South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2001 >>
[2001] ZASCA 69
| Noteup
| LawCite
Cussons and Others v Kroon (254/98) [2001] ZASCA 69; [2002] 1 All SA 361 (A); 2001 (4) SA 833 (SCA) (28 May 2001)
Download original files |
Rapporteerbaar
Saak No: 254/98
160/99
In die saak
tussen:
EUGENE CHRISTOFFEL CUSSONS 1ste
Appellant
GERRIT VAN PLETZEN KROON 2de
Appellant
ALBION ADMINISTRATION (EDMS) BPK 3de
Appellant
en
JOHANNES FRANCOIS
KROON Respondent
Coram: Smalberger, Wnd AHR Zulman, Streicher, Mthiyane, ARR en Chetty, Wnd AR
Verhoor: 3 Mei
2001
Gelewer: 28 Mei 2001
Vennootskapsbates –
bedoeling van vennote bepalend onderling – a 3(b) Wet 70 van 1970 verbied
nie registrasie van vennootskapsbate
in naam van 'n vennoot – kennisleer
van toepassing t.o.v. persoonlike reg teen eienaar om nie sonder toestemming te
verkoop
nie.
U I T S P R A A K
STREICHER, AR:
[1] Die tweede appellant het
'n plaas wat in sy naam geregistreer was, verkoop aan sy swaer, die eerste
appellant, as nominee vir ’n
maatskappy wat gestig sou word. Daarna het hy
die plaas oorgedra aan die derde appellant, 'n maatskappy, synde die
genomineerde van
die eerste appellant. Die tweede appellant se broer, die
respondent, voer aan dat, tot die eerste en derde appellante se kennis,
die
plaas 'n bate van die vennootskap tussen hom en die tweede appellant was, dat
dit slegs met sy toestemming vervreem kon word
en dat hy nooit sodanige
toestemming gegee het nie. Hy het gevolglik in die Transvaalse Provinsiale
Afdeling 'n aksie aanhangig
gemaak vir die nietigverklaring van die koopkontrak
tussen die tweede appellant en die eerste appellant, terugtransportering van
die
plaas deur die derde appellant aan die tweede appellant, bekragtiging van die
ontbinding van die vennootskap tussen hom en die
tweede appellant en die
aanstelling van 'n likwidateur met magtiging om die bates van die vennootskap te
realiseer. Die hof a quo het die respondent gelyk gegee en die
appellante appelleer nou teen die hof a quo se uitspraak, uitgesonderd
die hof a quo se bekragtiging van die ontbinding van die vennootskap en
die aanstelling van 'n likwidateur.
[2] Die volgende feite is
gemeensaak tussen die partye of blyk uit die getuienis van die respondent, synde
die enigste persoon wat tydens
die verhoor van die saak getuig het.
2.1 Gedurende November 1979 het die tweede appellant, die respondent en ene Duvenhage 'n vennootskapsooreenkoms gesluit.
2.2 Sekere bepalings van die vennootskapsooreenkoms is later soos volg.deur die drie vennote op skrif gestel:
"1.
Die Partye plaas op rekord:
dat die Eerste, Tweede en Derde Party[1] gesamentlik in vennootskap die Resterende Gedeelte van Gedeelte 36 van die verenigde plaas Harmony 140, Registrasie Afdeling KT, Transvaal: Groot 1870,6583 Hektaar (Hierna genoem "Die Plaas"), aangekoop het;
dat vanweë Wetgewing, dit onmoontlik was dat Die Plaas getransporteer kan word in die naam van al drie Partye;
dat om doelmatigheidsredes Die Plaas geregistreer is in die naam van die Derde Party;
1.4 dat desnieteenstaande voormelde registrasie, elke Party een-derde belang in die plaas het en as sulks geregtig is op een-derde van alle winste wat gemaak word uit die plaas."
2.3 Gedurende ongeveer Augustus 1990 het die vennootskap ontbind
met die uittrede van Duvenhage as 'n vennoot ten gevolge waarvan
die tweede
appellant en die respondent, ingevolge 'n mondelinge ooreenkoms, die enigste
vennote geword het, met onderskeie belange
van 47,3% en 52,7% in die
vennootskap. Die tweede appellant en die respondent het verder ooreengekom dat
elk van hulle 'n belang,
soos bedoel in klousule 1 van die voormelde skriftelike
ooreenkoms, in die plaas sou hê en dat elk van hulle, ooreenkomstig
hulle
onderskeie belange van 47,3% en 52,7%, 'n gelykmatige aanspraak op alle winste
wat uit die plaas gemaak word, sou hê.
