindig. Die verskil tussen die twee sake wat deur respondent
onderstreep word,
slaan op die motief vir die aanvanklike aanval wat tot die uiteindelike doding
aanleiding gegee het. In die
Makgale-saak, so het respondent bevind, was die
aanvanklike aanval polities geïnspireer en het die moord dus “in
verband
gestaan met ’n politieke oogmerk” soos wat in art 20(1) van
die Wet vereis word. Daarteenoor het respondent ten aansien
van appellant se
misdryf bevind dat die aanval wat die doding vooraf gegaan het nie polities
geïspireer was, soos appellant
beweer het nie, en dat derhalwe nie
gesê kan word dat die moord met ’n politieke oogmerk verband gehou
het nie.
[16] Indien respondent se feitebevindings in beide gevalle
aanvaar word, kan daar uiteraard geen sprake wees van onbillike diskriminasie
nie. Die dramatiese verskil in die uitslag wat die teenoorgestelde
feitebesvindings in die twee sake tot gevolg gehad het is nie
aan die respondent
se deur gelê word nie. Dit word deur die Wet voorgeskryf. ’n
Feitebevinding deur respondent dat
die misdaad met ’n politieke oogmerk
verband hou is kragtens die Wet onontbeerlik vir die sukses van ’n
amnestie aansoek.
Nadat respondent bevind het dat appellant se misdaad nie
in verband gestaan het met ’n politieke oogmerk nie, het respondent
geen
bevoegdheid gehad om sy aansoek om amnestie toe te staan nie.
[17] So
gesien, kon appellant se saak dus slegs wees dat respondent se gewraakte
feitebevinding verkeerd was. Blykens respondent se
redes vir hierdie
feitebevindings is dit gebaseer op ’n verwerping van appellant se
getuienis, oftewel op ’n geloofwaardigheidsbevinding
teen appellant.
[18] Soos wat dan ook uiteindelik namens appellant toegegee is, kon
die appèl in die omstandighede slegs slaag indien die hof
a quo
met respondent se geloofwaardigheidsbevinding teen appellant kon en moes
ingemeng het.
[19] In ooreenstemming hiermee is namens appellant
betoog dat die hof a quo inderdaad die bevoegdheid gehad het om, soos op
appèl, met respondent se geloofwaardigheidsbevindings in te meng.
Volgens
hierdie betoog was die beperkings wat volgens geykte reg in
hersieningsaansoeke op ’n hof se bevoegdheid geplaas word om met
administriewe besluite in te meng, nie hier van toepassing nie, omdat appellant
op in skending van ’n konstitusionele reg
steun. Sonder om pertinent oor
die geldigheid van hierdie betoog te beslis, aanvaar ek argumentshalwe dat
’n hof inderdaad
in ’n geval soos die onderhawige oor die wye magte
van hersiening beskik wat deur appellant voorgehou word. Derhalwe gaan
ek voort
om die geldigheid van die appellant se aanval op respondent se
geloofwaardigheidsbevinding teen hom te ondersoek.
[20] Appellant se
vernaamste aanval op respondent se geloofwaardigheids-bevinding is dat
respondent, blykens sy skriftelike redes, te
veel gewig geheg het aan die feit
dat hy nie tydens sy strafverhoor verwys het na die oorledene se beweerde
verbintenis met die PAC
en sy, appellant, se beweerde politieke motief vir sy
aanval op die oorledene nie. Een van die oogmerke van die Wet, voer appellant
aan, is juis om die waarheid vas te stel aangaande dit wat rondom die politieke
konflikte van die verlede gebeur het. In ooreenstemming
hiermee, sê
appellant, word aansoekers om amnestie dan ook uitgenooi om, ten spyte van
onwaarhede wat hulle in die verlede
mag verkondig het, in hul aansoeke om
amnestie die waarheid te vertel. In hierdie lig, voer appellant aan, het
respondent misgetas
deur dit dit teen hom te hou dat hy nie tydens sy
strafverhoor die volle waarheid vertel het nie.
[21] Hoewel hierdie
betoog nie op logiese gronde fouteer kan word nie, sou dit terselfdertyd
verkeerd wees om te sê dat daar glad
nie na appellant se vorige
verklarings, bv in sy strafverhoor, verwys mag word om die geloofwaardigheid van
sy huidige bewerings
te toets nie. Veral waar dit wat appellant nou as die
waarheid voorhou vir hom geen nadeel kon inhou by sy strafverhoor nie en,
inteendeel, slegs sy saak kon bevorder, kan die vraag met reg gevra word waarom
appellant dit tydens sy strafverhoor geheel en al
verswyg het. Wanneer
appellant geen antwoord op hierdie vraag kan gee nie is die afleiding byna
onweerstaanbaar dat dit wat appellant
nou as die waarheid voorhou, ’n
nagedagte is wat appellant versin het toe dit hom pas. Na my oordeel kan
respondent dus nie
verkwalik word vir hierdie afleiding
nie.
[22] Hierbenewens is dit duidelik dat appellant se versuim om in
sy strafverhoor na sy beweerde politieke motivering vir sy misdaad te
verwys,
nie die enigste basis is waarop respondent sy getuienis tot dien effekte verwerp
het nie. Onder meer wys respondent is
sy skriftelike redes ook daarop dat,
volgens al die getuienis wat voor respondent geplaas is, daar nooit tydens die
langdurige ondervraging
van die oorledene een enkele vraag aan hom gevra is
aangaande sy beweerde verbintenis met die PAC nie. Ook hierdie rede vir die
verwerping van appellant se getuienis, wat deur algemene ervaring en gesonde
verstand gedikteer word, kan nie gekritiseer word nie.
In sy skriftelike redes
verwys respondent ook na minder belangrike maar tog relevante oorwegings soos,
byvoorbeeld, dat daar in
die verlede verskeie klagtes teen appellant ingebring
was dat sy ondervraging van vermeende diewe en rowers, buite enige politieke
verband, dikwels met geweld en marteling gepaard gegaan het
[23] In al
die omstandighede was hierdie Hof dus van oordeel dat daar geen basis is wat
inmenging deur die hof a quo met respondent se
geloofwaardigheidsbevinding teen appellant sou regverdig nie. Ooreenkomstig die
toegewing namens appellant was
die noodwendige gevolg dat die appèl nie
kon slaag nie.
[24] Wat koste van die appèl betref is namens
respondent gevra dat die kostebevel in sy guns, die koste van twee advokate moes
insluit. Na hierdie Hof se oordeel is dit ’n billike en geregverdigde
versoek.
[25] Derhalwe is die appel van die hand gewys met koste, wat
die koste van twee advokate insluit.
___________________
FDJ
BRAND
WND APPELREGTER
STEM SAAM:
HEFER Wnd HR
OLIVIER
AR
CAMERON AR
MTHIYANE Wnd AR