2.4 Gedurende November 1994
het die eerste appellant 2% van die belang van die tweede appellant in die
vennootskap bekom. Die transaksie
is egter later gekanselleer.
2.5 Op
1 Desember 1995 het die tweede appellant, sonder die respondent se kennis of
toestemming en vir sy persoonlike voordeel,
ten opsigte van geld wat aan hom
geleen en voorgeskiet is, 'n verband oor die plaas geregistreer ten gunste van
Readiform 1021 BK.
2.6 Die tweede appellant het op 10 Julie 1996 die
plaas aan die eerste appellant, in sy hoedanigheid as 'n trustee van 'n
maatskappy
of beslote korporasie wat opgerig sou word, verkoop.
2.7
Op 31 Julie 1996 is die plaas in die naam van die derde appellant, as synde die
eerste appellant se genomineerde, geregistreer.
2.8 Die derde appellant
het R1,8m gedeponeer in die trustrekening van die oordragprokureurs as koopprys
vir die plaas. R1,5m van die
koopprys is aangewend vir die aflossing van die
verband ten gunste van Readiform 1021 BK.
2.9 Die respondent het nie voor
Augustus 1996 kennis van die sluiting van die koopkontrak gehad nie en het nie
daartoe toegestem nie.
2.10 Die eerste appellant en die derde appellant het te alle tersaaklike tye kennis gehad van die inhoud van die vennootskapsooreenkoms tussen die respondent en die tweede appellant en van hulle regte wat daaruit voortgespruit het.
2.11 By geleentheid het die eerste appellant aan die respondent gesê dat hy graag die respondent se aandeel in die plaas sou wou koop. Die respondent het geantwoord dat hy nie eers sy deel vir R10 000 per ha sou verkoop nie. R10 000 per ha is ongeveer tien keer meer as wat die derde appellant vir die plaas betaal het.
[3] Namens die appellante is betoog dat
die plaas nie 'n vennootskapsbate was nie, dat indien die vennote tot die
onderskeie vennootskapsooreenkomste
bedoel het dat dit 'n vennootskapsbate moes
wees sodanige ooreenkomste vanweë die bepalings van a 3(b) van die Wet op
die Onderverdeling
van Landbougrond 70 van 1970 nietig was en dat die kennisleer
nie op die verkoping en oordrag van die plaas van toepassing was nie.
Was die plaas'n vennootskapsbate?
[4] Wat vennote
onderling betref is alle bates waarvan een of meer van hulle die eienaar is
vennootskapsbates indien dit hulle bedoeling
is dat sodanige bates
vennootskapsbates moet wees. (Vgl. Lawsa 1ste heruitgawe vol 19 para
292; Van Heerden v Pienaar 1987 (1) SA 96 (A) 103G en 107G; Pienaar v
Van Heerden 1985 (2) SA 337 (W) op 341C-D; Fortune v Versluis 1962
(1) SA 343 (A) op 356B-358D).
[5] Daar kan, in die lig van die
hierbo aangehaalde klousule 1 van die skriftelike ooreenkoms tussen die tweede
appellant, die respondent
en Duvenhage, geen twyfel wees dat die aanvanklike
vennote, naamlik die tweede appellant, die respondent en Duvenhage bedoel het
dat die plaas 'n vennootskapsbate moes wees nie. Dit blyk uit daardie klousule
dat die drie vennote saam die plaas aangekoop het,
dat die plaas slegs omrede
dit nie moontlik was nie om dit in die name van al die vennote te registreer in
die naam van die tweede
appellant geregistreer is en dat elke vennoot 'n
een-derde belang in die plaas sou hê. Aangesien dit gemeensaak is dat die
tweede appellant en die respondent onderskeidelik 'n 47,3% en 52,7% belang in
hulle nuwe vennootskap sou hê en dat hulle belang
in die plaas van
dieselfde aard sou wees as die belang van die aanvanklike drie vennote
ingevolge klousule 1, volg dit dat die tweede
appellant en respondent bedoel het
dat die plaas 'n vennootskapsbate moes wees. Wat die respondent en die tweede
appellant onderling
betref was die plaas gevolglik 'n vennootskapsbate.
Geldigheid van die ooreenkoms.
[6] Die hof a
quo het tereg bevind dat die vennootskapsooreenkomste nie nietig was
vanweë die bepalings van a 3(b) van die Wet op die Onderverdeling
van
Landbougrond 70 van 1970 nie. Die artikel bepaal soos volg:
“3. Behoudens die bepalings van artikel 2 -
mag landbougrond nie onderverdeel word nie;
(b) gaan 'n onverdeelde aandeel in landbougrond wat nie reeds deur iemand besit word nie, op niemand oor nie;”
In die Engelse teks,
wat die getekende teks is, word gesê "no undivided share in agricultural
land not already held by any person,
shall vest in any person". In die
onderhawige geval het 'n onverdeelde aandeel in die plaas nie op die respondent
oorgegaan nie en
het die partye nie bedoel dat dit moes gebeur nie. Die partye
het juis besef dat dit nie gedoen kon word nie en het vir daardie rede
die plaas
slegs in die naam van die tweede appellant geregistreer. Die respondent het
gevolglik geen saaklike reg in die plaas verkry
nie maar slegs 'n persoonlike
reg teen die tweede appellant ingevolge waarvan die tweede appellant teenoor hom
verplig was om met
die plaas te handel as 'n vennootskapsbate (vgl Smith v
Tuckers Land and Development Corporation (Pty) Ltd; Tuckers Land and Development
Corporation (Pty) Ltd v Smith 1984 (2) SA 166 (T) op 172G; Van Heerden v
Pienaar supra 107C-F).
Toepaslikheid van die
kennisleer.
[7] Dit is gemeensaak tussen die partye dat die
eerste en die derde appellante te alle tersaaklike tye werklik kennis gehad het
van die
inhoud van die vennootskapsooreenkoms en die vennote se regte wat
daaruit voortgespruit het. Ingevolge die vennootskapsooreenkoms
was die plaas 'n
vennootskapsbate. Dit was nie handelsvoorraad van die vennootskap nie maar het
die substraat van die vennootskap
gevorm. Vir dié rede was een van die
regte wat uit die vennootskapsooreenkoms voortgespruit het, dat wat die vennote
onderling
betref, die tweede appellant nie die plaas kon verkoop sonder die
toestemming van die respondent nie (sien Pothier on Partnership
5 1 89-90; 3 2
67; Ex parte Steyn 1902 TH 184; en Holmes v Schoch 1910 TPD 700).
Dit volg dus dat die eerste en derde appellante te alle tersaaklike tye kennis
gedra het daarvan dat die tweede appellant slegs die
plaas met die toestemming
van die respondent kon verkoop.
[8] Die vraag ontstaan nou hoe die
eerste en derde appellante se kennis van die regte van die respondent hulle
posisie affekteer.
[9] In die geval van dubbelverkope word 'n beginsel
bekend as die kennisleer toegepas. Waar A sy goed aan B verkoop en daarna
dieselfde
goed verkoop en oordra aan C, wat bewus was van die regte van B, is B
geregtig op kansellasie van die verkoping en van die oordrag
van die goed, op
grond daarvan dat die verkoper en C geag word op 'n bedrieglike wyse teenoor hom
op te getree het (Tiger-Eye Investments (Pty) Ltd and Another v Riverview
Diamond Fields (Pty) Ltd 1971 (1) SA 351 (K) op 358 F-H). Werklike bedrog
word nie vereis nie. Blote kennis aan die kant van C van die bestaan van B se
vorderingsreg is
voldoende (Kazazis v Georghiades en Andere 1979 (3) SA
886 (T) op 893). Die verwysings na bedrog in sake van hierdie aard dien slegs
as aanknopingspunt in die regsisteem ter onderskraging
van die kennisleer
(Associated South African Bakeries (Pty) Ltd v Oryx & Vereinigte
Bäckereien (Pty) Ltd en Andere 1982 (3) SA 893 (A) (“ASA
Bakeries”) op 910E).
[10] Die kennisleer vind ook
aanwending in die geval van 'n voorkoopsreg. In ASA Bakeries op 907E-G
en 908B is beslis dat indien 'n verkoper in stryd met 'n voorkoopsreg 'n
koopkontrak met 'n derde aangaan en die koopgoed
aan die derde lewer kan die
reghebbende die koopgoed in die hande van die derde opvolg indien laasgenoemde
bewus was van die bestaan
van die voorkoopsreg. Van Heerden Wnd AR het in
daardie saak op 910H gesê:
"Dit blyk dus dat om van bedrog of mala fides binne die raamwerk van die kennisleer te praat - altans vir sover dit 'n verkoop in stryd met 'n voorkoopsreg aangaan - oorbodig is en moontlik verwarring kan skep. Die juiste siening na my mening is dat vanweë die kennisleer aan 'n persoonlike reg beperkte saaklike werking verleen word. Anders as 'n saaklike reg wat teen almal geld omdat oa by wyse van fiksie kennis daarvan aan almal toegeskryf word, het 'n voorkoopsreg dus saaklike werking slegs teen diegene wat daadwerklik daarvan kennis dra (of, moontlik, optree met dolus eventualis ten opsigte van die bestaan daarvan)."
[11] Die appellante het in
die hof a quo en voor ons betoog dat die kennisleer nie van toepassing
was nie omrede die respondent slegs 'n persoonlike reg teen die tweede appellant
gehad het en daardie persoonlike reg nie 'n ius ad rem acquirendam was
nie. In hierdie verband het hy gesteun op die beslissing in Vansa Vanadium
SA Ltd v Registrar of Deeds and Others 1997 (2) SA 784 (T) waar Mc Creath R
gesê het op 797C-F:
"Essentially, the doctrine is applicable not to rights which are of a purely personal nature but only to rights in personam ad rem acquirendam. . . .
The doctrine appears to have been extended in only two respects
- namely a right of pre-emption (for example McGregor v Jordaan and Another
1921 CPD 301) and an option to purchase land (for example Le Roux v
Odendaal and Others 1954 (4) SA 432 (N)."
Die hof a quo het
twyfel uitgespreek oor die korrektheid van die betoog maar het dit nie nodig
gevind om ↵ bevinding in die verband te maak
nie omrede dit van
mening was en beslis het dat, aangesien die plaas 'n vennootskapsbate was, die
respondent, onderhewig aan die skriftelike toestemming
van die Minister van
Landbou, met die actio pro socio oordrag van die plaas in die name van
die vennote kon vorder; dat die respondent gevolglik, onderhewig aan die
voormelde voorwaarde,
'n ius ad rem acquirendam gehad het; en dat die
kennisleer vir daardie rede van toepassing was. Die hof a quo het egter
fouteer om so te bevind. Die plaas is aanvanklik in die naam van die tweede
appellant geregistreer omrede die vennote spesifiek
ooreengekom het om dit so te
doen. Geen basis is aangevoer op grond waarvan die respondent, in stryd met die
ooreenkoms, sou kon
aanspraak maak op oordrag van sy aandeel in die plaas
nie.
[12] Soos blyk uit die hierbo aangehaalde passasie uit die
ASA Bakeries-saak is die onderliggende rede waarom aan die reghebbende
van 'n voorkoopsreg die reg verleen word om die koopgoed op te vorder in
die
hande van 'n koper, wat met kennis van die voorkoopsreg gekoop het, die feit dat
die koper onregmatig teenoor hom opgetree het
deur inbreuk te maak op sy
persoonlike reg teenoor die verkoper.
[13] Indien aan die persoonlike
reg van die reghebbende van 'n voorkoopsreg saaklike werking verleen word
teenoor diegene wat daadwerklik
daarvan kennis dra bestaan daar na my mening
geen rede waarom aan die respondent se persoonlike reg in die onderhawige geval
nie
ook sodanige werking gegee behoort te word nie. Die twee gevalle is analoog
aan mekaar. In die een geval kan die verkoper nie verkoop
sonder dat hy die
reghebbende geraadpleeg het en sy toestemming tot die verkoping verkry het nie.
In die ander geval moet hy ook
die reghebbende se toestemming tot verkoping
verkry in die sin dat die reghebbende moet aandui dat hy nie self die eiendom
wil koop
nie. 'n Verkoping in stryd met 'n verpligting om nie sonder die
toestemming van 'n derde te verkoop nie is ewe onbehoorlik as 'n
verkoping in
stryd met die regte van die reghebbende van 'n voorkoopsreg. Beide die
reghebbende van 'n voorkoopsreg en die persoon
wat 'n reg het dat 'n eiendom nie
sonder sy toestemming verkoop word nie het slegs 'n persoonlike reg en nie 'n
reg ad rem acquirendam nie. As die reg eersgenoemde beskerm is daar geen
rede waarom dit nie ook laasgenoemde behoort te beskerm nie. Ons reg is immers
'n lewende sisteem wat steeds ooreenkomstig die basiese beginsels daarvan
aangepas kan word om effektief te handel met nuwe situasies
wat opduik (vgl.
Willis Faber Enthoven (Pty) Ltd v Receiver of Revenue and Another
1992(4) SA 202(A) op 220D-E). Insoverre die kennisleer nog nie
toegepas is op 'n geval soos die onderhawige nie behoort dit, in die lig van die
voorgaande, uitgebrei
te word om ook die onderhawige geval te dek. Die hof a
quo het gevolglik tereg die koopkontrak tussen die eerste en tweede
appellante nietig verklaar en die derde appellant beveel om die plaas
aan die
tweede appellant terug te transporteer. Dit volg dat die appèl van die
hand gewys moet word.
[14] Die hof a quo het die appellante
gesamentlik en afsonderlik gelas om die respondent se koste van die geding,
asook die koste wat voorbehou is by
die verlening van interim regshulp aan die
respondent, op 'n prokureur-en-kliëntskaal te betaal. Die saak was geplaas
vir verhoor
op 27 November 1997 maar het vanweë die nie-beskikbaarheid van
regters eers op 1 Desember 1997 'n aanvang geneem. Dit is afgehandel
op 2
Desember 1997. Die tweede appellant was reeds op 27 November 1997 in verstek en
het nie deelgeneem aan die verhoor nie. Ingevolge
die interim bevel wat
hangende die afhandeling van die aksie verleen is, is die derde appellant
verbied om die plaas te vervreem
of om dit met 'n verband te beswaar. Alhoewel
die tweede appellant as 'n party gevoeg was in die aansoek vir interim regshulp
is
geen bevel teen hom aangevra of toegestaan nie en het hy nie die aansoek
geopponeer nie. Die tweede appellant se advokaat het betoog
dat die hof a
quo fouteer het om hom, gesamentlik en afsonderlik met die eerste en derde
appellante, aanspreeklik te hou vir al die koste van die verhoor
en vir die
koste van die aansoek vir interim regshulp.
[15] Die
verhoorregter het tereg uitspraak ten aansien van die vordering teen die tweede
appellant oorgehou tot aan die einde van die saak.
Uit die aard van die saak kon
die hof a quo nie eers teen die tweede appellant en daarna ten gunste van
eerste en derde appellante bevind nie. Die tweede appellant het dus
die
voordeel gehad dat hy hom kon verlaat op die eerste en derde appellante se
bestryding van die geding. Dat hy dit gedoen het
blyk uit die feit dat hy
tydens die appèl hom vereenselwig het met al die argumente aangevoer
namens die eerste en derde appellante.
As verder in ag geneem word dat die
tweede appellant selfs meer blaamwaardig as die eerste en derde appellante
opgetree het, kan
nie gesê word dat die hof a quo nie sy diskresie
wat die koste van verhoor betref, behoorlik uitgeoefen het nie. Ook wat die
aansoek vir interim regshulp betref
meen ek nie dat hierdie hof met die
diskresie wat deur die verhoorhof uitgeoefen is, kan inmeng nie. Ook in daardie
geval was dit
die tweede appellant se afkeurenswaardige gedrag wat die interim
aansoek genoodsaak het.
[16] Die appèl word gevolglik van
die hand gewys met koste.
_______________
P
E Streicher
Appèlregter
Smalberger, Wnd
AHR)
Zulman, AR)
Mthiyane, AR)
Chetty, Wnd AR) stem saam
[1]Die eerste, tweede en derde party is onderskeidelik die respondent, Duvenhage en die tweede appellant.